As jy weer skryf

Chris Chameleon

“Ses jaar na die verskyning van my eerste Afrikaanse album, ‘Ek Herhaal Jou’ – `n toonsetting van Ingrid Jonker se gedigte, put ek nog dieselfde inspirasie, koester ek nog dieselfde bewondering en voel ek my nog aan dieselfde emosionele onstuimigheid onderworpe met die lees van haar gedigte as daardie eerste dag toe ek haar werk gelees en werklik verstaan het.” – Chris Chameleon

In 2005 het Chris Chameleon die Afrikaanse musiekbedryf oorrompel met sy nou-ikoniese, eerste Afrikaanstalige album –“Ek Herhaal Jou”. Nou is Chris terug met ‘n album wat gemaklik voortbou op die kreatiewe energie wat Ingrid Jonker se lirieke in hom aangewakker het. “As Jy Weer Skryf” is ‘n eklektiese, musikale meesterstuk, vol van Chris se kenmerkende, opgewekte oorwurm-deuntjies, afgewissel met snitte wat ook vreesloos die sombere kant van Jonker se kunstenaarskap ondersoek. “As Jy Weer Skryf” spreek duidelik van Chris se evolusie as kunstenaar oor die afgelope ses jaar. Die album het ‘n voller klank, meer komplekse instrumentasie en vele van die eiesoortige vokale toertjies waarvoor Chris sedertdien soveel bekendheid verwerf het. “As Jy Weer Skryf” is in Maart 2011 by Bellville Studios onder leiding van bekroonde musiekregisseur Theo Crous opgeneem. “Ek Herhaal Jou” jou was `n baie gestroopte album”, sê Chris. “As Jy Weer skryf” het ‘n voller klank en is meer divers. Daar is selfs ‘n rock-, asook ‘n kinderliedjie opgeneem.”

Selfs met die verskeidenheid van musikale style en klanke op die album, is Chameleon se kenmerkende sangstyl onmiskenbaar en plaas hy sy unieke sang-stempel duidelik op elke liedjie. Die vloeiende aard van sy suiwer falsetto word af en toe ook ingespan (al die agtergrondstemme is self deur hom ingesing) en herinner die luisteraar aan die uitsonderlike vermoë van hierdie Afrikaanse stem wat min ander hom kan nadoen. Luister veral uit vir Chris se kenmerkende, hoogs-oorspronklike aanslag in sy verwerkings van geliefde Jonker-gedigte soos Kabouterliefde, Tokkelos en Ek Het Gedink. Van roerende ballades tot opgeruimde deuntjies, dìe radio-vriendelike album is beslis ‘n moet vir alle aanhangers van Ingrid Jonker se digkuns, vir Chris Chameleon se magdom bewonderaars, asook vir alle liefhebbers van kwaliteit Afrikaanse musiek.

Oor die musiekvideo vir “As jy weer skryf”:

Chris Chameleon leer woorde agtestevoorom vir nuwe video “As Jy Weer skryf.” Chris Chameleon het onlangs die winterkoue aangedurf om sy nuwe musiek video, “As Jy Weer Skryf” in Kommetjie te gaan skiet. Die video is die titelsnit van sy nuwe Ingrid Jonker album en is pas op televisie uitgereik. Die buitengewone video weerspieël Chris se unieke manier van dinge doen. “Met Ingrid Jonker se tragiese lewensverhaal in gedagte wou ek vir ‘As Jy Weer Skryf’ ‘n interessante video versin wat ‘n perspektief daarop kan werp. My plan was as volg: neem die lied teen twee keer die snelheid, agterstevoor op en leer dit uit die hoof!”, verduidelik Chris.

Die idee vir die verfilming was dat Chris die lied teen twee keer die spoed agterstevoor sing terwyl hy agterstevoor langs die strand afstap. Chris retireer dan en dompel himself in die water, gevolg deur hom wat dan uit die water kom en verder by die strand afloop. Chris verduidelik verder: “Wanneer ‘n mens dit dan teen die normale spoed ‘agteruit’ (wat nou dus vorentoe sal wees) speel, dit sal lyk asof ek in stadige aksie beweeg terwyl ek teen normale spoed sing. Dis ‘n redelik verwarrende waarneming vir die kyker. Nog meer verwarrend is die feit dat ek sal nat begin, in die see instap, myself in die water dompel en dan droog herrys!”

Die simboliek hieragter is redelik voor-die-handliggend; waar Ingrid in die water ingegaan het om vir altyd te verdwyn, het haar nalatenskap droog verrys om vir ewig te bly voortbestaan. Toe Chris hierdie idee gekry het, het hy nie besef hoe moeilik dit in praktyk gaan wees nie. Om die vinnige gebrabbel van n agteruitlied te leer is nie ‘n maklike taak nie; omdat dit geen sin maak nie het Chris geen verwysingsraamwerk gehad om dit te onthou nie. Dan was dit ook nog net mooi in die middel van die winter se eerste strawwe koue front in die Kaap met die verfilming van die video. “Ek het dit by Kommetjie geskiet en moes 7 keer (tja, n bietjie wolraad woltemade daar..!) in die water ingaan voor ons die skoot kon kry wat ons nodig gehad het. Dit was ook belangrik dat die hele video in een skoot verfilm moes word, dus geen ruimte vir foute nie! Toe ek die eindresultaat sien was ek regtig baie bly,” sê Chris.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anoniem ·

‘n Wonderlike CD! Ek het dit onlangs gekoop en kan nie anders as om oor en oor daarna te luister nie. Ingrid het net ‘n manier gehad om dinge te sê. Welgedaan Chris met nog ‘n goeie Ingrid-CD.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.