Asemrowend- Leon Ferreira

AsemrowendDit is nou al 21 jaar sedert Leon Ferreira sy eerste album vrygestel het, en sedertdien het hy serker een van ons land se gewildste sangers van Christelike musiek geword.

Hy het pas sy eerste album in vyf jaar, naamlik Asemrowend, vrygestel, en volgens hom is dié album in drie dele verdel; nuwe oorspronklike Afrikaanse liedjies, nuwe opnames van Afrikaanse liedjies wat op sy vorige albums verskyn het en ‘n paar Engelse liedjies. Die titelsnit is een van Leon se nuwe komposisies, en reeds besig om ‘n treffer te word. Radikaal inspireer ‘n mens om roekeloos te glo, en God vir alles in jou lewe te vertrou. Ongetwyfeld sluit hierby aan; hierin sê hy dat ‘n mens God sonder voorbehoud kan vertrou. Healing rain is die eerste Engelse snit op die album; dit was die titelsnit van een van die bekende internasionale Christelike sanger Michael W. Smith se albums, en Leon se weergawe daarvan is baie goed. Die volgende snit sal jou dadelik laat saamsing. My pa is die Koning is sonder twyfel Leon se grootste treffer tot dusver, en daarom kan ‘n mens verstaan hoekom hy dit weer ingesluit het. Daar sal egter diegene wees wat die oorspronklike opname verkies.  Die wenner in jou is nog ‘n snit wat Leon al vantevore opgeneem het, maar hierdie keer is die nuwe opname beslis beter. Skepe is ‘n pragtige snit, waarin hy sê dat ‘n mens nie bang moet wees om uit jou veilige omgewing te beweeg nie. In Groen en blou planeet sing hy van God wat oor die skepping regeer.

‘n Hart vir hierdie land was die titelsnit van die album wat Leon in 1998 vrygestel het. Die woorde is nog net so toepaslik as destyds, en daarom is dit goed dat hy dit weer opgeneem het. Miskien is dit tyd dat mense opnuut daarna luister, want ons land het beslis ‘n boodskap van hoop nodig.  In Stomgheslaan sing hy van die krag en vrede wat die Here ‘n mens gee. Oorverdowend is ‘n pragtige loflied tot eer van die Here. Bring you home is die enigste Engelse snit op die album wat Leon nie geskryf het nie, en hierin sê hy dat jy nooit alleen is nie, maar God jou altyd sal help. My hart  sal altyd is ‘n lekker saamsingliedjie wat ‘n treffer behoort te word.  Die Kaapse sanger Billy Paulsen het Môre sal die son weer skyn al in die 1980’s geskryf en dit is ‘n boodskap van hoop vir enigiemand wat dalk moedeloos voel.  Die laaste snit is baie bekend: Don Francisco is een van die bekendste kunstenaars op die Christelike musiektoneel, en Jesus is the Lord of the way I feel is seker een van sy grootste treffers, as ‘n mens dit kan sê. Dit sal jou sommer dadelik laat saamsing, maar sommige mense sal Don Francisco se akoestiese weergawe verkies. Hoe ook al, dis goed dat Leon dit opgeneem het.

Met hierdie album besef ‘n mens maar net weer dat Leon deur die jare geweldig as kunstenaar verbeter het. Met sy eerste paar albums het hy dalk te hard probeer om sy musiek op ‘n jong gehoor te mik, maar hy het intussen só as kunstenaar ontwikkel dat dit nie meer nodig is nie. Dis goed dat hy terug op die musiektoneel is, en hopelik sal ‘n mens nie nóg vyf jaar vir ‘n nuwe album hoef te wag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Geen kommentaar

Antoinette Engelbrecht ·

Wil net se Leon Ferreira se Asemrowend is een van die beste Geestelike CD’s. Ek het hom by Loof Hom Innibos 2012 gesien toe het hy vir ons voorskou gegee. Sal daarvan hou as hy ‘n dvd met die liedjies kan vrystel. Briljant

Daantjie Dinamiet ·

Antoinette; jy weet seker dat Leon ook nou deel is van Manne wat Glo. Ek stel voor dat jy hulle gelyknamige CD dadelik by jou versameling voeg; dit is die beste Afrikaanse Chriselike CD van die jaar!

Bertie Koen ·

Daar is absoluut geen mooier lirieke as die van ONGETWYFELD nie; ONGETWYFELD is absoluut my gunsteling; Van die eerste keer dat ek Leon sien optree het [dis donkiejare terug], verras hy sy luisteraars elke keer. Ongetwyfeld.

Jesusliefde,
Bertie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.