Bekende in musiekkringe sterf

Raymond Verster. (Foto: Facebook)

Raymond Verster. (Foto: Facebook)

Boodskappe van medelye stroom in vanuit die Afrikaanse kunstebedryf nadat Raymond Verster, ʼn bekende pianis en musikant, vroeg Woensdagoggend oorlede is ná ʼn stryd met kolonkanker.

Verster was in musiekkringe bekend as pianis en musikale regisseur, wat onder meer die regie van groot konserte soos Krone behartig het, en ook sy musikale vaardighede aan talle musiekblyspele verleen het.

Riaan Grobler, sanger en omroeper, is ʼn jare lange vriend van Verster en het aan Maroela Media vertel kolonkanker is verlede jaar by Verster gediagnoseer.

“Hy het behandeling daarvoor ontvang en ʼn gedeelte van sy kolon is tydens ʼn operasie verwyder,” het Grobler gesê. “Dit het baie goed met hom gegaan tot omtrent ʼn maand gelede.”

Grobler het gesê Verster was op die herstelpad toe hy vroeër vandeesmaand uitgevind het daar is weer twee gewasse in sy kolon. Volgens Grobler het dié nuus Verster geknak. “Hy het baie vinnig agteruitgegaan.”

Verster is in die Mediclinic Midstream oorlede. Hy was 35 jaar oud.

Volgens Grobler sal Verster ʼn massiewe leemte in die musiekbedryf agterlaat. “Hy was só ʼn begaafde musikant en min mense het geweet dat hy ook ʼn ongelooflike stem gehad het. Hy was verskriklik hoog opgelei in musiek en daar was omtrent nie ʼn instrument wat hy nie kon bespeel nie. Hy was ʼn fenomenale musikant en ʼn nóg beter vriend.”

Grobler het gesê Verster het nog tot onlangs musiek gekomponeer. “Veral die laaste ruk. Hy het die mooiste goed gekomponeer en dit nog in die hospitaal vir my gespeel. Nou sal niemand dit hoor nie.”

Ander bekendes in die bedryf het ook hul medelye teenoor Verster op sosiale media betoon.

“Sjoe, vanoggend is ek geskok,” het die sangeres Andriëtte Norman geskryf. “Jy was nie net ʼn wonderlike mens nie, maar ʼn begaafde musikant. Dankie vir die voorreg dat ek die verhoog saam met jou kon deel. Rus in vrede.”

“Dit is so hartseer,” het Margit Meyer-Rödenbeck op Instagram gesê.

“Rus in vrede, Raymond,” het die musikant Andrew James op Facebook geskryf. “Jy was my heel eerste vriend in Johannesburg. Ek sal jou nooit, ooit vergeet nie. Maak mooi musiek vir die angels.”

Volgens Grobler is Verster se begrafnisreëlings nog nie getref nie en kan sy Facebook-blad dopgehou word vir inligting oor die diens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andrea ·

Wat n aaklige siekte. Soveel simpatie vir elke slagoffer. Sterkte aan sy familie en vriende.

Jaco ·

Ai, baie hartseer en nog so jonk! Sterkte aan die naasbestaandes!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.