Billboards: Post Malone, Billie Eilish maak skoonskip

Post Malone ontvang sy toekenning vir kunstenaar van die jaar. (Foto: AP Photo/Chris Pizzello)

Die jaarlikse Billboard-musiektoekennings is Woensdag in die Dolby-teater in Los Angeles, VSA, aangebied.

Die sangeres en aanbieder Kelly Clarkson was vir die derde agtereenvolgende jaar die gasvrou. Daar was geen gehoor teenwoordig nie.

Taylor Swift, Billie Eilish en Post Malone het die meeste benoemings ontvang. Malone is vir 16 toekennings benoem en is met nege toekennings huis toe, onder meer vir kunstenaar van die jaar. Eilish het ook talle toekennings ingeoes, onder meer vir beste vrouekunstenaar.

Harry Styles, Lizzo, sir Elton John, Pink en Khalid is ook elkeen met ʼn toekenning bekroon. Lauren Daigle is as beste Christelike kunstenaar aangewys terwyl die Jonas Brothers as beste duo of groep vereer is.

Kanye West is as top-gospelkunstenaar van die jaar aangewys. Sy jongste album, Jesus is King, is ook as top- Christelike album en top-gospelalbum aangewys.

Billie Eilish. (Foto: AP Photo/Chris Pizzello)

Die gewilde country-sanger Garth Brooks het die gesogte ikoontoekenning (Icon award) ontvang, wat deur die ikoniese sangeres Cher aan hom oorhandig is.

John Legend, Alicia Keys, Brandy, En Vogue, BTS en Luke Combs het vertonings gelewer tydens die geleentheid. Legend het sy uitvoering van sy liedjie “Never break” aan sy vrou, Chrissy Teigen, opgedra. Sy het onlangs onthul dat sy ʼn miskraam gehad het.

Demi Lovato het ook haar jongste snit, “Commander in Chief”, uitgevoer. Dié liedjie handel oor die Amerikaanse president Donald Trump.

Hier is ʼn volledige lys van die wenners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae