Bles Bridges: 15 jaar later

Bles-Bridges-dankie-vir-alles-album

Daar word binnekort ‘n nuwe Bles Bridges album vrygestel waar verskeie sangers ‘n duet saam met hom sing. Foto: Verskaf.

Dit is vandag 15 jaar sedert een van die gewildste kunstenaars wat ons land tot dusver opgelewer het, Bles Bridges, in ’n motorongeluk oorlede is.

Daarom is dit gepas om hulde te bring aan ’n sanger wat soms omstrede was, maar beslis as een van ons land se grotes beskou kan word.  Ongelukkig het Bles soveel albums vrygestel dat dit onmoontlik is om iets oor elkeen te sê sonder om mense te verveel, en daarom het ek besluit om net enkele hoogtepunte uit te sonder, en veral te konsentreer op sy opgang wat gelei het tot sy uitverkoopte konserte in die Sun City Superbowl in 1987.

Lawrence John Gabriel Bridges is op 22 Julie 1946 in Viljoensdrif in die Noord-Vrystaat gebore en het sy bynaam by sy Ierse oupa gekry omdat hy as baba so min hare op sy kop gehad het.  Hy het in 1972 ’n langspeelplaat saam met Minnie van Heerden gemaak.  Die naam van die album was Morné en Marié sing, omdat Corrie Mubyrgh, die regisseur van die album wat later met die sangeres Cora-Marie getroud is, van mening was dat die naam Bles nie by die publiek byval sou vind nie.  Hierdie album was nie ’n sukses nie.

Tien jaar later sou die publiek egter vir die eerste keer van Bles kennis neem met die bekendstelling van sy eerste solo-album Onbekende Weermagman.  Aanvanklik is die liedjie geskryf as moontlike tema van die rolprent Ongewenste vreemdeling, maar dit is nie gekies nie en die woorde is aangepas.  Die grensoorlog was daardie tyd aktueel en Esmé Euvrard het dit destyds gereeld in haar radioprogram vir die soldate liedjies gespeel.  Bles het in daardie dae gereeld voorvertonings vir die legendariese country-sanger Lance James gedoen wanneer hy in die Vaaldriehoek opgetree het.  Hy het Bles aangespoor om ’n loopbaan van musiek te maak en hy het ’n langtermynkontrak met die platemaatskappy Brigadiers losgeslaan.  Onder die treffers op Onbekende Weermagman was Koerantverkopertjie, geskryf deur Anna Rudolph en Gee my die veld en sonskyn, waarvan die woorde deur sy vrou, Leonie, geskryf is.  Tawwe tienies was die temaliedjie van die gelyknamige komedierolprent wat in daardie tyd uitgereik is.

Bles se tweede album, Bles, het teen die einde van 1983 gevolg.  Hoewel die Musiek en Liriekbeweging vier jaar tevore die geskiedenis van Afrikaanse musiek verander het, het nie almal oorspronklike Afrikaanse liedjies gesing nie en die publiek was steeds ontvanklik vir bestaande wysies met Afrikaanse woorde.  Dit was veral duidelik toe Bles se Afrikaanse weergawe van die Foster and Allen-treffer Maggie ’n groot treffer geword het.  Leonie het al hoe meer woorde vir Bles begin skryf en nog twee liedjies waarvoor sy vir die woorde verantwoordelik was, Nie vir ’n duisend miljoen en Eenmaal in jou lewe, het gewild geword.  Onbekende Weermagman is weer by hierdie album ingesluit, terwyl Dis huis toe ook by die troepe byval gevind het.

In 1985 word Bles se derde album, Uit die boonste rakke, bekendgstel.  Benewens Ek was altyd lief vir jou en Deur die jare heen, die Afrikaanse weergawes van Foster and Allen se I will love you all my life en After all these years onderskeidelik, het die album twee oorspronklike Afrikaanse treffers opgelewer, naamlik Meisiekind (wag vir my) en Suiderland, laasgenoemde ’n pragtige komposisie van Tony Hyman.  Bles en die radio-omroeper het saamgespan vir Seuns op ons grense, op die wysie van Goombay Dance Band se groot treffer Sun of Jamaica.

Bles se groot jaar was 1986, toe hy vir die eerste keer twee albums vrygestel het.  Die Nederlandse sanger Heintje Simons het in 1975 groot sukses met sy Afrikaanse album Heintje sing in Suid-Afrika gehaal en Bles het ’n reuse treffer gehad met drie van die snitte vanaf hierdie album, maar veral met Ruiter van die windjie.  Hierdie liedjie is in die nuwe FAK-sangbundel opgeneem, maar daar word verkeerdelik aangedui dat Leonie Bridges die woorde geskryf het.  Die woorde van die meeste van Heintje Simons se Afrikaanse liedjies, indien nie almal nie, is geskryf deur Ben E. Madison, wat in 1968 ’n groot treffer met Groen koringlande gehad het.  Nog ’n Heintje Simons-treffer wat baie mense dink Bles oorspronklik gesing het, is Jou hart is weer myne, die enigste Afrikaanse liedjie deur ’n oorsese kunstenaar wat Springbok Radio se Top 20 kon haal.  Vir een en almal, die album waarop hierdie twee snitte, asook Hei gaan jy weer wat ook ’n treffer vir Heintje Simons was, voorgekom het, was ’n sukses, maar dit was maar net die begin.  Bles se eerste Engelse album, I am the eagle, you’re the wind, het ook in daardie jaar verskyn en die titelsnit was ’n enorme treffer.  Op nog ’n snit vanaf hierdie album, I’m casting my lasso, het Bles gewys dat hy goed kon jodel, en het hy die pionier van Afrikaanse country-musiek, Charles Jacobie, nagedoen.  Nog ’n groot treffer was Room full of roses.  Een rede waarom mense mal was oor hom, of niks van hom gehou het nie, was dat hy met elke konsert rose aan die vroue in die gehoor uitgedeel het terwyl hy hierdie liedjie gesing het.  Nog ʼn snit wat ʼn groot treffer geword het, was Beat of my heart.

