Beyoncé, Jay-Z én ander kom na SA

Beyonce en Jay-Z (foto: Instagram)

Beyoncé, Jay-Z, Ed Sheeran, Usher, Sho Madjozi, Eddie Vedder en Pharrell Williams is almal op pad na Suid-Afrika vir die Global Citizen Festival Mandela 100, ʼn musikale skouspel waarmee die 100ste geboortedag van Nelson Mandela gevier word.

Dié bekendes en nog baie ander sal op 2 Desember in die ENB Stadium in Johannesburg ʼn konsert aanbied ten bate van armoedeverligting. Dié konsert is in antwoord op Nelson Mandela se oproep aan dié generasie om ʼn einde aan uiterse armoede te bring.

Die konsert word gereël deur die Mandela 100 Festival in samewerking met House of Mandela, en is die hoogtepunt van Global Citizen se jaarlange “Be the Generation”-veldtog.

Kaartjies vir dié konsert kan nie gekoop word nie, maar moet verdien word. “Al wat jy moet doen is om van 21 Augustus aksie te neem op die Globale Citizen-platforms,” het Global Citizen gesê.

Usher (Foto: Instagram)

“Die aksies wat geneem kan word sal daarop fokus om hongersnood te verlig en tienermeisies toegang tot goeie, voedsame kos te gee; om die oordrag van MIV/vigs stop te sit; om te verseker dat elke kind ʼn goeie gehalte opvoeding ontvang; om voorsiening te maak vir vrouegesondheid en gesinsbeplanning; en om mense wêreldwyd toegang tot skoon water en veilige sanitasie te gee,” het Global Citizen gesê.

“Mense wat hulle gratis kaartjies verdien het, sal die geleentheid kry om die kunstenaars in aksie te sien.”

Global Citizen hoop dat daar deur dié veldtog soveel as R1 miljard voor die konsert ingesamel kan word om die wêreld se armstes te help. Die helfte van dié bedrag sal op vroue en jong meisies bestee word.

“Wanneer jy genoeg punte bymekaargemaak het deur aksie te neem, sal jy in ʼn gelukstrekking ingeskryf word om gratis kaartjies te wen. Ons gaan elke vier weke ʼn trekking hou.”

Vir meer inligting oor die konsert klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.