Barbara Veenemans vier 85 goue jare

Barbara Veenemans (middel voor) het verlede Sondag haar 85ste verjaardag saam met geliefdes en bekendes by die Centurion Teater gevier. (Foto verskaf)

Deur Teresa Coetzee

Op Woensdag 18 Januarie 2023 het die bekende operasangeres Barbara Veenemans 85 geword en verlede Sondag is haar verjaarsdag, op ʼn gepaste wyse, gevier met ʼn volledige klassieke konsert wat spesiaal aan haar opgedra is deur haar dogter, Michelle, by die Centurion-teater in Pretoria.

Barbara het ʼn Oorkonde ontvang van die ATKV vir haar lewenslange bydrae tot Afrikaanse operamusiek as sopraan en vir haar bevordering van die Afrikaanse taal- en kultuurskat. Die Oorkonde is deur Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW oorhandig en bekende operasangers, soos die tenore Coert Grobbelaar en Marco Fourie en die soprane Michelle en Rochelle Veenemans, het Barbara toegesing.

Miro Chakaryan en Gerrit Koorsen Jacobus Swart was onder die bekende musikante wat opgetree het en onder die gaste was bekendes soos Mimi Coertse, Tobie Cronjé en Rina Hugo. Professor Christina Landman het ʼn baie vermaaklike toespraak gelewer – sy was een van Barbara se skoolleerlinge in standerd vyf (graad 7) jare gelede.

Dis Woensdagoggend net ná elf toe ek by die woning van Barbara Veenemans in Centurion stop – op hiérdie dag, 85 jaar gelede, is die bekende ikoon en geliefde sangeres gebore.

Barbara Veenemans is ‘n musieklegende in Suid-Afrika se musiekbedryf. (Foto: Rina Coetzee/Verskaf)

Haar houding is fier en regop toe sy die hek kom oopmaak. Sy is keurig aangetrek en daar is nie ʼn haartjie uit sy plek op haar grys haarkroon nie. Sy groet opgewek en vrolik en dis beurtkrag op die oomblik, maar dis duidelik dat dit nie hierdie statige vrou stuit nie. Sy gaan sit terug in die gemaklike stoel en begin rustig te gesels. Dis merkwaardig hoe ontsettend goed sy steeds onthou en haar woorde en sinne vloei gemaklik soos sy die stories en staaltjies uit haar verlede herroep.

Barbara is ʼn musieklegende wat diep spore in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, en veral operawêreld, getrap het. Daar is ʼn lang lys van operas, operettes en musiekblyspele waarin sy opgetree het. Sy het haar loopbaan in die 1950’s afgeskop en het 45 jaar lank ʼn kleurvolle loopbaan as operasangeres gehad. Sy was alombekend vir haar veelsydigheid en was net so ʼn goeie jazz- en ligte musiek-sangeres.

“Ironies genoeg, ek was nooit so ambisieus soos my suster Leonore nie. My man en twee kinders was altyd my eerste prioriteit en tog was ek altyd besig as sangeres. Daar was soveel wonderlike rolle,” onthou sy.

In die sewentigerjare is baie operas in Afrikaans en Engels vertaal om dit toegankliker vir gehore gemaak en Barbara het in talle gespeel soos Die Huwelik van Figaro.

As sy nou regtig een moet uitsonder, is dit dié van Adéle in Johann Strauss se Die Fledermaus. Tot vandag toe dink sy Strauss het daardie rol vir haar geskryf. Sy was altyd baie opgewek en ondeund en steeds skemer haar skerp sin vir humor kort-kort in haar vertellings deur.

“Ons lag baie in hierdie huis. Ek en my dogter Michelle kan soms skree soos ons lag, ek dink dis een van die goed wat my jonk hou,” beduie sy.

Nog veels te jonk vir ʼn aftreeoord

“O nee my hartjie, ek sal dit glad nie maak tussen ʼn klomp oumense wat heeldag sit en kerm oor hul skete en kwale nie,” beduie Barbara dramaties toe ek haar vra waarom sy steeds in haar huis in Centurion woon.

Sy maak elke dag van haar lewe self huis skoon en vertel dat dit nogal ʼn gewigtige taak is om alles skoon te hou en af te stof. Soggens gee sy eers vir haar twee spierwit wolfhonde ontbyt, voor sy self rustig sit en eet en smiddae kom haar kleindogter, Rochelle, ná skool na haar toe en tot verlede jaar het sy in die middae vir Rochelle met haar tuiswerk gehelp.

