Appel, die hardebaard en sagte hart

My spreekbuis is musiek en die Here praat met my deur musiek, sê Appel. (Foto: Theana Breugem)

Of dit nou in die stort, op die snelweg, langs die braaivleisvuur of in die bos is, dis die deurlopende gesprekke met God wat hom grondves en Sy woordsaad vrug laat dra, sê liedjieskrywer-sanger Christoph Kotzé.

My bloed kook, want die soveelste kuier in ’n sonkol op ’n klip is deur korona gekniehalter, afgeskaal tot kuberklets agter my kantoorkomper. Dit neem egter net ’n paar minute in Appel se geselskap, soos hy sedert sy graad 8-dae by Affies in Pretoria bekend staan, vir alle optieseveselgrensdrade om te vervaag.

Hy’t ’n welige baard en wysheid in sy woorde waarmee min ná net 33 winters kan spog. ’n Opregtheid wat agter die swart brilraam in sy oë skuil. Nederige hart op die mou van sy kamoefleerbaadjie.

Pleks van grootpraterig partytjie hou, is die onlangse bekendstelling van sy derde album, Hardwerkende man, én die mylpaal van meer as 80 miljoen digitale stromings van sy musiek vir hom eerder ’n geleentheid om oor sy eie gebrokenheid te besin en te gesels.

Windgat tot weerloos

(Foto: Theana Breugem)

“Ek is skaam vir die (vrot) Appel van ses jaar terug,” vertel dié man sonder formele musiekopleiding wat al op sesjarige ouderdom ’n melodie in die wind deur die motorruit kon hoor.

“Ek het geen respek vir ander of die lewe gehad nie; selfs in ’n stadium vir God gespot-sê Hy kan maar my arms en bene vat. Net nie my woorde nie.”

Minder as ’n week later, op die dag van sy rampartytjie, was hy in die Little Company of Mary-hospitaal in Pretoria met twee absesse op die brein. ’n 10%-kans op oorlewing. Verlam én stom.

Met die B-mineur-klank van die nimmereindigende horisontale lyntjie op die hartklopmonitor in sy ore en verblindende spierwit lig in sy oë, het hy ’n tweede kans gekry om sy voetval te verander.

“Ek moes opnuut leer loop en praat. Ek onthou hoe ek balletjies in ’n 500 ml-koeldrankbotteltjie moes gooi, maar ek kon nie. Ek kon nie eens my groottoon roer nie. Ek moes hardop lees, het die woorde gesien en verstaan, maar kon dit nie sê nie.”

Vroulief Sally-Ann, toe hoogswanger met Luna-Bella, hulle dogtertjie (nou 6), het soos ’n engel langs sy bed gewaak; gebid en hom gewas. “Sy’s ’n ystervrou, nie een vir blink dingetjies nie. Die ruggraat van ons gesin. Streng én sag. Leermeester van die liefde.” Nes wyle Lukas Maree se Die weduwee se kruik.

Dié liefde wat ’n mens nie kan optel, of soos in boekhou balanseer nie, laat Appel ook werklik die waarde van sy ouers waardeer. Pa Martin en Ma Elize, oud-Protea-netbalafrigter, bedryf sedert 2001 Raloka Ranch, die sport- en ontspanningsentrum buite Brits. Broer Altus (31) is ’n jagvideograaf wat die land platreis.

Dis húlle wat sy musiekdroomboom van kleintyd af water gee, weet hy vandag. Ma met Koos Doep se Kinders van die wind en Gebed op kitaar, Pa wat Led Zeppelin se Stairway to heaven en Queen se Show must go on op die draadloos speel.

“’n Groter wekroep om jou sake in orde te kry, kry ’n mens nie. Die drie maande in die hospitaal het my siening oor die lewe en roeping vir ewig verander; bestaan die woordjie ‘ek’ sedertdien nie meer in my woordeskat nie; besef ek die krag van die tong en waarom jy jou woorde moet weeg.

“My spreekbuis is musiek en die Here praat met my deur musiek. Ek is bitter dankbaar om te kan skryf én sing, want om met iemand anders se liedjies te ploeg, is soos om met ’n ander man se siel te sing. Ek kan geen erkenning vat vir enigiets nie. Die roem kom Hom toe. My gesondheid, gesin en geseënde loopbaan is nét genade.

“My ma spot altyd, maar dis die waarheid: Die kaal kolle langs hulle bed ís die plek waar sy my deurgebid het van ’n hart van klip tot ’n hart van vlees,” vertel Appel, wat die afgelope paar maande ook twee keer die Covid-19-dal moes deurkruis.

Gestroop om te saai

(Foto: Theana Breugem)

 Jy gaan dié skrywer van treffers soos Lei my na die water, Laurika se Wals, wals Willemien, Eden se Superhero, Theuns se Sal jy bly?, Bok se Land van melk en heuning en Jo se Skepe allermins op goue strande of as produkbemarker op Instagram betrap.

