Ballyhoo 40 jaar later steeds reg vir die verhoog

Derrick Dryan, Fergie Ferguson en Ralph Martin van Ballyhoo. (Foto: Verskaf)

In 1981 het die rockgroep Ballyhoo Suid-Afrikaanse treffersparades verpletter met hul wegholtreffer “Man on the Moon” en jare daarna die musiektoneel oorheers.

Nou, 40 jaar later, is dié rockers terug om geraas te maak en weer hul plek as een van die suksesvolste rockgroepe in te neem. Maroela Media het met Derrick Dryan en Ralph Martin van dié groep in ʼn Zoom-onderhoud gesels.

Dryan, Martin en Fergie Ferguson, wat almal deel was van die groep toe “Man on the Moon” geskryf is en sy grootste hoogtes bereik het, is weer saam om musiek te maak en die land plat te toer sodra die pandemie dit moontlik maak.

Hulle jongste uitreiking is ʼn nuwe weergawe van The Searchers se 1964-treffer “When You Walk in the Room”. Martin het die vervaardiging van die liedjie in egte Ballyhoo-styl behartig.

“Ons wou die liedjie ʼn bietjie meer vleis en ʼn outydse klank gee. Een van Ballyhoo se sterkpunte was nog altyd sy harmonieë en ek wou dit uitlig en na vore bring. Die inleiding is net stemme en dit het baie goed uitgekom. Dit word ook baie goed ontvang,” sê Martin.

Martin was nege jaar lank deel van die groep in die “Man on the Moon”-era en het onlangs weer by die groep aangesluit. Hy het Ballyhoo in die laat 1980’s verlaat om homself op musiekvervaardiging toe te spits. Hy woon tans in Johannesburg en is intussen getroud en het twee dogters.

Hy voeg by dat die groep graag wil toer, maar dat die pandemie dié planne tans in die wiele ry en ʼn rits konserte wat binnekort sou plaasvind, is uitgestel of gekanselleer.

“Hopelik sal ons die konserte kan hervat sodra dit weer moontlik is. Intussen oefen ons gereeld en kry die materiaal bymekaar.”

Volgens Dryan is daar nog ʼn liedjie getiteld “God’s Window” uit Martin se pen, wat geïnspireer is deur dié baken in Mpumalanga, wat binnekort die lig gaan sien.

Ferguson en Dryan is oorspronklik van Ierland afkomstig en het sedert hulle musikale sukses op Suid-Afrikaanse bodem nooit weer permanent teruggekeer na dié land nie.

“Ons het destyds in Engeland getoer en ʼn musiekpromotor van Durban wat ʼn klomp hotelle besit het, het gesê hy wil ons so gou as moontlik in Suid-Afrika hê. Vier weke later het ons hier aangeland en nooit weer teruggekyk nie,” vertel Dryan.

“Natuurlik het ons al vir familie en vriende in Ierland gaan kuier, maar Suid-Afrika is waar die huis is. Ek is lief vir Suid-Afrika, selfs met al die probleme, net soos wat alle ander lande regoor die wêreld het. Dit is steeds ʼn wonderlike land en ek is mal daaroor.”

Hy vertel hy en sy Franse vrou, oorspronklik van Parys, het nie kinders nie en woon saam met hul drie katte in Johannesburg. Hulle lê gereeld besoek af aan Frankryk waar Dryan se skoonma, Lulu, steeds woon.

Dryan het met die naam Ballyhoo, wat in ʼn kortweg “oordrewe publisiteit” beteken, vorendag gekom. Die Ierse konneksie aan die groep se naam lê hom na aan die hart.

“Ons het destyds die rockster-lewe gelei wat jy jouself kan indink, maar ons het ook baie hard gewerk. Ons het ʼn agt ton trok gehad waarmee ons die toerusting vervoer het en voor elke konsert het dit sowat vier uur geneem om die instrumente en ander toerusting op te stel. Dit was ʼn rowwe, maar ongelooflik lekker tyd, wat ek vir niks sal verruil nie,” sê Dryan.

Shane Mahoney het destyds die lirieke vir “Man on the Moon” geskryf terwyl Attie van Wyk, klawerbordspeler wat vandag ʼn musiekpromotor is vir onder meer Big Concerts, die liedjie en harmonieë verwerk het. Martin het die kitaarsolo gedoen.

“Die impak wat die liedjie op ons lewens gehad het, is moeilik om in woorde uit te druk. Die liedjie het wondere vir almal van ons se loopbane gedoen. Dit verbaas ons wanneer ons nou nog by optredes sien hoe tieners die liedjie woord vir woord saam sing. Ons het baie dinge in die lewe te danke aan daardie liedjie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Boerkind ·

Ek het die voorreg gehad om hulle lewendig in die Bellville stadsaal te sien optree in die mid 70’s …. uitstekende musiek! Dit was die hardste musiek en beste “bass” wat ek in my lewe gehoor het – ek onthou nog hoe hard daardie “bass” teen my bors geslaan het. Ek sal hulle weer gaan luister!!

Francois Le Cochon ·

….dan was daar ook Rabbitt, Stingray, The Helicopters en Cinema. Goeie musiek! Vir die jonges, luister gerus na Rabbitt se Hard Ride en Charlie op Youtube.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.