‘Aroma’ – Coffee snobs

Foto: facebook.com

Foto: facebook.com

Een van die opwindendste nuwe groepe wat verlede jaar op die Afrikaanse musiektoneel verskyn het, is Coffeesnobs, wat hoofsaaklik uit die egpaar Marius en Vernette Wessels bestaan.

Nadat hul debuutalbum, Storm, verlede jaar uitgereik is, het hulle twee radiotreffers gehad, en nou het hulle besluit om dié treffers uit te reik saam met ’n paar nuwe snitte onder die titel Aroma.

Met die eerste snit, “Sê my”, kom ’n mens onder die indruk van die eerlike en opregte lirieke, en baie meer om die lyf het as die meeste kommersiële musiek wat deesdae op die radio gehoor word. Daarby het Vernette ’n baie goeie altstem waarna ’n mens lank kan luister.

Die eerste Engelse snit op die album is “I Don’t Cry”, met ’n lekker country-klank.

Die een snit waarmee hulle die publiek se aandag getrek het, is “Eie land”, wat ’n groot treffer op verskeie radiostasies geword het. Dis maklik om te verstaan waarom hierdie liedjie so gewild geword het: Die lirieke is positief en hopelik sal dit dié wat dit oorweeg om te emigreer, twee keer laat nadink. Die kitaarwerk op die volgende snit, “Die storm”, is uitstekend en die lirieke het ’n Christelike strekking, maar dít behoort nie te keer dat dié snit radiolugtyd sal kry nie. Die volgende snit, “Lucky”, is nog een van die hoogtepunte in die album, en die boodskap is dat dit die eenvoudige dinge in die lewe is wat saak maak.

Die huidige enkelsnit in die album is “Skuiling”, nog ’n snit met ’n Christelike strekking. Hopelik sal dit net so ’n groot treffer soos “Eie land” wees, veral omdat die lirieke ’n mens laat nadink. In ʼn snit soos “Monday” kom ’n mens agter dat Vernette eintlik ’n baie goeie vokale reikwydte het, en die boodskap van die lirieke is dat ’n mens net moet vasbyt wanneer dit swaar gaan.

In die volgende snit, “Dromer”, sing hulle van die ontnugtering van mense wat groot drome gehad het, maar wat moes aanvaar dat daardie drome verydel is. Nogtans hou hulle nie op om te droom nie.

Daar is min liefdesliedjies in die album. “Your Love” is een daarvan.

“Falling Back” is nog ’n snit met ’n Christelike strekking, maar wat verdien om op die radio gehoor te word.

“Kinders van die wind” is al dikwels en deur verskeie kunstenaars opgeneem, maar Coffeesnobs se weergawe is een van die bestes. Dié liedjie pas perfek by Vernette se stem. Die feit dat Vernette van die lae note nie kan bykom nie, maak nie saak nie, want daar is min kunstenaars wat dit buitendien sou kon regkry. Hierdie snit is nog een van die enkelsnitte, en hoewel radiostasies dalk gekritiseer kan word omdat hulle hierdie snit, eerder as een van die oorspronklike komposisies, speel, sal dit verdien om ’n treffer te word.

“Utopia” is nog ’n snit met positiewe lirieke, hoewel mense dit dalk as naïef kan beskou. Hoe ook al, dis goed om te sien dat daar mense is wat positief oor Suid-Afrika is te midde van al die probleme wat ons land ondervind. Die boodskap is dat gebed en geloof die antwoord is.

Dis goed dat Coffeesnobs se musiek nou eindelik aan ’n groter gehoor blootgestel word. Hulle het nog altyd gewys dat hulle een van ons land se beste groepe is, en daar is geen rede waarom hulle nie baie gewild kan word nie. Hierdie album is beslis een van die bestes wat tot dusver vanjaar uitgereik is en kan nie sterk genoeg aanbeveel word nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Daan Erasmus ·

Koffie Kapitaal. Soos Oom Jan Spies sou gesê het. Ryk. En lekker.

Theuns ·

Pragtige mense, pragtige musiek in my eie mooi bosveld! Groete en voorspoed!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.