Anton Hartman-vleuelklavier vind tuiste by FAK

Carike Keuzenkamp en Ben Schoeman (Foto: Verkskaf)

Anton Hartman, Suid-Afrikaanse dirigent en musiekpionier, se historiese 123 jaar oue Bechstein-klavier het nou ’n tuiste by die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) in Pretoria gekry.

Hartman (1918-1982) word, behalwe vir sy enorme werk by die SAUK-simfonieorkes, onthou as die vader van die FAK-sangbundels wat op die klawers van dié einste klavier ontstaan het.

Hy was musiekdirekteur van die SAUK van 1964 tot 1967 en voltydse dirigent van die uitsaaikorporasie se simfonieorkes.  Hy het hom ook beywer vir die bevordering van Afrikaans in die operawêreld.

Hartman was ook die dryfkrag agter die totstandkoming van die Nasionale Simfonieorkes van die SAUK.

As lid van die FAK se musiekkomitee vir 36 jaar, waarvan die meeste as voorsitter, het hy reusewerk vir Afrikaanse musiek gedoen. Hy was instrumenteel in die samestelling van die FAK-sangbundels van 1961 en 1979 en word ook beskou as die vader van skoolmusiek in Suid-Afrika.

Ná Hartman se dood het die NG Gemeente Linden in Johannesburg sy Bechstein-vleuelklavier in 1983 bekom en hierdie pragtige instrument was vir jare ’n sieraad voor in die kerkgebou waar dit dikwels as begeleidingsinstrument vir gemeentesang, asook solo-instrument tydens ander geleenthede aangewend is. Hartman en sy vrou, Jossie, het dié klavier in sy boedel aan die NG Gemeente Linden bemaak.

(Foto: Verskaf)

Danksy die NG Gemeente Linden en geldelike bydraes van sy lidmate, Carike Keuzenkamp en haar man, Olaus, en Chris en Vera Schutte, het die historiese Hartman-klavier nou ’n tuiste by die FAK gekry.

Met die samesmelting van die NG Gemeentes Linden en Aasvoëlkop in 2018 het die FAK Hartman se klavier met sy kultuurhistoriese waarde bekom. ’n Doelmatige staanplek is by die FAK se hoofkantoor op die terrein van die Voortrekkermonument ingerig. Net buite die vertrek waar die klavier staan, is die FAK se Afrikaanse Liedjietuin wat op sigself ’n besondere kultuurervaring is.

Die lirieke en liedjies van bekende Afrikaanse kunstenaars word in hierdie tuin gedenk saam met rose wat na bekendes in die Afrikaanse kultuurwêreld vernoem is.

In hierdie liedjietuin sal die vleuelklavier van Anton Hartman in die toekoms weer gehoor word. Opelugkonserte op ’n gereelde grondslag word beplan.

Prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, het Hartman as die versinnebeelding van goeie musiek beskryf tydens die inwyding van die klavier.

“Die naam Hartman en goeie musiek was by ons eenvoudig sinoniem. Wanneer hy op uitsendings van die SAUK onder meer as dirigent gehoor is, het ons as kinders geweet hier is meneer Goeie Musiek aan die woord. Dit het ons natuurlik oneindig trots gemaak. Dit is vir die FAK ’n onmeetlike voorreg om sy nalatenskap te vier en ’n wonderlike wete dat ons erfgename van sy werk is,” het Goosen gesê.

’n Eietydse Suid-Afrikaanse legende, die wêreldbekende Ben Schoeman, het dié klavier op 24 Februarie met ’n opelugkonsert ingewy.

Schoeman het gesê hy het in Pretoria onder die nalatenskap van Hartman grootgeword omdat die musikale instansies, soos die orkeste en jeugorkeste wat Hartman gestig het en ook die musiek wat op die SAUK in daardie tyd gehoor is, ’n groot impak op sy opvoeding gehad het.

Mia Rich (née Hartman), ’n familielid van Hartman, het gesê: “Ek dink dis baie prysenswaardig dat die FAK die moeite gedoen het om die klavier te bekom. Ek hoop die klavier sal gelukkig hier bly. Ek is seker Anton Hartman sou baie trots daarop gewees het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lothar ·

Goeie tuiste vir so ‘n historiese klavier. Dis net jammer die Monument het so ‘n verpiepte rekenaarorreltjie gekoop.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.