“Van vanjaar af moet Rochelle self leer, hoewel ek altyd hier sal wees om haar te help. Sy is ʼn briljante kind wat volgende jaar verder in ʼn B.Com-rigting wil gaan studeer.

Rochelle Veenemans (18) self ʼn baie talentvolle sopraan wat soos ʼn engel sing. Sy is blind van geboorte af en matrikuleer vanjaar by Prinshof Skool vir Blindes in Pretoria. Hierdie jong sangeres het al menige gehore in trane gesing met haar suiwer stem.

Barbara, haar dogter Michelle (ook ʼn bekende sopraan) en Rochelle sing gereeld nog saam, hoewel Barbara laggend vertel dat sy lankal nie meer in die publiek sing nie.

“Nee, jy weet mos hoe krities is die mense en you are only as good as your last performance”. Ek het jare gelede al besluit dié ouvrou moet nou maar eerder van ʼn verhoog afbly,” lag sy. Maar haar stories kleur sy graag met musiekklanke in en met haar pragtige stem skort daar niks nie.

Barbara Veenemans het die rol van Susanna in die opera getiteld “Huwelik van Figaro” vertolk. Hier is sy saam met George Kok. (Foto verskaf)

Die dood van Leonore Veenemans

Tot vandag toe verwar mense steeds vir Barbara en haar suster Leonore wat in ʼn tragiese motorongeluk oorlede is. Leonore was in die 1960’s en 1970’s ʼn bekende liriese sopraan en sy het van die Kaap af gery toe sy vermoedelik agter die stuur aan die slaap geraak het. Barbara was die heel eerste persoon wat die nuus ontvang het en tot vandag toe onthou sy daardie boodskap oor die foon soos gister. Haar dood was ʼn groot tragedie en Leonore word onthou vir liedjies soos “Liefste Madelein”.

Hulle pa, Barnard, was self ook ʼn musikant en het sy lewe lank in ʼn jazz-orkes gespeel. Hulle ma, Olga, het die mooiste sopraanstem gehad. Barbara sing al vandag sy drie jaar oud is en hul boetie, Bennie, was ʼn seunsopraan wat selfs hoër as Leonore en Barbara kon sing. Albei Barbara se kinders kan ook sing.

Barbara Veenemans en die Amerikaanse tenoor Divid Eissler in “The Great Waltz” vir Truk Opera 1975. (Foto: Bob Martin/Verskaf)

Partytjietyd!

Later toe die krag weer aangaan, speel Barbara een van die CD’s waar Rochelle en haar pa Jaco saamsing – die kragtige note vul die vertrek. Sy maak haar oë intens toe en haar hande beweeg op die maat van die musiek. Sy is kennelik trots op haar kinders en kleinkind, haar groot vreugde in die lewe. Sy gaan haal koek in die kombuis, en al vertel sy dat sy maar versigtig is met die suiker omdat sy ʼn diabeet is, skep sy self ook ʼn snytjie saam met haar tee. Dis immers nie aldag dat ʼn mens 85 jaar oud word nie!

Nee, sy is glad nie bang vir die dood nie, sê sy. As ʼn gelowige mens vind sy berusting dat haar siel gered is en sy het ʼn wonderlike lewe hier op aarde gehad. Die dood is onafwendbaar vir elkeen van ons, en sy is gevul met dankbaarheid dat sy steeds so sterk en gesond is.

ʼn Konsert vir die boeke

Sowat sestien mense het Sondag spesiaal vir Barbara opgetree en Michelle het agterna met soveel dankbaarheid vertel in watter mate die Centurion-teater hulle geakkommodeer het. Almal het uit hul pad gegaan om hierdie dag onvergeetlik vir Barbara te maak.

“Dit was wonderlik om die bekende violis en konsertmeester, Miro Chakaryan, van die Johannesburgse Philharmoniese Orkes daar te hê. Simon Rademan het vir die klere gesorg en Jan de Waal van Garden World vir die pragtige blomme. My ma het agterna vertel dit was een van die wonderlikste geskenke wat sy in haar lewe gekry het – kort-kort het sy die trane afgevee,” het Michelle vertel. En ja, Barbara Veenemans het hierdie huldeblyk deur en deur verdien, syself het immers baie diep spore in ons land se musiekgeskiedenis getrap.

Barbara Veenemans, Malcolm Terry en Tobie Cronje in “The Student Prince” vir Truk Opera 1985. (Foto: Bob Martin/Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.