Atterbury-teater vier dekade van kuns

Die Atterbury-teater. (Foto: Facebook)

Op 18 Mei 2011 het die Atterbury-teater in Pretoria die eerste teatergangers verwelkom. Die verhoog is ingewy met die musiekblyspel Stuur groete aan Mannetjies Roux. Al 24 vertonings is uitverkoop en so is ʼn nuwe era in die Suid-Afrikaanse teaterwese ingelui.

“Die Atterbury-teater vier hierdie besonderse mylpaal met diep dankbaarheid vir elke kunstenaar, teaterganger en tegnikus wat, te midde van talle uitdagings, aanhou om in die voortbestaan van die kunste in Suid-Afrika te glo en dit ruimhartig te ondersteun,” sê Jané Roets, korporatiewe bestuurder van die teater.

In die afgelope dekade is meer as 2 880 vertonings, produksies en funksies in die teater aangebied – dit beteken dat nagenoeg 865 670 mense sedertdien die teater besoek het.

Die afgelope 10 jaar is ʼn legio produksies en funksie hier aangebied: Van musiekproduksies en verhoogstukke met nasionale en internasionale kunstenaars; skool- en dansproduksies; skoonheid-, musiek- en gimnastiekkompetisies; korporatiewe funksies en gala-aande tot aansitetes. Daar was selfs al ʼn troue en ʼn albumbekendstelling waar gaste by tafels op die verhoog kon aansit om die teater vanuit ʼn ander perspektief te ervaar.

Voorportaal van die Atterbury-teater in Pretoria. (Foto: Verskaf)

Volgens Roets word die teater as een van die beste teaters in die land beskou en bied veral aan kunstenaars in Gauteng ʼn wêreldgehalte ruimte.

Benewens produksies is dit ook ʼn gewilde lokaal vir konferensies en korporatiewe funksies. Die teater huisves voorts ʼn uitmuntende opname-ateljee met ʼn rits plaaslike en internasionale projekte wat hier voltooi is.

Aan die begin van 2019 is die teater opgegradeer en die aankoop van ʼn splinternuwe Model-C Steinway & Sons-konsertvleuelklavier het die kroon op dié opgradering gespan.

Tydens die nasionale inperking het die teater die digitale sfeer betree in die vorm van ’n televisie- en musiekateljee waar aanlyn konserte opgeneem en uitgesaai is. Die heel eerste konsert was ʼn regstreekse uitsending met meer as 120 000 kykers van reg oor die wêreld. Die aanlyn konsertreeks het 39 vertonings opgelewer wat nou in die digitale biblioteek beskikbaar is. Die teater is nou ook toegerus om regstreekse stromingsdienste vir enige funksie te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.