Beleef ‘The Lion King’ met 84-stuk orkes

Grafika: Verskaf.

Gautengers het in Desember die uitsonderlike geleentheid om die nuwe weergawe van die immergewilde animasierolprent The Lion King met die musiek van ʼn simfonieorkes bestaande uit 84 instrumente te ervaar.

Die Johannesburgse Filharmoniese Orkes sal onder leiding van Eddie Clayton, ʼn prominente Suid-Afrikaanse dirigent, musiek verskaf vir vier spesiale vertonings van The Lion King by die Sun Arena by Time Square in die Jakarandastad.

Die JFO sal tydens die vertonings in soomlose sinchronisiteit die musiek van die rolprent tydens die vertoning daarvan verskaf. Die konsep beloof om ʼn oudiovisuele ervaring vir die hele gesin te wees; iets wat nog nooit tevore in Suid-Afrika gesien is nie.

“Ek was nog altyd lief vir The Lion King; van die eerste oomblik wat ek die oorspronklike film gesien het. Ek het my gesin ook geneem om die nuwe 2019-weergawe van die rolprent te gaan kyk en ek was net weer opnuut deur dié fliek betower.

“Ek kon dit nie glo toe ek die oproep kry om die dirigent vir The Lion King live in concert te wees nie. Die hele konsep om die rolprent te kyk saam met die musiek van simfonieorkes is ʼn droom wat bewaarheid word en vir my is dit ʼn eer en voorreg om die dirigent van Hans Zimmer se musiek te wees.

“Boonop is dit vir my heerlik om te weet ek kan saam met die Johannesburgse Filharmoniese Orkes hieraan werk. Dit is een van die voorste orkeste in Suid-Afrika en ek weet hulle sal ʼn nuwe soort lewe in die Walt Disney-verhaal kan blaas,” het Clayton gesê.

Die JFO bestaan uit 50 snaarspelers, 11 houtblasers, 13 koperblaasinstrumente-, een harp, ses slaginstrumente, een kitaarspeler, een elektriese baskitaar en ʼn klawerbord.

Die orkes sal die gehoor neem deur die wêreld van Simba met al die avontuur, liefde, lojaliteit, sowel as jaloesie, dreigemente en gevaar van sy grootste vyande.

“Die JFO is opgewonde om deel te wees van die wonderlike projek. Die klankbaan van Hans Zimmer is uiteenlopend en opwindend en dit is iets om lewendig te beleef,” het Bongani Tembe, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van dié orkes, gesê.

Dit is moeilik om die asemrowende presisie en krag van die JFO met die regte woorde te beskryf. Hierdie orkes, wat in 2000 gestig is, spog met van die beste Suid-Afrikaanse en internasionale instrumentaliste en het reeds wêreldwyd lof vir hulle musiek ontvang.

Die orkes het reeds talle benoemings en pryse vir hulle musiek ontvang en sal nou ʼn nuwe dimensie verskaf aan die 2019-weergawe van die bekroonde Hans Zimmer se klankbaan van The Lion King.

The Lion King live in concert vind op 10, 11 en 12 Desember in die Sun Arena by Time Square in Pretoria plaas. Daar sal ook ʼn bykomende vertoning op die middag van Donderdag 12 Desember wees.

Kaartjies kan net by Computicket teen R200 per kaartjie aangekoop word. Besoek www.computicket.com vir meer inligting.

WEN:

Baie geluk aan Johanna Hattingh, Marinda Pelser en Alida Jacobs wat elkeen ʼn stel dubbelkaartjies gewen het om die vertoning van The Lion King live in concert op Woensdag 11 Desember in die Sun Arena by Time Square in Pretoria te gaan kyk.

Bepalings en voorwaardes

  • Die wenners sal deur middel van ʼn trekking aangewys word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal op Vrydag 6 Desember om 13:00 plaasvind waarna die wenners per e-pos gekontak sal word.
  • Indien enige van die betrokke persone nie binne 48 uur reageer nie, sal ʼn volgende wenner aangewys word en die oorspronklike wenner sal die prys verbeur.
  • Sodra alle wenners gereageer het, sal hul name op sosiale media en op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Wenners sal hulle kaartjies by die vertoning van 11 Desember moet kom afhaal.
  • Slegs wenners wat in Gauteng woon of hulle eie reis- en verblyfreëlings vir die bywoning van die konsertreeks kan reël, kan in aanmerking kom vir die prys. Maroela Media sal nie verantwoordelik wees vir enige reis- en verblyfreëlings vir hierdie prys nie.
  • Die pryse kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Elke deelnemer kan slegs één stel dubbelkaartjies wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Die kaartjies se pryse begin by R200 en die duurste is R595.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.