‘Barakat’ haal nie Oscar-lys

Kortlyste vir die 94ste Academy Awards, oftewel die Oscars, is Dinsdag bekendgemaak. (AP Photo/Chris Pizzello)

Die Afrikaanse rolprent Barakat se Oscar-droom het tot ʼn einde gekom toe dit nie die kortlys vir beste buitelandse rolprent gehaal het nie.

Kortlyste vir die 94ste Academy Awards, oftewel die Oscars, is Dinsdag bekendgemaak.

Altesaam 15 rolprente ding mee om benoem te word vir beste buitelandse rolprent. Elke land kan slegs een fliek vir die kategorie inskryf.

Maroela Media het vroeër berig dat die National Film and Video Foundation (NFVF) die veelbekroonde MultiChoice-rolprent, Barakat, as Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir beste internasionale rolprent gekies het. Die fliek is in Afrikaaps, die Kaapse dialek van Afrikaans wat wyd deur inwoners van die Kaapse Vlakte gepraat word.

Frankryk, wat tot op hede die meeste benoemings van enige land in die kategorie vir beste buitelandse rolprent ontvang het, moet vanjaar ook tevrede wees met ʼn sitplek in die gehoor nadat Titane, Julia Ducournau se Palme d’Or-bekroonde gruwelfliek, nie daarin kon slaag om die lys te haal nie.

Die kortlys sluit voorlopers in soos Paolo Sorrentino se drama The Hand of God (Italië) en Ryusuke Hamaguchi se Drive my Car (Japan), wat op ʼn Haruki Murakami-kortverhaal gegrond is.

Bhoetan, ʼn klein land in Suid-Asië, is ʼn stap nader aan sy eerste Oscar-benoeming met Lunana: A Yak in the Classroom. Dit is ʼn komiese drama oor ʼn onwillige jong onderwyser wat gestuur word om in die wêreld se mees geïsoleerde skool te werk.

Die nominasies word op 8 Februarie 2022 bekendgemaak en die toekenningsgeleentheid sal op 27 Maart 2022 plaasvind.

Die Amerikaanse superster Beyoncé, haar man Jay-Z, en Ariana Grande is enkele van die kunstenaars wat in aanmerking kom vir beste oorspronklike liedjie.

Beyoncé se “Be Alive”-ballade wat geskryf is vir King Richard, ʼn biografiese rolprent oor Serena en Venus Williams se pa (gespeel deur Will Smith), het vir haar ʼn plek op die kortlys besorg. Sy kom teen haar sangerman Jay-Z te staan, wat kragte met Kid Cudi saamgesnoer het vir The Harder They Fall se temalied, “Guns Go Bang”. Jay-Z het dié Wilde Weste-rolprent vir Netflix vervaardig.

Grande, wat in die satiriese fliek Don’t Look Up verskyn, kom in aanmerking vir “Just Look Up” wat deur haar popster-karakter gesing word. Die lied moedig mense aan om die bedreiging van ʼn komeet wat al hoe nader aan die aarde beweeg, ernstig op te neem. Billie Eilish se 007-temaliedjie, “No Time To Die”, skitter ook op die kortlys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.