Anneli van Rooyen deur FAK vereer vir lewensbydrae

Anneli van Rooyen en Nicholis Louw (Foto: Verskaf)

Anneli van Rooyen en Nicholis Louw (Foto: Verskaf)

Die Suid-Afrikaanse musiekbedryf het so byna ʼn blink ster verloor toe Anneli van Rooyen in 2004 met a-tipiese trigeminale neuralgie gediagnoseer is en 2007 ʼn onsuksesvolle operasie, wat bedoel was om dié toestand te verbeter, ondergaan het.

Dié operasie het haar tot stilte gedwing, maar die sangeres het blý veg teen die “verlammende” siekte én haar eie gedagtes, en in 2015 het sy ná agt jaar vir die eerste keer weer in die openbaar gesing. Vrydag is sy deur die FAK vereer vir haar lewensbydrae tot Afrikaanse musiek.

Selfs die feit dat sy geruime tyd lank nie haar mond kon beweeg nie kon haar nie keer om musiek te maak nie – selfs al was dit net in haar hart, en dáárom is sy vereer.

Dié toekenning, wat sy ontvang het tydens die derde aflewering van die Afri-Duetfees in Pretoria, is ʼn prestige-toekenning vir besondere kultuurprestasie vir haar bydrae tot die bevordering van Afrikaanse musiek.

In haar loopbaan van langer as drie dekades het Van Rooyen meer as 20 toekennings ontvang. Haar eerste, die FAK-penning vir bevordering van die Afrikaanse liedjie, is in 1978, in haar matriekjaar, ook deur dié liggaam aan haar toegeken.

Dr. Danie Langner oorhandig Anneli se toekenning (Foto: Verskaf)

Dr. Danie Langner oorhandig Anneli se toekenning (Foto: Verskaf)

Hoewel sy ná die diagnose oortuig was dat sy nooit weer sou sing nie, het sy haarself én aanhangers verbaas toe haar jongste album, Nogtans sal ek sing,  in 2015 uitgereik is.

Dié album is ook vanjaar met ʼn Tempo-prys as beste gospel-album bekroon.

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, het voorheen, tydens ʼn geleentheid waar die sangeres deur Solidariteit Helpende Hand vereer is, gesê sy ontvang dié verering omdat sy almal om haar inspireer.

Daantjie Badenhorst, ʼn musiekresensent, het gesê die sangeres kan, ten spyte van haar swaarkry en stilte, in die bedryf steeds “met reg as een van die legendes van Afrikaanse musiek beskou word”.

Van haar treffers soos “Halleluja” en “Seënbede” is Vrydagaand deur verskeie kunstenaars uitgevoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jennifer JOnes ·

Pateties dat dit so lank gevat het. Sy is een van die bestes

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.