Beyoncé, Taylor Swift neem voortou met Grammy-benoemings

Beyoncé. (Foto: Evan Agostini/Invision/AP, File)

Die benoemingslys vir die 63ste jaarlikse Grammy-toekennings is Dinsdag deur die Recording Academy bekend gemaak. Die toekenningsgeleentheid vind einde Januarie 2021 plaas.

Die Suid-Afrikaanse komediant Trevor Noah, wêreldwyd bekend vir sy The Daily Show, sal die Grammy-geleentheid aanbied.

“Ondanks my groot teleurstelling dat die Grammy-paneel weier om toe te laat dat ek sing of vir beste popalbum benoem word, is ek opgewonde om hierdie belowende geleentheid aan te bied,” het Noah in ʼn verklaring gesê.

Die Amerikaanse popsangeres Beyoncé is die voorloper van die geleentheid met nege benoemings. Haar album Black Parade is benoem vir onder meer album van die jaar en liedjie van die jaar. Haar musiekvideo vir “Brown skin girl” is vir beste musiekvideo benoem en haar Disney+-rolprent Black is King is vir beste musiekfilm benoem.

Taylor Swift en Dua Lipa is elk vir ses toekennings benoem. Swift se jongste album, Folklore, is benoem vir album van die jaar en beste popalbum terwyl haar enkelsnit “Cardigan” sal meeding vir liedjie van die jaar en beste solopop-uitvoering.

Taylor Swift. (Foto: Chris Pizzello/Invision/AP)

Swift en die musikant Bon Iver is benoem vir beste popduo of groepuitvoering vir die liedjie “Exile”. Sy is ook benoem vir beste liedjie geskryf vir visuele media vir die musiekrolprent Cats.

Die Koreaanse popgroep BTS en die Britse sanger Harry Styles is elk vir hul eerste Grammy benoem. BTS het een benoeming vir beste popduo of groepuitvoering vir die treffer “Dynamite”. Styles het drie benoemings, onder meer vir beste musiekvideo vir “Adore you”.

Die sanger The Weeknd, wat talle ander musiektoekennings vanjaar ingeoes het vir sy album After Hours, is nié vir ʼn Grammy-toekenning benoem nie. The Weeknd het sy misnoeë op Twitter uitgespreek.

“Die Grammys bly korrup. Julle is deursigtigheid aan my, my aanhangers en die musiekbedryf verskuldig.”

Harvey Mason jr., voorsitter en interim uitvoerende hoof van die Recording Academy, het in ʼn onderhoud met Variety gesê die stemliggaam bepaal uiteindelik die benoemings.

Die toekenningsgeleentheid word op 31 Januarie 2021 in die Staples-sentrum in Los Angeles aangebied.

Hier is ʼn volledige lys van benoemings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.