Anton skryf temaliedjie vir nuwe rolprent

Anton-Goosen

Anton Goosen. Foto: Youtube.com

Nadat hy jare laas nuwe musiek uitgereik het, is die legendariese sanger en liedjieskrywer Anton Goosen byna gereed om ’n nuwe enkelsnit vry te stel.

Die rolprentweergawe van Jeanne Goosen se roman, ’n Pawpaw vir my darling, word op 8 Januarie 2016 vrygestel, en Anton het die temaliedjie daarvan geskryf. Anton vertel dat rolprentvervaardiger Koos Roets hom ongeveer ’n jaar gelede gevra het of hy kans sien om die temaliedjie van dié rolprent te skryf.

Volgens Anton het hy Jeanne se boek geweldig geniet, veral haar humor. Anton en Jeanne is nie familie nie, maar Anton sê hulle hou van mekaar. Hy vertel dat Jeanne lekker gelag het toe hy gesê het dat Jurie Els en Patricia Lewis dieselfde persoon in “drag” is.

Toe hy die draaiboek gelees het, vertel Anton, het hy besluit dat dié liedjie baie dieselfde as “Boy van die suburbs” moes wees, waarin die “zef”-kant van sake beskryf moes word, maar net met patos en deernis soos in die draaiboek. Koos Roets het voorgestel dat Anton die liedjie ’n blues-gevoel gee. In lyn met hoe Anton met onlangse opnames teruggekeer het na sy eie aardse klank, het hy dié liedjie ook só benader. Dit is tot op die been gestroop selfs nadat dit opgeneem is.

Die rolprent speel in 2003 in Frik du Preez-straat 24, Danville, in Pretoria af en vertel die verhaal van die lief en leed van die Beeslaar-gesin gesien deur die oë van hul straatbrak Tsjaka (met die stem van Tobie Cronjé), wat die hoofkarakter en storieverteller is. Die rolverdeling sluit bekende akteurs soos Sandra Prinsloo, Deon Lotz, Marcel van Heerden en Willie Esterhuizen in.

Hoewel ’n Pawpaw vir my darling eers in Januarie aanstaande jaar uitgereik word, sal dit vir die eerste keer vandag by die kykNET Silwerskermfees te sien wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.