‘Binnelanders’-sterre is ‘Keelvol’ in nuwe produksie

Je-Ani Swiegelaar en Germandt Geldenhuys, die twee geliefde akteurs wat teenoor mekaar speel as Naomi Ferreira en Louis Koster in die kykNET-sepie Binnelanders, is nie nét kollegas en goeie vriende wat oor naweke saam braai nie, maar is ook nou saam te sien in die toneelstuk Keelvol.

Swiegelaar, wat verlede jaar saam met Bouwer Bosch op die Aardklop Nasionale Kunstefees te sien was in die skreeusnaakse toneelstuk Lykskou, is nou weer op die planke te sien in Keelvol, as die vrygeestige Mariëtte Labuschagne.

Mariëtte woon op Bloemendal en droom daarvan om die volgende Karlien van Jaarsveld te wees. Dan verhuis Dirk Havenga, ʼn bekende musikant en sanger na dié dorp en Mariëtte begin by hom sanglesse neem. Terwyl Dirk baie ernstig is oor sy sang, opwarming en asemhaling, is Mariëtte die soort meisie wat net wil sing en op die verhoog wil wees, en nie omgee hóé sy daar uitkom nie.

Aanhangers van Geldenhuys, wat hom hoor sing het in die lokettreffer Kanarie en ook onlangs sien sing het op die gewilde SABC2-musiekprogram, Noot vir noot, sal bly wees om te hoor dat hy ook in dié produksie sy musikale talent ten toon gaan stel. Swiegelaar sing ook self in die produksie.

Germandt Geldenhuys en Je-Ani Swiegelaar in 'Keelvol'. (Foto: Deon van Wyk/Die Blou Hond)

Germandt Geldenhuys en Je-Ani Swiegelaar in ‘Keelvol’. (Foto: Deon van Wyk/Die Blou Hond)

“Die toneelstuk het eintlik as ʼn glipsie gebeur nadat ek en Germandt een aand op my balkon gesit het en Jukebox op kykNET in die agtergrond op die televisie was,” vertel Swiegelaar aan Maroela Media.

“Ek het op universiteit gesing en het vir Germandt gevra of hy nie sal lus wees om my ʼn paar sanglesse te gee nie, sodat ek my stem weer kan gebruik. Toe ons weer sien, gesels ons oor die konsep van ʼn toneelstuk en hier is ons vandag.”

Dié twee akteurs het reeds ʼn suksesvolle Namibiese toer agter die rug en beplan om in Julie ook na Botswana te toer met Keelvol. “Ons maak ook vanjaar ʼn draai in die Kaap en by Innibos. Die ding het regtig net skielik gegroei!”

Germandt Geldenhuys en Je-Ani Swiegelaar in 'Keelvol'. (Foto: Deon van Wyk/Die Blou Hond)

Germandt Geldenhuys en Je-Ani Swiegelaar in ‘Keelvol’. (Foto: Deon van Wyk/Die Blou Hond)

Sy vertel net soos enige ander vriendskappe kan sy en Geldenhuys ook lekker stry, maar dat hulle baie goeie vriende is. “Ons het vir bykans vyf weke lank elke aand van agt tot elf saans gesit en aan die stuk geskryf.

“Ons het aanvanklik gedink dit gaan sommer maklik wees, want ons weet mos nou wat ons wil doen en wat ons wil sê, totdat ons pen op papier neergesit het – toe het ons besef dit is nie heeltemal só eenvoudig nie,” lag sy.

Keelvol maak vandeesweek weer ʼn draai in die Blou Hond-teater in Pretoria. “Dit is die tweede keer dat ons die stuk daar aanbied, en ons is baie opgewonde. Die vorige keer was dit regtig baie goed ontvang.”

Keelvol is Donderdag 14 Maart in die Blou Hond-teater in Pretoria te sien. Kaartjies kos tussen R180 en R380 en is beskikbaar by die teater of by hierdie skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andrew ·

Ek het dit in Rustenburg gekyk en ek het dit vreeslik geniet! Uitstekende produksie met wonderlike sang en komedie!
Doen jouself ‘n guns!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.