‘Blohm-Kraal-Woorde’: Waar kuns, poësie en musiek byeenkom

Charles Smidt (Foto: Verskaf)

Deur Anja van der Merwe

Blohm-Kraal-Woorde is ʼn aanbieding waartydens visuele kunste, digkuns en musiek byeen gaan kom. Met die visuele kunswerk van Jan Blohm, woordkuns van Charles Beeskraal Smidt en die digkuns van Ané Kotzé, wat onder die naam Kaalwoorde skryf, kan hierdie kunsaand enig in sy soort wees.

Smidt is die hoofsanger van die groep Beeskraal en skryf ook self al vir ʼn wyle sy eie woordkuns. Hy is vroeër vanjaar geïnspireer om ’n kunsaand op die been te bring waartydens verskeie soorte kuns in een aand bymekaar gebring kan word. Hy het vir Jan Blohm en Ané Kotzé van Kaalwoorde genader om deel te word van dié inisiatief.

“Ek is mal oor Jan se kunswerke en het dadelik aan hom gedink toe ek die idee vir die aand gekry het. Ek en hy gaan ook saam musiek maak deur die loop van die aand,” vertel Smidt.

Jan Blohm (Foto: Verskaf)

Smidt het vroeër vanjaar Kotzé se Kaalwoorde-digkuns op sosiale media ontdek en was heel beïndruk oor haar woordvernuf. “Sy is vir my ʼn hedendaagse Ingrid Jonker,” sê Smidt.

Blohm en Kotzé gaan hulle kunswerke die aand uitstal. Smidt gaan ook sy eie woordkuns tentoonstel. Hy verwys daarna as “liefdesbriewe” of sogenaamde “love art waar hy sy woorde by ʼn kunswerk of foto inkorporeer.

Die beeldhouer Charl Enslin gaan as spesiale gaskunstenaar sy beeldhouwerk uitstal.

Smidt het aan Maroela Media gesê hy wil met dié kunsaand die eerste baksteen lê vir die opbou na ʼn behoorlike volledige kunstefees. “Ons het baie feeste in die land, meestal kommersieel, maar min werklike kunstefeeste wat die verskillende kunstipes ontgin.”

Ané Kotzé van Kaalwoorde (Foto: Verskaf)

Smidt beoog om volgende jaar in samewerking met borgskappe en mediavennote ʼn volledige kunstefees in Pretoria te hou waar kunstenaars reg oor die land betrek gaan word. Hy wil veral skole en jong ontluikende kunstenaars, soos jong skrywers, digters, skilders, akteurs en fotograwe, betrek en vir hulle ʼn platform gee om blootstelling te kry.”

Vir Smidt is ʼn aand soos Blohm-Kraal-Woorde van kardinale belang om Afrikaans se gesofistikeerde kultuur lewend te hou. “Die Afrikaanse taal en kultuur is nog baie jonk en ons wil kan bydra tot sy ontwikkeling,” sê Smidt.

Die heel eerste Blohm-Kraal-Woorde-kunsaand vind op 6 November om 18:00 by die Pretoria-buiteklub plaas. Kaartjies kos R350 en sluit in toegang tot die kunsuitstallings, die musiekkonsert en ʼn heerlike ete. Daar is ook kunswerke te koop. Bespreek jou kaartjies hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.