Anneli van Rooyen vier haar verjaardag

Anneli-van-Rooyen

Anneli van Rooyen vier haar verjaardag op 25 Februarie. Foto: Argief.

Die legendariese Afrikaanse sangeres Anneli van Rooyen vier vandag haar verjaardag, en omdat sy lank laas ‘n nuwe album opgeneem het, is dit dalk goed om te kyk na wat sy tot dusver in haar loopbaan van meer as 30 jaar bereik het.

Anneli se loopbaan het in 1979 begin toe sy die ATKV se Crescendo-kompetisie gewen het. Ander voormalige wenners wat diep spore in die Afrikaanse musiekbedryf getrap het, is onder meer Rina Hugo, Randall Wicomb, Karin Hougaard en, meer onlangs, Jak de Priester. Haar eerste opname was Seemeeu, ‘n komposisie van Mynie Grov, wat sommer dadelik gewild geword het. Haar eerste album, Neem my saam, het in 1980 verskyn, en het ook Ek kan dit nie keer, waarmee sy Crescendo gewen het, ingesluit.

Dit was egter net die begin, want in 1982 sou haar groot deurbraak kom. Anneli het, op aanbeveling van haar pa, die Ruben Lennox-komposisie Sewe sakke sout, opgeneem, en op 30 April 1982 het sy tot Springbok Radio se Top 20 toegetree. Dit was die enigste Afrikaanse liedjie wat dit daardie jaar kon regkry; sy het die vierde plek gehaal en dertien weke op die Top 20 gebly. Lennox, ‘n onderwyser van Worcester, het later nog twee treffers vit haar geskryf, naamlik Wie ry saam en Rooi kitaar. Haar volgende album, Ek wil jou ken, sou ook ‘n paar treffers oplewer, hoewel sy nooit weer ‘n kortspeler op Springbok Radio se Top 20 sou hê nie. Die titelsnit was een van drie televisie-temaliedjies wat Anneli sou opneem; dit was die tema van die reeks Skoppensboer. Die groot treffer vanaf hierdie album was egter Neem my op vlerke, wat later ook deur Wasserfall en Jennifer Zamudio opgeneem is. Nog ‘n treffer was Eerste liefde, die eerste trefferliedjie wat Christa Steyn vir haar geskryf het.

Nadat Anneli die temaliedjie van die televisiereeks Cul de Sac geskryf het, het sy met nog ‘n wenner vorendag gekom. Die titelsnit van haar album Ek lewe sou seker haar grootste treffer sedert Sewe sakke sout word. Hoewel dié album in 1986 verskyn het, kon sy nie daardie jaar die algehele treffer van die jaar op die radio-musiekwedstrydprogram Afrikaanse Treffers behaal nie. Sy het dit egter twee jaar later reggekry; ‘n ongekende prestasie vir ‘n liedjie wat nie splinternuut was nie. Ironies genoeg is Ek lewe nooit as ‘n kortspeler uitgereik nie; as dit wel gebeur het, sou Anneli verseker nog ‘n Top 20-treffer gehad het.

Nog ‘n komposisie van Christa Steyn wat groot byval by die publiek gevind het, is Aan die einde van die reënboog, die temaliedjie van die gelyknamige radiodrama. Hoewel Ek lewe steeds gewild was, het Anneli in 1988 die album Soos ou vriende bekendgestel. Die titelsnit was die Afrikaanse weergawe van ABBA se treffer The way old friends do, en die ander twee treffers vanaf hierdie album was Ek mis jou so en Kolmanskop. Die vorige jaar het Innes en Franna die eerste reeks van die televisie-talentkompetisie Debuut gewen, en Anneli het die woorde vir hul treffer Ek weet my lewe lê nou voor, geskryf.

Tien jaar nadat Anneli die Crescendo-kompetisie gewen het, verskyn haar album Voel die lewe, met Jy is my 24 uur en Hierdie dag is myne as die groot treffersnitte. In 1990 tref Anneli weer die kol met die titielsnit vanaf haar album Ek glo. Hierdie album het egter ook twee ander merkwaardige snitte bevat; op Un jour un enfant het Anneli bewys dat sy ook Frans kan sing en Jy is in my hart het die speellys van Highveld Stereo, wat nie bekend daarvoor is dat julle baie Afrikaanse musiek speel nie, gehaal. Nadat sy twee jaar later die album Daar’s musiek vrygestel het, was Anneli ‘n tyd lank stil. Nadat die vervaardiging van langspeelplate gestaak is en CD’s die mark oorgeneem het, is ‘n versameling snitte van haar eerste twee albums onder die titel Eerste jare op CD uitgereik.