Bles-Bridges-Deur-die-jare-heen

Bles Bridges se ‘Deur die jare heen volume 2’ album. Foto: Argief.

In 1987 het Bles weer twee albums vrygestel.  Reik na die sterre was weer eens ’n blitsverkoper en die titelsnit was die enigste van Bles se treffers wat die Treffer van die Jaar op Edwill van Aarde se radioprogram Afrikaanse treffers geword het.  Op hierdie album het Bles ’n Afrikaanse weergawe van Elton John se nr. 1-treffer Nikita ingesluit, maar snaaks genoeg was dit nie so gewild nie.  Op 14 en 15 Mei 1987 het Bles by die Sun City Superbowl opgetree; die eerste Afrikaanse kunstenaar wat dit kon regkry.  Die kaartjies vir albei dae se konserte was uitverkoop; iets wat internasionale kunstenaars nie kon regkry nie.  Later in dieselfde jaar het sy tweede Engelse langspeelpaat, Fight for love, verskyn.  Die titelsnit was ʼn treffer, maar daar was ook een omstrede snit.  Die vorige jaar het Anneli van Rooyen groot sukses met Ek lewe behaal.  Wat die publiek egter nie geweet het nie, of waaraan hulle nie gedink het nie, was dat Ek lewe nie ’n oorspronklike Afrikaanse liedjie was nie, maar dat dit ’n Duitse melodie met Afrikaanse lirieke was en dat Bles eintlik net ander woorde op dieselfde wysie gesing het.  Twee van Bles se albums, Reik na die sterre en I am the eagle, you’re the wind, is daardie jaar op CD uitgereik.

Nog twee Afrikaanse albums, Laat my lewe, laat my liefhê en Nog ’n nuwe dag, het die volgende twee jaar verskyn.  In 1989 het ’n rolprent oor Bles se lewe, The devil and the song, verskyn.  Die draaiboek is deur niemand minder nie as PG du Plessis geskryf.  Bles het homself in die rolprent gespeel, terwyl Janet du Plessis die rol van Leonie vertolk het.  Hoewel die rolprent nie so gewild was as wat ’n mens sou verwag nie, het die klankbaan goed verkoop.  Die musiekentrepreneur Albie Venter is in 1990 aan ’n hartaanval oorlede en Bles het sy album Let me love you ter nagedagtenis aan hom opgeneem.  Hierdie album het ʼn duet saam met die Amerikaanse aktrise en sangeres Audrey Landers ingesluit.

Bles het bewys dat hy feitlik enigiets kon sing nadat hy die albums Classics my way en Country my way, asook die Christelike albums Back on my feet again en Silent night vrygestel het.  Sy veelsydigheid as kunstenaar en sy verhoogpersoonlikheid was twee redes waarom hy so gewild geword het, selfs al was sy musiek nie altyd oorspronklik nie.  Daar is ook al verskeie trefferversamelings, onder meer Bles se grootste treffers, Love and roses en Deur die jare heen vrygestel.  Laasgenoemde was ʼn versameling in twee volumes; die eerste een is net na Bles se dood vrygestel en die tweede een omtrent ses maande later.  Op 21 Maart 2000 het Bles die liedjie First kiss goodnight saam met Patricia Lewis opgeneem vir ’n duetalbum wat hy saam met verskeie kunstenaars beplan het.  Drie dae later is hy egter oorlede toe hy van Jan Kempdorp op pad na Vereeniging toe was.  Hierdie liedjie is op die eerste volume van Deur die jare heen ingesluit.

Hoewel die beplande duetalbum nie in sy leeftyd voltooi is nie, is daar wel een in die vooruitsig.  Deur middel van moderne tegnologie is Bles se stem by dié van hedendaagse kunstenaars, onder meer Ricus Nel, Manie Jackson, Nadine, André Venter en Ray Dylan gevoeg.  ʼn Volledige resensie van hierdie album, getiteld Dankie vir alles, sal binnekort verskyn.

Luister saam na een van Bles se grootste treffers, Ruiter van die windjie:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Theresa ·

Ek het hierdie nuwe CD van Bles gekoop. Ek is bitter teleurgesteld in dit. Daar is van die sangers wat se stemme glad nie werk saam met Bles sin nie en dit kraak sy liedjies heeltemal af. Ek het niks teen enige van die sangers nie. Hulle is great in hulle eie reg MAAR NIE op hierdie CD nie. So baie spyt ek het dit aangeskaf.

Jemma ·

een van die beste sangers wat ons nog ooit gehad het.sooo baie probeer hom nadoen maar maak hulself net belaglik.sy gelyke bestaan eenvoudig nie..en neeee eks nie n bejaarde ou tannie….RIP Bles

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.