Appel se lied ‘ʼn ode aan die boere’

appelAppel, die Afrikaanse sanger en liedjieskrywer wat onlangs saam met Bok van Blerk die prettige liedjie “Lemoene” geskep het, is terug met nog ʼn hartroerende liedjie getiteld “Boer loop deur my are”.

Appel het aan Maroela Media vertel hy dra die inspirasie vir die liedjie al ʼn hele ruk met hom saam. “Ek het buite Brits grootgeword by ʼn sportskool wat aan my ouers behoort. Ek het baie tyd op pelle se buurplase deurgebring en geluister hoe die ou ooms praat oor die Afrikanervolk en die boerdery.”

Hy skryf gereeld musiek en het onlangs getref met “Lei my na die water” en “Vroumens”, maar het die afgelope ruk ʼn hunkering gevoel om iets te skryf wat hom persoonlik raak. “Dan sal jy werklik ʼn verskil maak,” sê Appel.

“Grond is lewe en God is lewe. Ek dink dit is hoekom die boere so naby aan die grond wil wees, want dan is hulle naby aan God. Ek voel dikwels hulle het ʼn direkte lyn na Hom nodiger as enigiemand anders. Hulle het nie ʼn mensehulpbron-departement by wie hulle kan gaan kla nie – dit is net die Oubaas met wie hulle praat.”

Toe hy die lied klaar geskryf het, het Johan Vorster van Inhoud Huis vir hom gesê dit is ʼn “massiewe liedjie”. “Ek sal dit nooit self só kan beskryf nie,” keer Appel, “want dit is die reaksie van die mense wat dit luister wat dit bepaal.”

Hy vertel hulle het die lied vir ʼn paar van sy vriende wat boer, gestuur nadat dit opgeneem is. “Dit het toevallig gebeur net ná die kwessie van grondonteiening sonder vergoeding ter sprake gekom het. Een pel het my laat weet hulle het almal die vorige aand gesels oor hoe hulle maar landuit wil vaar en gaan boer op ʼn ander plek, of enigiets gaan doen op ʼn ander plek.

“Hy was moedeloos, maar die oomblik toe hy ‘Boer loop deur my are’ geluister het, het hy weer hierdie ongelooflike lus vir boerdery in hom, en hoop om weer aan te gaan. As dit al is wat die lied vir een boer doen, is dit genoeg vir my.”

Appel sê hy dra die lied op as ʼn ode aan die boere van Suid-Afrika. “Daar word nie elke dag besef watse uitwerking boere en boerdery op dié land het nie. Inteendeel, ek dink dit is die kern van Suid-Afrika.”

Appel vertel die die musiekvideo is verfilm op ʼn buurplaas van sy ouers. “Ons het in die landerye geskiet. Daar is ʼn baie sterk storielyn agter die musiekvideo. Die passie van die kleinseun vir sy oupa se grond kom sterk deur in die video. Toe ons die video vir die eerste keer kyk, was daar nie ʼn droë oog in die kantoor nie.”

Hy sê daar is ʼn nostalgie wat deur die lied ontlok word. “Maak nie saak waar jy in Suid-Afrika sit nie, êrens het jy ʼn oupagrootjie of ʼn oupa wat ʼn boer was. Dit loop sterk deur ons are. Maak nie saak waar jy sit nie, of dit nou in die verkeer in die stad is of op jou trekker in die lande, die liedjie sal jou laat hoendervleis uitslaan.”

“Boer loop deur my are” is digitaal op iTunes beskikbaar.

As jy teen grondonteiening is, voeg jou naam by AfriForum se versoekskrif aan die internasionale gemeenskap deur jou naam te SMS na 45113. Elke SMS kos R1.

Appel – Boer loop deur my are (promo)

{KYK} Hier is 'n voorsmakie van APPEL se nuutste enkelsnit #BoerLoopDeurMyAre se musiekvideo wat Vrydag vrygestel word! Kry NOU die liedjie hier: https://lnk.to/Appel-BoerUniversal Music South Africa InHouse Agency

Posted by In Afrikaans on Friday, March 16, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stunning ·

Stunning Appel, dit klink goed en lekker om na te luister.

Petro ·

Ek bewonder ons boere. Hulle is bevoreg om so na aan die grond te leef en natuurlik baie van hulle wat met diere boer. Ek kan nie myself in dink dat daar ‘n boere is wat God nie in Sy wonderlike kan sien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.