Bloed ís dikker as water, sê Die Campbells


Die Campbells (Foto: Verskaf)

Die Campbells (Foto: Verskaf)

Meer as 800 000 van Die Campbells se albums het al van die rakke gevlieg sedert dié duo in 2001 You’re my mate vrygestel het. Nou het hulle onlangs hul 17de ateljee-album, Bloed is dikker as water, vrygestel en sê dié album gaan aanhangers wéér aan’t skoffel kry.

Die Campbells het sedert hul verskyning op die musiektoneel bykans elke jaar ʼn nuwe album vrygestel.

Hulle word veral geken aan treffers soos “Rooi Rok Bokkie” en “Jy’s die girl”. “Ons probeer elke jaar om iets vars en anders in die bedryf te doen. Dis vir ons baie belangrik om oorspronklik te bly,” sê hulle.

Die groep meen die jongste album is hul beste werk nóg. “Met die maak van die album was ons nie onder druk nie –  inteendeel, ons het amper ʼn jaar aan die produksie gewerk. Vanuit ʼn tegniese oogpunt en die liedjieskryfproses, is dit die beste album tot dusver.

“Die album bevat ook die gevorderde kitaarspel waaraan ons aanhangers ons begin ken het en wat hulle baie geniet.  Dit is ʼn saamsing-album met oulike stories en lirieke wat almal kan geniet.”

Hoekom dink hulle Die Campbells se musiek is so suksesvol? “Ek dink ons weet wat Suid-Afrikaners wil hê. Hulle wil assosieer met die woorde én die klank. Ons sing natuurlik ook vir Afrikaans- én Engelssprekendes en probeer met alles ʼn groot gehoor dek.”

Die Campbells het onlangs ʼn DVD opname gemaak met 80 liedjies wat in 2017 vrygestel gaan word.

Bloed is dikker as water pryk ook reeds op verskeie treffersparades. Liedjies soos “Love At First Sight”, “Burning Up” en “Beloftes” speel tans op die klankgolwe.

Vir meer inligting, besoek Die Campbells se Facebook-blad.

Laai ook Bloed is dikker as water af op iTunes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marianne ·

Mmmmmm yum!!!! Harry en Tony sing so mooi omdat hulle so mooi is. Hulle is ordentlik en het ‘n unieke Neels en styl.
WEL GEDAAN MANNE.
Mag Bloed is dikker as water ‘n reuse sukses wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.