Beleef ‘Eet Kreef! Herleef’ in musiekrolprent

Eet Kreef! Herleef. (Foto: Pierre Rommelaere)

Ná die suksesvolle debuut en eietydse albumopname van die musiekproduksie Eet Kreef! Herleef, is dié musiekproduksie in ʼn musiekrolprent omskep wat hierdie naweek aanlyn te sien is.

Laudo Liebenberg (voorsanger en kitaar), Frank Freeman (sang en kitaar), Schalk van der Merwe (sang en baskitaar), Sheldon Yoko (tromspeler), Etienne van Rooyen (klawerbord) en Nicole Mitchell (sang) is die vyfstuk wat nuwe lewe gee aan die satiriese Johannes Kerkorrel & Die Gereformeerde Blues Band-album van 1989.

Freeman is die vervaardiger van die musiekrolprent, wat aangebied word deur Supra Familias. Die opname is gedoen by die Sunset Recording Studios net buite Stellenbosch en bestaan uit al die liedjies op die album asook onderhoude met die groeplede.

ʼn Onderhoud met Jannie “Hanepoot” van Tonder van die oorspronklike Gereformeerde Blues Band is ook te sien. Die produksie sluit bekende snitte soos “Sit dit af”, “Hillbrow”, “Energie” en “Hoe ek voel” in.

Freeman, kitaarspeler vir die musikant Arno Carstens, het vroeër in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel hy wou ʼn Afrikaanse musiekteaterproduksie in Afrikaans bymekaarsit en het begin delf in ouer Afrikaanse alternatiewe musiek.

“Ek en Arno was op ʼn vlug van Kaapstad af na Pretoria en hy sê toe hy dink dit sal ʼn goeie idee wees as ons die Eet Kreef!-album gebruik. Daar het die lig in my kop aangegaan. Ek het eers vir Laudo genader en daarna het ek die res van die groep bymekaargesit.”

Die groep het ook vroeër vanjaar ʼn Fiësta-toekenning verower vir beste musiekgedrewe produksie – podium.

“Wanneer jy so iets aanpak, trap jy ʼn bietjie op heilige grond. Dit was vir ons belangrik om dit reg te doen. Nadat ons die opname van die album gemaak het, het ons dit vir die oorlewende lede van die Gereformeerde Blues Band aangestuur. Hulle het vir ons ʼn baie hartlike boodskap gestuur oor die projek, wat baie lekker is,” het Freeman bygevoeg.

Die musiekrolprent is Saterdag 4 Julie om 19:30 te sien. Kaartjies kos R100 en is hier te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.