Ben Schoeman terug by alma mater vir Aardklop Aubade

Ben Schoeman. (Foto: Zach Gerard/Verskaf)

Ben Schoeman, internasionaal bekende konsertpianis en oud-Affie, keer hierdie lente tydens die Momentum Beleggings Aardklop-fees (voorheen bekend as die Aardklop Nasionale Kunstefees) terug na sy alma mater en bring van die land se voorste musikante saam met hom.

Ben Schoeman en vriende: ʼn Fanfare van klavier en blasers word op Sondag 4 September by Afrikaanse Hoër Seunskool Pretoria (Affies) aangebied en beloof om ʼn vertoning te wees wat sal verkwik, wegvoer en opkikker, nes dié seisoen dit jaarliks doen.

Schoeman het Affies se skoolbanke meer as 20 gelede gegroet en het in ʼn boodskap vir die skool se eeufees sy tyd daar as “vyf goue jare” waar hy destyds sy “talente ten volle kon uitleef” beskryf.

Hy sal die verhoog met Jaco van Staden (Franse horing), Lizet Smith (klarinet), Gary Roberts (hobo), Esther Watkinson (fagot) en Anna-Maria Vermeulen (fluit) tydens dié opwindende Lente-aubade deel.

Aardklop Aubade is reeds gevestig as ʼn tuiste vir die bevordering van Suid-Afrikaanse klassieke musiek en konsertgangers kan uitsien na ʼn program van werke deur Mozart, Poulenc, Scriabin en Rimski-Korsakof sowel as ʼn voorafvertoning van Affies se “drumline”- groep (gr. 10 tot 12) onder leiding van Ronel du Plessis.

Daar sal ook ʼn ligte ete en ander versnaperinge voor of ná die konsert by Affies se 1920-restaurant op die skoolterrein beskikbaar wees.

Sluit gerus aan vir hierdie viering van klavier en blasers deur kaartjies by Ticketpro te koop. Kaartjies kos R190, terwyl pensionarisse R150 en leerders R100 betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.