Bernice West spog met splinternuwe album

Bernice West het pret gehad tydens die verfilming van haar enkelsnit “Nie Jou X Nie” se musiekvideo in Pretville. (Foto: verskaf)

Die borrelende sangeres en verhoogaktrise Bernice West se splinternuwe album, Jona, word vandag (8 Julie) uitgereik.

West (21) het in 2019 Suid-Afrikaners se harte gewen met haar deelname aan die kykNET-talentsoekprogram Maak my famous. Sy het sedertdien net van krag tot krag gegaan.

Nie net het sy ’n suksesvolle album, talle nommer-een-treffers en ’n rits toekenningbenoemings op haar kerfstok nie, maar sy is ook in die gewilde Inhoud Huis-musiekblyspel Die Gelofte te sien. Dié het reeds twee suksesvolle speelvlakke gehad het en sal in September weer op die planke van die AfriForum Teater in Pretoria wees.

“Baie keer druk die Here jou iets op die hart, nes Hy met Jona gedoen het, wat jy dan vermy met alles in jou. Op die ou end word jy iewers ingesluk, nes die walvis vir Jona ingesluk het. Wanneer jy doen wat Hy van jou verwag en vra, kry jy vrede in jou hart,” het West vroeër aan Maroela Media oor haar trefferlied, “Jona”, vertel.

“Soen my op my Mond”, ʼn enkelsnit wat sy vroeër vanjaar saam met Ilán van Staden, met wie sy die verhoog in Die Gelofte deel, uitgereik het, is ook op die album beskikbaar.

Die snitte “Agter Jou” en “Nie Jou X Nie” word saam met die album uitgereik en aanhangers kan hul vere regskud vir ʼn heerlike musiekvideo wat saam met die snit “Nie jou X nie” uitgereik word. Dié is in Pretville verfilm en West het sommer die verhoogakteurs van Die Gelofte nader gehark om deel van die video te wees.

West het in Swartruggens in Noordwes grootgeword en aan die spogskool Hoërskool Rustenburg gematrikuleer. Dis ook hier waar sy haar verloofde, wat ook die skrywer en regisseur van Die Gelofte is, Jannes Erasmus, ontmoet het.

Dié nederige sangeres weet waar haar hulp vandaan kom.

“Ek is nie ʼn eiland nie, ek kan niks sonder die Here doen nie. Die feit dat ek op so ʼn jong ouderdom kan doen wat ek doen, is net genade. Dis nie ek nie, dis die Here en ek,” het sy vroeër aan Maroela Media gesê.

Op die ouderdom van 19 het sy Suid-Afrika verteenwoordig deur die nasionale Volkslied te sing voor die toetswedstryd tussen die Springbokke en Argentinië.

Sedertdien het sy ʼn string treffers uitgereik, waaronder “Sonop-blom”, wat vir 10 maande die nommer 1-treffer op Apple Music se ranglys was.

West se splinternuwe album, Jona, is nou op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk na “Nie jou X nie” se musiekvideo hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.