Blink toekoms wag op Sharoney

sharoney-02

Sharoney. Foto: Facebook.

Dit gebeur nie sommer dat ’n kunstenaar al in sy of haar matriekjaar ’n deurbraak in die Afrikaanse musiekbedryf maak nie.

n 2013 het die groep Adam by ’n liefdadigheidsfunksie in Springs opgetree. Reynhardt Hugo, wat die rol van dr. Tertius Jonker in Binnelanders vertolk, het vasgehaak op die stel van die sepie toe die optrede plaasgevind het, en ’n blonde matriekmeisie is gevra om ’n paar liedjies te sing terwyl hy op pad was na die funksie toe.

Sharoney Viljoen, wat net onder haar naam sing, het op skool hoofsaaklik aan kultuuraktiwiteite soos drama, kunswedstryde en redenaarskompetisies deelgeneem en tussendeur ook hokkie gespeel. Sy het in haar graad 8-jaar die hoofrol in die groentjiekonsert gekry en later deel geword van ’n a cappella-sanggroep wat as die Jonge Juffies bekendgestaan het.

In haar matriekjaar aan die Hoërskool Hugenote in Springs het sy aan ’n verhoogproduksie getiteld Wasem by die Grahamstad-kunstefees deelgeneem nadat die regisseur daarvan, At Strydom, haar genader het. Sy was kort tevore nog besig met opnames van haar skoolrevue toe sy gevra is om deel te neem nadat die aanvanklike sangeres wat die rol sou vertolk, op kort kennisgewing onttrek het. Hoewel Sharoney se stem nog seer was, het sy deurgedruk. Haar ma het haar geleer dat jy jou beste moet lewer as jy vir iets ingeskryf het en dat jy mense nie moet teleurstel nie. Later in haar matriekjaar was sy ook in ’n produksie by die KKNK te sien.

Nadat haar eerste treffersnit, “Een keer”, omtrent ’n jaar lank op verskeie trefferslyste was, het haar tweede treffer, “Hemel op aarde”, verskyn. Reynardt Hugo en Hugo Ludik het hierdie twee snitte geskryf en sy was dadelik mal daaroor. Haar debuutalbum, In ons fairytale, het verlede jaar verskyn en nog verdere treffers, onder meer “Prinses” en “Wees my held” opgelewer.

Reynhardt Hugo en Hugo Ludik van Adam het die meeste liedjies op die album geskryf, en Desiré Gardner, wat tot onlangs nog die rol van Daleen Jonker in Binnelanders vertolk het, het ook hier en daar hand bygesit. Nog ’n liedjieskrywer saam met wie sy gewerk het, is Lokka Vox. Haar regte naam is Anki Delport; haar broer en skoonsuster is Wynand en Lindi Delport wat as die sangpaar Anders bekendstaan.

Lokka Vox se komposisie “Na na hey” was onder die eerste tien tydens verlede jaar se Afri-Visie-kompetisie. Die gedagte was aanvanklik nie om noodwendig ’n hele album vry te stel nie, maar Sharoney was uiteindelik bly dat sy dit gedoen het. Die opname en vrystelling van die album was egter ’n lang proses wat omtrent ’n jaar geduur het.

As jy haar vra watter kunstenaars haar inspireer, noem sy dadelik die legendes van Afrikaanse musiek, onder andere Laurika Rauch, Juanita du Plessis, Steve Hofmeyr en veral Carike Keuzenkamp wat, volgens haar, ewigheidswaarde het. Dit was die musiek waarmee sy grootgeword het, en die feit dat hulle steeds nuwe albums vrystel, is volgens haar ’n bewys dat hul musiek die toets van die tyd deurstaan het.

Sharoney sê sy stel beslis daarin belang om self liedjies te skryf; as jy eers begin het, sê sy, kan jy nie ophou nie. Sy wil ook saam met ander liedjieskrywers werk en ook vir ander kunstenaars skryf. Die kuns is egter om elke keer ’n nuwe manier te kry om iets te sê. Só kan jy byvoorbeeld net op ’n paar maniere sê: “Ek is lief vir jou.” Volgens haar help liedjies skryf om ’n mens se talent te ontwikkel. Soos wat sy meer ondervinding opdoen as liedjieskrywer, sê sy, sal sy meer kan skryf oor persoonlike lewenservaring. Sy glo dat ’n kunstenaar gedurig moet groei en ontwikkel. Sy is ’n uitgesproke en toegewyde Christen, en sal baie beslis in die toekoms ’n Christelike album wil vrystel.

As Sharoney nie sing nie, geniet sy die buitelewe. Sy hou van diere, motorfiets ry in die veld, jag en visvang, en soos enige goeie Suid-Afrikaner hou sy van rugby, biltong en braaivleis. Sy beskou haarself as ’n trotse Blou Bul-ondersteuner. Sy geniet dit om “kind” te wees en die gewone dinge in die lewe te doen. Sy kuier ook graag saam met haar familie. Daarby is sy lief vir kinders en sy beskou kinders as die toekoms van ons land wat eendag moet leer om vir hulself op te staan. Sy is betrokke by verskeie liefdadigheidprojekte wat op kinders fokus.

In Oktober vanjaar gaan sy ’n landwye toer onderneem saam met Cordelia en Ray Dylan. Tydens dié toer gaan hulle onder meer in Paarl, Heroldsbaai, Port Elizabeth, Hentiesbaai en Klerksdorp optree. Verder beplan sy om aanstaande jaar aan ’n nuwe album te begin werk; Adam gaan weer vir haar liedjies skryf, maar sy hoop dat sy ook van haar eie komposisies daarop kan insluit. Intussen is haar debuutalbum steeds besig om treffers op te lewer. Daar wag inderdaad ’n blink toekoms op Sharoney!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Zia ·

een van S-A se sterkste stemme sy is fabulous dankie vir die verskil wat jy in soveel mense se lewe maak jy gaan nog ver kom vriendin… ek glo in jou meer as wat jy ooit sal kan verstaan… Lief jou Shar!!!

Barries Barnard ·

Sy is ‘n ster duisend sy het ‘n hart van goud en ‘n stem wat mens stilmaak en luister. Ek is bly dat sy goed doen en ek weet sy gaan nog groot hoogtes bereik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.