Bederf jou ma met dié Moedersdag-kamerkoorfees

Dis al ’n instelling; jy bestel ’n pienk rangskikking, toegedraai in sellofaan met ’n parmantige papierlint en ’n sjokoladehartjie. Want sy’s jou ma, die ma van jou kinders, of die moederfiguur in jou lewe. Dan kook jy natuurlik ’n eiertjie so hard dat jy iemand met hom kan doodgooi. En moenie van die roosterbrood (steenkool) en die beker tee wat so flou soos ’n klop-klop-grappie is, vergeet nie – bedien in die bed. Want sy’s die vrou wat jou grootgemaak het, maniere geleer het, en jou gewiks het as jy hulle soms vergeet het.

Maar die lewe gaan deesdae véél meer oor ondervindings, en véél minder oor blomme en brekfis. So, los vanjaar die sjokoladehartjie en koop vir haar ’n kaartjie!

Vox Chamber Choir bied ’n spesiale Moedersdag-kamerkoorfees aan op Sondag 13 Mei om 14:30 by die Weskoppies-saal, Pretoria, en deel ook die verhoog met vyf ander sanggroepe. Die sanggroepe neem almal ook later vanjaar deel aan die World Choir Games.

In samewerking met Akustika Chamber Singers, Akustika Male Chorus, Horizons Project Singers, Molen Kórus en Resonans sal hierdie musikale ervaring haar siel voed en laat blom nog lank ná die pienk gedoente gevrek het.

Vox Chamber Choir, ’n Pretoriase 24-stem-kamerkoor, is in 2016 deur die komponis en dirigent, Franco Prinsloo, gestig. Hierdie kamerkoor fokus op die vervaardiging van gehalte-opvoerings en -opnames van Prinsloo se korale komposisies, asook die werk van ander Suid-Afrikaanse komponiste.

Kaartjies is hier beskikbaar teen R120 per persoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.