Bloemfonteiner stel nuwe wêreldrekord op

Jaco Uys net nadat hy die wêreldrekord opgestel het. (Foto: Facebook)

Die Bloemfonteiner Jaco Uys (29) het die afgelope naweek ʼn nuwe wêreldrekord opgestel vir die langste kitaarles wat aanlyn aangebied is.

Die vorige langste aanlyn kitaarles in die Guinness World Records is opgestel deur ʼn man in Londen wat 24 uur en ses minute lank ʼn kitaarles aangebied het.

Uys, die eienaar van Jooba School of Music, het sy les 25 uur lank aangebied en het dit ook in ʼn geldinsameling omskep om kinders met selfvertrouekwessies te help.

“Vir talle studente by die musiekskool is die kitaarlesse eerder ʼn sielkundige ding. Dit help die kinders met hul selfbeeld en ouers sê gereeld vir ons hoe vol selfvertroue die kinders weer is ná ʼn musiekles – dan het hulle weer lus vir die lewe,” vertel Uys.

Uys het R10 000 met sy wêreldrekord-poging ingesamel en wil dit gebruik om programme by sy musiekskool op te stel wat spesifiek daarop fokus om kinders juis met dié kwessie te help.

“Ons wil kinders, en grootmense ook, se kursusse borg om só doelgerig na dié mense uit te reik.”

Uys het Saterdag om 08:00 begin met die les en regdeur aangehou tot Sondag om 09:00. Die enigste tyd dat hy ophou speel het, was om elke twee uur ʼn 15 minuut lange breuk te neem.

Jaco Uys (Foto: Facebook)

Hy vertel dat sy studente hom baie ondersteun het deur met hom te gesels en liedjieversoeke op die regstreekse boodskaplyn te plaas.

“Dit was baie moeilik omstreeks 03:00 en 04:00 [Sondagoggend] omdat baie min mense ingeskakel gebly het. Ek het amper tou opgegooi, maar toe mense weer wakker word en inskakel, het die energie sommer vinnig weer opgevlam.”

Uys sê aan die einde kon hy maklik vir nog ʼn uur les gee, so hoog was die energielading op die regstreekse boodskaplyn.

Hy vertel dat dit vir hom die lekkerste was om mense se terugvoer te hoor en dat mense vanaf China, Pakistan en Dubai ook ingeskakel het. Die moeilikste was wel om sy energievlakke hoog te hou aangesien hy nie kon slaap nie.

“Dit was ook lekker om weer my studente te inspireer. In die tyd van korona voel dit of alles stilstaan, so ek dink dit was lekker vir hulle om iets te sien wat vorentoe beweeg en wat nie oor die virus gaan nie.”

Uys se doelwit is om R100 000 in te samel om kinders deur middel van musiek met hul selfvertroue te help. Hy sê hy is reeds besig om te dink aan die volgende uitdaging wat hy kan aanpak om nader aan dié teiken te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.