‘Bands for Bricks 2’ is op pad

Van die kunstenaars wat te sien was by die eerste Bands for Bricks-vertoning. (Foto: Meyer & Rene Photography)

Duisende mense het verlede maand na die Sun Arena by Time Square in Pretoria gestroom om meer as 16 kunstenaars in aksie te sien tydens die heel eerste Bands for Bricks-konsert.

Dit was ʼn volgepakte vertoning met bekendes op die verhoog en verskeie nostalgiese treffers uit die verlede. Die reaksie op die vertoning was uiters positief en sosiale media het behoorlik gegons soos konsertgangers oor hul gunsteling-liedjies of oomblikke uit die konsert gesels het.

En nou is Bands for Bricks 2 op pad – groter en beter!

“Ons gaan met die tweede ronde dinge baie anders doen, maar ons glo steeds in hierdie konsep van sosiale entrepreneurskap,” sê Johrné van Huyssteen, een van die organiseerders van die konsert.

Bottomless Coffee Band op die verhoog. (Foto: Meyer & Rene Photography)

“Ons glo mense verstaan nou die konsep beter en sal met die volgende konsert beter begrip hê vir hoe dit werk. Dit is nie ʼn liefdadigheidskonsert nie. Ek dink baie mense het gedink die kunstenaars tree verniet op en dit is nie die geval nie. Sosiale entrepreneurskap beteken almal wat betrokke is kry iets daar uit én dan word daar ook teruggegee aan die gemeenskap.”

By die eerste Bands for Bricks-optrede is 1 945 kaartjies verkoop en 1 754 kaartjies weggegee. Volgens die organiseerders het die weggee-kaartjies nie geld ingebring nie, maar wel gehelp om die woord oor die konsert te versprei en die moontlikheid van Bands for Bricks 2 te laat realiseer.

Die totale opbrengs uit kaartjieverkope was R767 000, maar die onkoste van die konsert insluitend die kunstenaars, klank, ligte en bemarking was R727 000. Die wins van die konsert was dus R40 000 wat soos onderneem verdeel en waarvan die helfte aan liefdadigheid geskenk is.

Jan Blohm op die verhoog by Bands for Bricks. (Foto: Meyer & Rene Photography)

SA Cares for Life, die Beeld-Kinderfonds en GrootFM se #HOOPstoot-projek het elkeen R6 700 van die wins ontvang. Die SMS-lyn wat tydens die konsert geadverteer is, het R10 000 ingebring en ʼn houer vol klere en komberse is geskenk wat onder behoeftiges versprei is.

“Om ons doel te bereik om ʼn waardige bedrag geld weg te gee, sal ons ongelukkig dinge met die volgende aanbieding ʼn bietjie anders moet doen,” sê Van Huyssteen. “Ons eerste doelwit is dat ons ʼn borg sal moet kry om die harde onkoste, soos die kunstenaars en die klank, te dek. Ons sal ook op ander uitgawes moet besnoei. En by die volgende konsert sal daar ʼn bietjie minder kunstenaars wees – daar was in die eerste vertoning só baie kunstenaars dat elkeen net een of twee liedjies kon sing en die vertoning was steeds langer as drie uur.”

Van Huyssteen verduidelik met minder kunstenaars kan daar gefokus word op meer samewerking tussen die kunstenaars en ʼn algehele beter produksie. Hy verklap daar sal ook met die volgende konsert “’n paar verrassings” vir die gehoor wees.

Johrné van Huyssteen, voorsanger van Ddisselblom, tydens Bands for Bricks. (Foto: Meyer & Rene Photography)

So klein soos wat die wins was wat deur die eerste Bands for Bricks opgelewer is, het dié konsert steeds ʼn daadwerklike verskil gemaak. Met die geld wat SA Cares for Life ontvang het, sal dié organisasie 12 individue in ʼn uiters behoeftige gemeenskap oplei om veiligheidswagte te word. Dit sal dié 12 mans help om selfonderhoudend te word en vir hul gesinne te kan sorg.

SA Cares for Life, ʼn organisasie wat armoedeverligting en -verbreking in behoeftige gebiede doen, sal weer die begunstigde vir Brands for Bricks 2 wees.

“Ons het ons bes gedoen in ʼn baie kort tydjie. Om hierdie konsert sonder ʼn verlies te kon aanbied, was op sigself ʼn wonderwerk,” sê Van Huyssteen. “Die droom leef nog. Bands for Bricks 2 is op pad!”

Bands for Bricks 2 sal op 23 Februarie volgende jaar in die Sun Arena by Time Square in Pretoria plaasvind. Vroegkoop-kaartjies is reeds beskikbaar vanaf R150. Kliek hier om kaartjies te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.