Bernice West: Nuwe lieflingkind van Afrikaanse musiek

Bernice West. (Foto: Facebook)

Die jong krulkopsangeres Bernice West het die Afrikaanse musiekbedryf stormgeloop toe sy verlede jaar as naaswenner van die eerste seisoen van Emo Adams se talentsoekprogram Maak my famous aangewys is.

Die 19-jarige West wat verlede jaar aan die Hoërskool Rustenburg gematrikuleer het en beplan het om vanjaar op Stellenbosch drama te studeer, vertel haar toekomsplanne het vinniger as wat sy ooit kon droom vlerke gekry.

“Ek het nog altyd geweet ek is nie een om agter die boeke te sit nie en al sê mense altyd jy moet iets hê om op terug te val as kunstenaar, het die pad na die musiekbedryf net so mooi vir my oopgegaan dat ek nie anders kon as om die paadjie te volg nie,” vertel sy in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Dit is alles baie oorweldigend. Ek het gedink ek gaan ʼn doodgewone matriekjaar hê en dat ek elke eksamen en klas sal bywoon, maar toe gebeur Maak my famous en skielik moet ek op vliegtuie of terwyl my hare stileer word vir die program my skoolwerk doen of vir eksamens leer.”

As kind op Swartruggens in Noordwes het sy altyd van die stadsliggies gedroom en daarom het sy en haar broer, Renier, vroeër vanjaar sak en pak Pretoria toe getrek. Hier kan sy nader aan haar platemaatskappy, Inhoud Huis, wees. Renier is ʼn deeltydse musikant en is deel van die musiekgroep Rooksein.

Bernice West. (Foto: Facebook)

“Ek mis soms die stilte en die feit dat daar geen verkeer is op Swartruggens nie,” lag sy. “Maar ek geniet dit baie om in die stad te wees en dit is wonderlik om my boetie ook saam met my hier te hê.”

Sy vertel haar lewe het handomkeer verander sedert sy op Maak my famous was. “Die Here het net die pad vir my so mooi oopgemaak en ek is so bevoorreg om reeds te kan doen waarvoor ek lief is. Dit waarvoor ek gedink het ek nog so lank en hard moet werk, is reeds besig om met my te gebeur en ek leef tans my droom.”

Die sukses van haar eerste twee snitte bewys dat sy die nuwe lieflingkind van Afrikaanse musiek is. West se debuutenkelsnit, “Sonop-blom”, pryk tans op die Maroela Media Afrikaanse Top-20 in die gesogte eerste plek terwyl haar jongste enkelsnit, “Die hart”, ook besig is om dié treffersparade te klim.

“Ek weet nie altyd waarvandaan die inspirasie vir my liedjies kom nie,” vertel die sangeres wat grotendeels haar eie musiek skryf.

“Musiek self inspireer my om te skryf. En ook wanneer ek naby water is, is ek altyd baie begeesterd. Ek weet nie hoekom nie, maar wanneer dit die dag reën is dit die beste dag om musiek te skryf,” sê West.

Haar debuutalbum, Net geleën, word in Augustus uitgereik en West sê sy is baie opgewonde. “Die album bevat 12 oorspronklike snitte uit my eie pen. Die kykNET-verjaardagliedjie, “Ons is familie”, is ook ingesluit en is geskryf deur Johan Vorster. Aan die einde van die laaste snit is daar ʼn verrassing,” verklap sy.

West het saam met kunstenaars soos Jo Black, Leah, Jan Bloukaas, Biggy en Early B aan dié snit gewerk. “Dit was so lekker om al die kunstenaars te ontmoet. Dit was ook my eerste keer op ʼn groot, professionele stel waar ek kon sien hoe alles agter die skerms gebeur.”

Sy hou binnekort ʼn aanlyn konsert in samewerking met Dapper Media. “Ek gaan so ses van my eie liedjies sing, asook ʼn paar covers. Ek het vir Danny Smoke op kitaar en sy suster, Rachelle, op baskitaar wat my begelei. Die liedjies is rou weergawes van dit wat in my album ingesluit is.”

Kaartjies kos R69 en sal van Woensdag 24 Junie tot en met Maandag 29 Junie, eksklusief op Dapper Media beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Melanie ·

Mag jy soos die aand ster skitter en elke moontlike doelwit bereik!! jy is pragtig!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.