Die orkes Beeskraal vier vanjaar sy mondigwording nadat die groep in 2000 die Afrikaanse musieklandskap verander het met sy unieke boere-rockklank en die treffersnit “Plaasdorp”.
Studente het destyds onmiddellik dié liedjie se bekende refrein wat lui “Daar’s net een garage en bottelstoor, ʼn sinkdakhuis en ʼn poskantoor…” in al wat kuierplek is herken en dikwels uit volle bors saamgesing.
Charlie Smidt, stigterslid en voorsanger van die groep, vertel Beeskraal het aanvanklik as ʼn “musiekeksperiment” begin. Hulle musiek het egter soos ʼn veldbrand onder studente en skoolleerders begin versprei, soveel dat hulle al hoe meer gewildheid verwerf het.
“Toe ons weer sien, staan ons op massiewe verhoë saam met van die land se grootste name in die musiekbedryf,” vertel Smith in ʼn onderhoud met Maroela Media.
“Ons het op ʼn baie moeilike stadium begin in die Afrikaanse musiekbedryf en toe ons begin speel het, het ons nie gedink dinge sal só vlamvat nie. Al was ek ʼn jazz-student het ek aanklank gevind by die Afrikaanse alternatiewe rockbeweging.
“Daar was ʼn paar ouens wat destyds in Afrikaans musiek gemaak het, maar ons wou nie net nóg ʼn groep wees nie. Ons het ons punkmusiek-invloede deur groepe soos Collective Soul, The Offspring en Nirvana gebruik en ʼn meer tradisionele aanslag gegee met instrumente soos konsertinas en banjo’s.”
Dié nuwe klank het luisteraars aan die gons gehad. Die ouer garde het aanklank gevind by die tradisionele klank van die musiek terwyl jong mense ʼn tuiste by die lirieke gevind het.
Smith erken dat die jonger generasie van vandag nie altyd weet wie Beeskraal is of na hulle musiek luister nie.
“Tog lok ons altyd ʼn jonger gehoor wanneer ons speel op feeste en groot verhoë. Mense sê ook gereeld dat hulle ʼn visuele, verhoogvertoning deur Beeskraal meer geniet as om bloot na die opnames te luister.”
Hulle jongste album getiteld Afrikana osbloed is ʼn huldeblyk-album, met bekende Afrikaanse liedjies wat die groep oor die jare geïnspireer het. Dit is die groep se 14de vollengte album.
Nie net is ʼn keurspel van FAK-gunstelinge en Die Briels se “Trein na Pretoria” in die album te hoor nie, maar is daar ook ʼn nuwe weergawe van Abel Kraamsaal se “Storm”.
Die liedjie is reeds in 1998 geskryf en is volgens Smidt een van die “beste Afrikaanse liedjies wat ooit geskryf is”.
“Maak nie saak hoe kwaad jy vir jou geliefde is nie; as jy werklik jou sielsmaat gevind het en julle mekaar elke dag koester, sal julle enige storm kan weerstaan en mekaar altyd nodig hê.”
Die groep het gepoog om die album so organies en regstreeks as moontlik op te neem. Dawie de Jager, lid van Klopjag en klankbaanskrywer, het die opname behartig.
Smidt sê Beeskraal se sukses kan toegeskryf word aan die feit dat hulle nie weg beweeg het van hulle oorspronklike klank en styl nie.
“ʼn Mens peuter net nie aan ʼn wenresep nie. Ons het deur die jare met verskillende style, soos baie internasionale groepe ook maar doen, geëksperimenteer. Met twee van ons albums het ons van ons styl af weg beweeg en dít het nie gewerk nie.
“Ons het besluit om by ons wortels en oorspronklike klank te bly. Om altyd by tye en by nuwe groepe se style aan te pas werk nie altyd nie. Ons dink die boerepunk-resep werk omdat ons die eerste groep in Suid-Afrika was wat met dié styl geëksperimenteer het.”
Smidt voeg by dat die groep nóg 21 jaar van musiek voorspel. “As ons gespaar word sal ons beslis nog 21 jaar kan voortgaan.”
“Storm” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.
Afrikana osbloed sal binnekort aanlyn beskikbaar wees, maar die album kan bestel word by [email protected].
Puik!