ATKV-Oesfees vier 10 jaar!

Die wasgoedlyn. Foto: Verskaf

Die wasgoedlyn. Foto: Verskaf

Die ATKV-Oesfees op die lieflike plaas Solms-Delta naby Franschhoek word vanjaar vir die tiende keer aangebied. Tydens dié fees vier die plaaswerkers en eienaars die insameling van die oes saam met duisende ander musiek-, kos- en kultuurliefhebbers.

Die ATKV-Oesfees het in 2008 as ’n klein plaasbyeenkoms begin en het oor die jare ’n hoogtepunt op die Suid-Afrikaanse kulturele kalender geword wat selfs internasionale belangstelling lok.

Die musiekprogram verseker ’n verskeidenheid: van eg inheemse, ongekunstelde talent van die Franschhoek-vallei tot optredes deur van ons land se bekendste kunstenaars. Die Music van de Caab-projek, geborg deur Solms-Delta en die Boschendal-landgoed, streef daarna om die uiteenlopende, musikale erfenis van die landelike Kaap te bewaar, onder meer deur die aanmoediging van plaaslike musikante.

Bekende groepe en top-musikante wat vanjaar op die verhoog gaan wees is die Radio Kalahari Orkes, Manouche, Brain Cloete, Churchil Naudé, Die Wasgoedlyn, Akkedis, Hemelbesem en Yoma, Les Javan, Riku Lätti, Bacchus Nel, Jackie Lätti, Nick Turner en Tribal Echo.

ʼn Spesiale hoogtepunt vir die tiende herdenkingsfees vanjaar, is ʼn optrede deur die wêreldbekende African Jazz Pioneers. Kyk ook uit vir die ATKV-Rieldanskampioene wat elke jaar vastrap dat die stof so staan en die gehoor aan hul voete het. Vanjaar se rieldansoptrede is deur die 2016-wenners in die junior kategorie: die Betjies van Betjiesfontein.

Tradisionele Kaapse geregte soos waterblommetjiebredie, braaivleis, Kaapse kerrieafval en koeksisters word verkoop asook ’n verskeidenheid van Solms-Delta se wyne.

Mark Solms van Solms-Delta sê oor dié tienjaar-mylpaal: “Toe ons in 2008 vir ons eerste Oesfees saam met ons plaaswerkers bymekaargekom het, was ons nie seker hoe dinge gaan verloop nie. Ons deel soveel in terme van taal, kultuur, musiek en kos en ons het nie in ons wildste drome gedink dat hierdie fees tien jaar later so groot en so lekker sou wees nie. Ons vier en deel met trots ons liefde vir dit wat ons verenig in hierdie lieflike land.”

“Die ATKV se doelwitte is om Afrikaans te bevorder en om ’n kultuurtuiste vir Afrikaanses te bied,” sê Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep. “Afrikaans is een van die sterkste inheemse tale in Afrika en skep uitsonderlike geleenthede vir nasiebou, vir ontwikkeling en om die Suid-Afrikaanse landskap te laat gedy. En om dit saam met vennote te kan doen maak die potensiaal van sukses selfs beter. Daarom is die samewerking met Solms-Delta vir die ATKV ’n uitstekende geleentheid om Afrikaans te vier en om doelwitte in dade te omskep.”

Toegang:

  • Spesiale prys indien kaartjies voor 14 Februarie gekoop word: R99
  • Kaartjiepryse vanaf 14 Februarie tot 24 Maart: R120
  • Kaartjies by die hek op dag van die fees: R150
  • Kinders, twee tot 12 jaar: R40
  • Kinders jonger as 2 jaar: R1. Elke kind kry ’n feesbandjie sodat die organiseerders weet presies hoeveel mense en kinders op die perseel is.

Daar is ook ’n spesiale, veilige gebied vir kinders wat deur Cre8tive Kids bestuur word. Ouers kan hul kinders hier inteken en ’n bekwame span sal sorg vir lekker speletjies en ander prettige aktiwiteite om die kinders besig te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.