In 1996 verskyn Anneli se album Meer en meer. Die titelsnit was ‘n komposisie van Fredi Nest, wat later ook as sanger bekendheid sou verwerf met treffers soos Sê my, Getoor en Hey DJ. Op Bly net voor, waarvoor Anneli die Afrikaanse woorde geskryf het, het sy ook bewys dat sy tred gehou het met verwikkelinge in die musiekbedryf. Dit was ‘n byderwertse liedjie met ‘n lekker dansritme wat selfs in nagklubs sou tuishoort. Die volgende jaar is ‘n volledige trefferversameling, Treffers op versoek, vrygestel, en dit sou eers na vyf jaar goue status bereik. Snaaks genoeg is nie een van die snitte op Meer en meer hierop ingesluit nie. Anneli se laaste kommersiële album tot dusver, Weerklink, het in 2001 verskyn, en veral die titelsnit en Vaandel van my drome het treffers geword. Twee jaar later verskyn haar enigste Christelike album tot dusver, Seënbede, en sy wen die Geraas-musiektoekenning vir dié betrokke kategorie. In dieselfde jaar word Weerklink heruitgereik, met Hallelujah, een van die treffersnitte op Seënbede, as bonussnit. Laasgenoemde snit het later ook ‘n groot treffer vir Ronell Erasmus geword.

Ongelukkig kon Anneli, weens ‘n terugslag met haar gesondheid, nog nie weer nuwe musiek opneem nie, maar in 2005 het haar platemaatskappy ‘n lekker verrassing vir haar aanhangers gehad: Neem my saam; ‘n volledige versameling van drie CD’s waarop ‘n volledige oorsig van haar loopbaan voorgekom het, is uitgereik. Nie net haar treffers kom op hierdie versameling voor nie, maar ook ander snitte wat tot op daardie stadium moeilik was om in die hande te kry.

Anneli se bydrae tot Afrikaanse musiek het egter verder gestrek as net die musiek wat sy vrygestel het. Sy was jare lank die aanbieder van die musiekreeks Kerlig, vers en melodie, wat by die Staatsteater aangebied is. In hierdie program het sy nie net self gesing nie, maar ook talentvolle nuwe kunstenaars die platform gegee om hulself aan die publiek bekend te stel. Dan was sy ook die vervaardiger van Jennifer Zamudio se album, Hart se loper.

Die grootste eer wat ‘n Afrikaanse kunstenaar te beurt kan val, is wanneer jou musiek in die FAK-sangbundel opgeneem word. Toe die nuwe FAK-sangbundel in 2012 uitgereik is, is nie minder nie as nege van Anneli se liedjies ingesluit, onder meer Aai aai Meraai, Sewe sakke sout, Aan die einde van die reënboog, Ek lewe, Neem my op vlerke en Eerste liefde. Dit alles is ‘n bewys van die enrome bydrae wat Anneli tot Afrikaanse musiek gelewer het.

Hier is ‘n musiekvideo van Anneli van Rooyen se liedjie, Neem my op vlerke:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Hannelie ·

Daantjie!

Baie dankie vir die pragtige artikel oor Anneli van Rooyen! Ek is net nog nuuskierig oor een ding, hoe oud is Anneli vandag? Of het jy diè feit met ‘n doel so diplomaties verswyg?

Baie goed gedoen!

marita nunes ·

Annelie ek het vir 12 jaar gely aan trigiminale neuralgie. ek ken die pyn. ek ken die onuithoudelike seer en die moee pad. ek is geopereer in Krugersdorp Privaat hospitaal en ek is gesond. ek se net Dankie God. ek wil jou so graag bevriend, maar jy het my nog nooit aanvaar nie. sterkte vir jou vrou

marita nunes ·

ek het kommentaar gelewer. wat gaan aan? ek het aan trigeminale neuralgie gely vir 12jr. en ken die onuithoudende pyn en moeisame pad. ek wil jou so graag op fb bevriend. sterkte Annelie. ek is geopereer en ek is vry van pyn. dank die liewe Here

Riekie Gilliland ·

Marita Nunes…… sien jy het kommentaar gelewer. Kan jy assebluef my kontak? My man ly al 7 jaar aan die siekte en sal graag wil hoor wie die dokter was wie jou geopereer het.

Lezette ·

Baie geluk aan n pragtige vrou!
Jeanette, Lenette, Lezette, Danette, Raynette (Johanna & Johan)
Dankie vir die spesiale bederfie met mamma se verjaarsdag.

thebride ·

Baie geluk, Anneli!
Hierdie berig wemel van die spelfoute…

Gideon Roos ·

Daar is een van haar snitte wat ek probeer opspoor maar net nie kan kry nie. Dit is Vroegherfs. Ek onthou toe ek jonger was het my ma altyd na haar albym Sëenbede geluister en daardie liedjie sit nog altyd in my kop vas. Nadat ek Poësie op hoorskool gedoen het en hierdie gegid een van hulle was, wou ek so graag die snit opspoor en weer na luister. My ma het egter die CD misplaas en ek kry dit nêrens op die web opgespoor nie.

So hartseer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.