Christoph Kotzé, die man wat in die Afrikaanse musiekbedryf bekendstaan as die geliefde sanger en liedjieskrywer Appel, se splinternuwe musiekvideo vir die enkelsnit “F250” word vandag uitgereik.
Dit is die tweede enkelsnit van sy vyfde vollengte album, Patriot, wat in November verlede jaar uitgereik is. Die eerste enkelsnit, “Nonna”, het in die eerste posisie op die Maroela Media Afrikaanse Top-20 geboer.
Appel beskryf “F250” as ʼn “blues-rock-nommertjie”. “Alles wat ʼn boer, jagter of ʼn man van die veld hoendervleis gee, is in dié liedjie vasgevang,” vertel hy.
Hy vertel die musiekvideo bevat twee elemente: Sy optrede by die Pukke se jool op Potchefstroom vroeër vanjaar en dan alles wat ʼn glimlag op sy gesig sit. Die video is vervaardig deur Dapper Media.
“Groot bakkies, jagwapens en braaivleis,” sê Appel.
Hy vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media Patriot is ʼn meer gedrewe album as die voriges, met baie sterk melodielyne en lekker saamsing-kore.
Patriot vaar sedert sy uitreiking baie goed op radiostasies en op speellyste, maar Appel sê die eer kom sy Skepper toe.
“Dit is net die Here se genade dat die album so goed doen. As ek hom sien bo aan speellyste, bars ek amper in trane uit, want ek weet dit is net die Here. Ek kan net dankie sê.”
Kyk hier na die musiekvideo vir “F250”:
Appel jy is die beste!!!!
Dis nou mooi, dis nou baie mooi!