Anneli van Rooyen: ‘Nogtans sal ek sing’

Foto: Skermskoot uit die video

Foto: Skermskoot uit die video

As jy vir Anneli van Rooyen die eerste keer ontmoet, is dit haar sagte en stil gees wat jou eerste raak. Sy groet vriendelik en lag soos iemand wat vrede met haarself, en die wêreld het. Soos wat sy haar storie vertel, word dit baie duidelik dat dié vrede nie vanself gekom het nie, en dat sy ʼn moeilike pad moes stap om dit te verkry.

Agt jaar gelede het Anneli ʼn operasie ondergaan wat haar lewe onherroeplik sou verander. “Dit het so verskriklik vinnig gebeur – ek was in die operasiesaal met ʼn gesonde en singende mond, en ek het uitgekom met onomkeerbare senuweeskade.” Vir iemand wie se lewe en identiteit styf in musiek en sing vervleg is, was dit “ʼn crash van epidermiese proporsies”. “Voor dié gebeurtenis het ek altyd gesing – vir my budgies, my honde en die rose! En toe word ek baie stil.”

Luister gerus om te hoor hoe Anneli vertel van dié worstelproses.

As ’n mens terugkyk na jou lewe, verstaan ’n mens soms hoekom sekere dinge moes gebeur het, maar Anneli antwoord baie eerlik en sê dat sy nog nie verstaan hoekom dié ding met haar moes gebeur nie. “Ek kan steeds nie die sin daarvan insien dat so iets kon gebeur nie. Ek dink dit is met elkeen van ons so: Enigiemand wat soveel trauma, hartseer, moeite en terugslae beleef het, gaan vir jou op ʼn kol sê hulle het geen benul hoekom dit moes gebeur nie.”

Maar hoewel sy nog nie verstaan nie, het sy wel iéts uit die verskriklike gebeurtenis ontvang. “Wanneer jy die Here toelaat om in te kom in só ʼn trauma, kom daardie krag waar Hy sê ‘alles sal ten goede meewerk vir dié wat Jesus Christus liefhet’, want dan begin Hy werk wanneer jy Hóm toelaat en jy uittree.” Te midde van pyn, vrees en magteloosheid is Anneli terug in die musiekwêreld met haar jongste album, Nogtans sal ek sing.

“Daar gaan sit ek in die winter van 2014 – in die nag, lekker warm met my pajamas en my pantoffels. Ek het my kitaar nader getrek en eenvoudig uit my hart uit, so eerlik as wat ek kon, geskryf oor my belewenis, en daar kom ʼn liedjie! As ek nou terugdink, weet ek nog steeds nie hoe dit gebeur het nie. Wat ʼn genade om te beleef!”

Anneli het aanvanklik na mense in die musiekbedryf uitgereik om te hoor of hulle nie haar album Seënbede wil laat heruitreik nie, maar hulle het in soveel meer belanggestel en gevra of sy nie iets wou opneem nie. “Ek het geen selfvertroue of drome gehad nie, maar het myself hoor “ja” sê. Toe sy haar oë uitvee, was sy in die ateljee besig met opnames. “Hulle het soveel vertroue in my gehad – ek het geweet wat ek verloor het, maar nie een van ons het geweet wat ek nog oor het nie. Ons het opgeneem en toe dink ons – wat van nog ʼn liedjie? En toe kom daar nog een en uiteindelik is daar nege splinternuwe opnames!”

Anneli sê die nuwe album moet mense laat verstaan dat ons ʼn eindelose hoop het en nie ʼn hopelose einde nie. Anneli vertel wat sy met haar nuwe album wil vermag.

Lees gerus ʼn resensie oor Anneli se splinternuwe album hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wilma ·

Het Saterdag die CD gekoop en dis fantasties n baie diep CD! Sy is deur baie en dit weerspieel in haar liedjies! Soos die engelse sou se “Well done!”

Kallie ·

So baie respek vir haar, sy het nie laat pyn en terugslae haar onderkry nie, wat ‘n lieflike mens!

Anneke ·

‘n Vrou in elke sin van die woord. Al haar bewonderaars is verheug dat sy weer terug is met haar pragtige liedjies.

Elmarie Boshoff ·

Die album het skaars op die rak geland of ek het homgekoop danksy my vriendin wat by Musica in Kwagga Sentrum, Pretoria-Wes werk. Anneli, ek het die album al voos geluister en kan nog nie ophou nie. Om te dink deur watter pyn jy moes gegaan het tydens die opnames maak mens van nuuts af nederig en dan besef jy, my probleme is soos ‘n paar sandkorreltjies op die lewe se strand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.