“Big Daddy” vier sy 78ste verjaardag

Foto: Verskaf aan Maroela Media

Foto: Verskaf aan Maroela Media

Die legendariese country-sanger en radio-omroeper Lance James het onlangs sy 78ste verjaardag gevier.

Lance James Liebenberg is op 18 Julie 1938 in Germiston gebore en nadat hy sy skoolloopbaan voltooi het, in Desember 1954 by die SAUK aangesluit. Hy het op agtienjarige ouderdom in orkeste begin speel, nadat hy klavier- en kitaarlesse by die bekende Ken Espen geneem het. Hy is genader om ʼn opname van Chuck Berry se bekende treffer “Johnny B. Goode” te maak, maar weens sy kontraktuele verpligtinge teenoor die SAUK, is hierdie snit nooit vrygestel nie.

Hy het in 1959 na Engeland vertrek en ʼn geslaagde oudisie afgelê om deel van die kwartet Group One te word. Hulle het saam met onder meer Cliff Richard en Matt Monro deur Engeland getoer, maar twee jaar later het hy na Suid-Afrika teruggekeer. In 1964 het hy weer by die SAUK aangesluit en sy eie programme op die Afrikaanse radiodiens aangebied.

In 1965 is hy getroud en in dieselfde jaar het hy ʼn platekontrak van drie jaar onderteken. Hoewel hy verskeie kortspelers en ʼn album vrygestel het, het sukses hom ontwyk. In 1968 het  Albie Venter, die stigter van die platemaatskappy Brigadiers, hom hoor sing en hom ʼn platekontrak aangebied.

Albie het egter gesê Lance sing in die verkeerde taal en sou groter sukses behaal as hy in Afrikaans sing. Hy het voorgestel Lance sing saam met Min Shaw en hul debuutalbum, Bymekaar, is in daardie jaar vrygestel. Die titelsnit was dadelik ʼn treffer.

Hulle het ook gesorg vir die klankbaan van die rolprent Die Danie Bosman-storie, wat die volgende jaar vrygestel is. Danie Bosman was ʼn pionier van Afrikaanse musiek en het treffers soos “Boereseun”, “In die skadu van ou Tafelberg”, “Oom Bossie van die Bosveld” en “Daar onder in die Kaap” geskryf.

Lance he t in 1970 ʼn liedjie opgeneem wat hy self erken sy lewe verander het. Die woorde vir “Dankie” is deur die radio-omroeper, Daniël Kirstein, onder die skuilnaam Chris Steyn geskryf. Dit het die Springbok Radio Top 20 op 20 Maart 1970 gehaal en tot by die dertiende plek gevorder.

Sy volgende treffer was die temaliedjie vir die rolprent Vicki, wat die volgende jaar vrygestel is. Dit was sy grootste treffer en het op 2 April 1971 tot Springbok Radio se Top 20 toegetree en die vierde plek gehaal.

Dieselfde jaar het hy sy debuut as akteur gemaak toe hy teenoor Pietie Meyer en Lindie Roux in die rolprent Lindie te sien was. Hy het ook die temaliedjie vir hierdie rolprent gesing. Lindie Roux het bekendheid verwerf toe sy op tienjarige ouderdom teenoor Gé Korsten in die rolprent Hoor my lied gespeel het.

Onder sy ander Afrikaanse treffers in daardie tyd was “Ahoi Madagaskar ahoi” en “Liedjie van die see”, ʼn Afrikaanse weergawe van Dave Mills se treffer “All the tears in the world”. Lance sou aanvanklik “Daar’s niks soos ware liefde” opneem, maar sy platemaatskappy het besluit Groep 2 moet dit doen en dit het die grootste treffer van hul loopbaan geword.

In April 1976 het hy vir die eerste keer die program Keep it country op Springbok Radio uitgesaai. Hoewel kunstenaars soos Lance, Bobby Angel en Barbara Ray toe reeds verskeie treffers op Springbok Radio se Top 20 gehad het, het dié program gelei tot ʼn oplewing in die gewildheid van country-musiek in Suid-Afrika.

Tot 1985 is ʼn Keep it country-musiekfees jaarliks by die Randse Skou aangebied. Nadat Springbok Radio in 1985 gesluit het, het hy dié program ook vyf jaar lank op Radio Orion aangebied. Nog ʼn gewilde program wat hy op Springbok Radio aangebied het, was Bubbling under/Op die drumpel, wat Saterdagmiddae voor die Top 20 uitgesaai is. In hierdie program het hy nuwe vrystellings gespeel wat moontlik tot die Top 20 kon toetree.

Nadat Lance die SAUK verlaat het, het hy ʼn promosie-agentskap gestig en konserttoere vir kunstenaars begin reël. Baie mense dink sy bynaam, “Big Daddy”, is ʼn aanduiding dat hy homself as die vader van country-musiek in Suid-Afrika beskou het. Dit is egter nie waar nie, want Charles Jacobie was byvoorbeeld die eerste kunstenaar wat country in Afrikaans gesing het. Niemand het egter meer gedoen om country-musiek in Suid-Afrika te bevorder as Lance nie.

Nog ʼn projek waarby Lance later jare betrokke geraak het, was die groep Over the hillbillies, waarvan Billy Forrest, Clive Bruce, Joanna Field en Sally Vaughan ook deel was. Hulle het treffers soos “Sweet summer love”, “Tomorrow’s dreams” en “Carry on” gehad en twee albums opgelewer.

Toe Lance sy vyftigste jaar in die vermaaklikheidsbedryf gevier het, het hy ʼn nuwe album, getiteld 50 goue jare vrygestel en Jurie Els was verantwoordelik vir die lirieke van die titelsnit. Jurie het trouens heelwat van Lance se lirieke geskryf en hulle het saam twee snitte opgeneem, naamlik “Vriendskap” en “Ek onthou nog daai plate”.

Lance tree nog gereeld op en is nog nie gereed om uit te tree nie. Hopelik sal hy oor twee jaar kan sing: “Tagtig goue jare het verbygegaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wat-ek-lees ·

Veels geluk Lance.
Goeie jare toe mens nog na die radio kon luister betreffende musiek en sang. Nou se dae is die radio ‘n ornament wat net daar staan. Die stasie 102.7 van Classic FM is nogal nie te onaardig maar soms ook grafmusiek, tog egter spanne beter as die res.

Chris Ws ·

Ja veels geluk Lance James.Hoop jy lekker verjaar!My vrou is erg oor haar foto waar sy tussen jou en Bobby Angel staan na ‘n konsert van julle in Rustenburg so 18 – 19 jaar gelede.En ek moet saamstem dat ons radio stasies onluisterbaar geword het as ek vat hoe dit was so 25 jaar gelede!Toe was dit ‘n fees om na musiek op stasies soos Radio Hoeveld en Jakaranda te luister maar deesdae . . . . nee wat!My radio werk een maal per dag as ek net die nuus luister dan is hy weer af tot die volgende dag toe .

Kallie ·

Ek dink met groot nostalgie aan Springbok radio. Huiswerk daarby gedoen tot so 3.45nm en dan gaan swem saam met vriende. Heerlike ,sorgvrye dae!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.