Nee, dis in die bos waar hy op sy stil manier, sonder om dit aan enige sosialemediaklok te hang, ’n verskil maak; sy “aromaterapie” adem. Nie Rick Astley nie, maar boer in murg en been. Voete vol Afrika-grond.

Appel is sedert verlede jaar saam met Adam Tas en Bakkies Botha ambassadeurs van Solidariteit Helpende Hand se HelpJag-projek. HelpJag voed bykans 8 000 kleuters en hul gesinne per dag danksy wildsvleisskenkings en het in 2020 sowat 30 ton vleis ingesamel. Meer as 10 ton wildsvleis is reeds vanjaar in die borde van behoeftiges bedien.

“Ek glo nie daarin om vir jouself te leef nie. Dis soveel lekkerder om te gee as om te ontvang. Daar is twee waarhede wat my anker. Die eerste is dat jy sterker op jou knieë as op jou voete is. Dis hiér waar jy jou identiteit in Christus vind en vasmaak,” sê Christoph wat “draer van Christus” beteken.

“Die tweede waarheid is dat ons hande bak en ons vingers oop moet wees. Die genade wat ons ontvang, stroom soos sand deur ons vingers. Dít wat deursyfer, is seën wat vir ander bestem is, en dít wat agterbly, is óns deel – en dis meer as genoeg vir vandag.”

Baie mense praat ’n groot game, maar doen min, sê hy. “Ek glo jou aksies moet boekdele spreek. Woordeloos. Daar’s nie plek vir maskers, mooibroodjies bak en make-up in die regte lewe nie. Net moue oprol, want wat jy saai, sál jy maai!”

Appel het te midde van die eerste harde inperking saam met Nonna’s Flower Shop (Sally-Ann se blommewinkel) ’n Blomme vir brood-projek begin en meer as 16 000 brode vir behoeftiges ingesamel; ’n paar duisend brode uit sy eie sak vir ander gebreek. “Ons het ook meer as 35 ton vars vrugte en groente versprei.”

Vreesloos geanker

(Foto: Theana Breugem)

Appel ís, nes sy jongste album se titel, ’n hardwerkende man. Benewens sy hart vir liefdadigheid, is daar ’n nuwe klerereeks in die pyplyn, vellies én ’n rumreeks op die rak. Hy lag toe ek uitvra oor die donker, skuimerige Appel Jagters Rum en goudkleurige, speseryryke Appel Jagters Gees. “Ek is seker die enigste ou met ’n drankhandelsmerk wat nie ’n druppel drink nie.”

Hy vertel opgewonde hoe die manne van Onca 4×4 sy splinternuwe Cruiser (met sy 300 ekstras) in ’n kamp- en jagdroomwa omskep het. Dan verklap hy geheimsinnig dat hy onlangs sy eerste kunstenaar by Appel Musiek geteken het. “’n Bekende Afrikaanse aktrise,” is egter al wat ek uit dié woordmeester kan wurm.

Dis vir Appel belangrik dat Afrikaans bevorder word en vir die volgende geslag behoue bly. “Afrikaans kán relevant, diep én lekker wees.” Soos met sy treffer Dina, dink ek. Appel het die feitlik vergete volksliedjie, Ek soek na my Dina, uit die FAK-sangbundel soos ’n fyn, goue draadjie in ’n moderne onderbaadjie ingeweef.

Oud en jonk skoffel ’n storm los op sosiale media – van die sneeu in Sutherland tot sitkamers in Sandton. “Ek het reeds honderde video’s ontvang van paartjies, pêlle, pa’s en dogters wat op die maat van Dina dans. Die sukses van dié liedjie het werklik my stoutste verwagtings oortref.

“Ek dink Covid-19 het ons enersyds nader aan mekaar, aan ons mense gebring, en andersyds die manier verdiep hoe ons na lirieke luister. Daar is ’n baie sterker band met musiek, ’n nostalgie, want dis iets wat ons te midde van soveel onstuimigheid beter laat voel. Dít en ’n onwrikbare geloof, ondanks paniek en plundery, vrees en verwoesting.”

Die woorde “Moenie bang wees nie” kom nie verniet 366 keer in die Bybel voor nie, sê hy toe ons groet. “Dis my rots, hou my staande in dié stormsee. Elke dag van die jaar. In onsekere tye moet ons juis ons afhanklikheid van Hom herbevestig, onsself herinner: sonder Hom het ons niks. Is ons niks.”

  • Hierdie artikel is met die vergunning van Flink geplaas. Flink is die FAK se maandelikse aanlyn tydskrif. Dit spog deesdae nie net met nuus van dié kultuurorganisasie nie, maar ook van die Voortrekkermonument en Die Erfenisstigting. Dis nou buiten vir al die ander lekkerleesstories, boekresensies, resep en CD-resensie. Klik hier om die Julie-uitgawe van Flink te lees.

Voorblad van die tydskrif Fink. (Foto: Theana Breugem/Flink)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.