Biggy nie meer by Hartenbos-konsert na regsaksiedreigement

Biggy (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die bekende “Dames”-sanger, Biggy, is nie meer deel van die jaarlikse In Afrikaans-musiekkonserte op Hartenbos nie.

Dié konserte vind tans tot Saterdag by die Hartenbos-amfiteater plaas.

Volgens die organiseerders van die konsertreeks het In Afrikaans onlangs ʼn dreigement van regsaksie van ʼn mededingende konsertorganiseerder ontvang en het hulle daarom besluit om Biggy aan die konsert te onttrek.

“Biggy is ʼn jong, nuwe kunstenaar en In Afrikaans voel dat hulle nie in hierdie stadium vir Biggy aan hofsake wil blootstel nie,” het die organiseerders gesê.

Ander kunstenaars soos Kurt Darren, Francois van Coke, Karen Zoid, Leah, Early B, Jo Black, Refentse, Elandré en Spoegwolf is ook by die konserte te sien. Biggy sou deel vorm van die In Afrikaans-gala-aande wat vandag en môre plaasvind.

“In die gees van die feestyd het In Afrikaans besluit om Biggy eerder aan die konsertreeks te onttrek om regsaksie oor die Desembervakansie te vermy en sodoende die gees van die In Afrikaans-konsertreeks positief te hou.”

Die organiseerders het nie uitgebrei oor die strekking van die regstappe nie.

Biggy het vroeër aan Maroela Media vertel hy is opgewonde om vir die eerste keer by dié konsert betrokke te wees.

“Dit gaan ʼn ervaring en ʼn half wees. Ek is op my senuwees, maar ook opgewonde,” het hy gesê.

Konsertgangers kan terugbetalings op hul kaartjies by iTickets ontvang as hulle weens Biggy se onttrekking nie meer ʼn konsert wil bywoon nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.