Die Universiteit van Pretoria (UP) se Jeugkoor, in samewerking met Vox Chamber Choir, gaan dié naweek Franco Prinsloo se veeltalige Naledi – An African Journey in ʼn magiese ensemble opvoer.
Die storie van Naledi, die oggend- en aandster, word vertel deur storievertel-spesialiste uit Afrika en die aktrise Galeboe Moabi. Uitsonderlike musikante soos Magdalena de Vries, Francois Lessing en Faye Prinsloo sal ook die twee kore vergesel.
Die UP Jeugkoor bestaan uit 90 sangers tussen die ouderdomme van 14 en 19 jaar oud van 33 verskillende skole. Dié koor is wêreldwyd bekend vir hul optredes en kunstigheid. Die koor het onlangs ook voor voormalige Amerikaanse president Barack Obama opgetree by die Mandela 100-konsert.
Die UP Jeugkoor het verlede jaar in die Wêreldkoorspele ʼn goue medalje ontvang vir hul sang.
Die Vox Chamber Choir is ʼn trots Suid-Afrikaanse koor van 24 sangers en staan onder die leiding van Franco Prinsloo. Dié koor het ook ʼn goue medalje by die Wêreldkoorspele in 2018 ontvang.
Die Vox Chamber Choir sal in Junie vanjaar hul eerste internasionale konserttoer aanpak wanneer hulle in onder meer Venesië en Duitsland sal optree.
Gehore by Naledi – An African Journey kan uitsien na ʼn betowerende reis met bewegingskunstenaars Brandon Thespian Olifant, Abe Pupunyane en Thato Paul Menoe. Animasie sal deur Louis Minnaar gedoen word.
Die konsert vind op 16 en 17 Maart by die Aula-teater in Pretoria plaas. Kaartjies vir Naledi – An African Journey kan hier gekoop word.