Blou bul droom- Verskeie Kunstenaars

Vanjaar is die 75ste bestaansjaar van die Blou Bulle-rugby-unie (wat voorhen as Noord-Transvaal bekendgestaan het).

Ter viering darvan is ‘n CD vrygestel met ‘n aantal liedjies vir Blou Bul-ondersteuners; sommige is splinternuut, ander is bekend terwyl ‘n aantal ook reeds bekend is, maar herskryf is. Die eerste snit is Bok van Blerk se Blou Bul-snor, wat deur Johan Vorster en Bok self  geskryf. Hierin sing Bok van die “oorspronklike Blou Bul”, Louis Schmidt, wie se seun Uli ook vir die Blou Bulle gespeel het.  Net voordat die Springbok-rugbyspan in 2011 aan die Wêreldbekertoernooi delgeneem het, is die versamelalbum Rugby is groot, vrygestel. Een van die treffers vanaf dié album was Bokke, bring die beker huis toe, wat deur Jay gesing is. Hierdie liedjie is herskryf as Bulle, bring die beker huis toe, en dit sal sekerlik ‘n treffer onder die Blou Bul-ondersteuners wees.  Daar is ook ‘n dansweergawe ingesluit, maar die oorspronklike een is beter.Gerhard Steyn is bekend as ‘n Blou Bul-ondersteuner, en hy het Blou masjien vroeg in  sy loopbaan geskryf en opgeneem. Stukkie van der Merwe deur Pieter Smith en DJ Ossewa is dalk nie ‘n rugbyliedjie nie, maar ‘n mens lag lekker vir die lirieke. Steve Hofmeyr is een van die bekendste Blou Bul-ondersteuners, en Maak die Bulle almal Bokke is een van verskeie liedjies wat hy al van dié span geskryf het. Gelukkig is Go Bulle go, seker sy vrotste Blou Bul-liedjie tot dusver, nie hier ingesluit nie. Arno Jordaan se volgende CD word glo binnekort vrygestel, maar intussen is ‘n nuwe liedjie van hom, Die Bul is baas, hier ingesluit. Leon Schuster is natuurlik die koning van die rugbyliedjie, en Op Loftus (wat anders?) is hier ingesluit. Dis net jammer dat dit die nuwe weergawe is, en nie oorspronklike een nie.  Rooi rok bokkie was seker die Campbells se grootste treffer, en die woorde is herskryf na Blou bul bokkie toe. Jak de Prister en Dozi het saamgespan vir Die oom-song, wat Jak geskryf het; dit was ‘n groot treffer vir hulle. Blou Bul shebeen was op Bok van Blerk se laaste album, My kreet, en jy lag nou nog daarvoor.

Die krag van die vlag is byna heeltemal anders as enigiets anders wat Pieter Koen tot dusver opgeneem het; Ampie du Preez, Murray Lubbe en Vaughan Gardiner het dit saam geskryf. Hopelik sal dit ‘n groot treffer word. Staan saam is die Campbells se tweede bydrae tot dié album, en dit is ‘n baie goeie oorspronklike komposisie. Die bekendste Blou bul-liedjie is sekerlik Die Blou Bul van Steve Hofmeyr, en dankie tog die oorspronklike weergawer daarvan is hier ingesluit. Jy torring mos nie aan ‘n treffer nie! Roer jou voete is dalk nie ‘n rugbyliedjie nie, maar dis goed om dit op hierdie versameling te sien.  Die Heuwels Fantasties en die Soweto Gospel Choir het saamgespan vir Our heritage; die Nasionale Braai-“anthem”, en dit is een van die hoogtepunte op die album. Die grootste irritasie op Loftus in die beginjare van hierdie millenium was die skare wat Gé Korsten se Liefling gesing het elke keer wat die destydse losskakel Derick Hougaard ‘n bal deur die pale geskop het. Hierdie liedjie, gesing deur Jannie Moolman, Theuns Jordaan, Steve Hofmeyr en Derick se swaer, Bobby van Jaarsveld, is ingsluit, en die opname is by verlede jaar se Afrikaans is groot-konsert gemaak. Ampie du Preez is nog ‘n  kunstenaar wie se nuwe CD binnekort vrygestel word, maar intussen is ‘n pragtige nuwe snit wat hy saam met Johan Oberholzer geskryf het, Deur dik en dun, ingesluit. Jattie de Beer het bekendheid verwer as die voorsanger van die lof-en-aanbiddingsgroep Vertikaal, maar op Blou bul-hart sien jy ‘n kant van hom waarvan jy dalk nie bewus was nie. Hy het dit saam met Leon Gropp, wat saam met hom in Vertikaal was en nou lid van CH 2 is, geskryf. Die laaste snit is Bok van Blerk en Robbie Wessels se groot treffer, Ons vir jou Suid-Afrika, wat deesdae ook in die Voortrekkerbeweging gesing word.

Daar was jare gelede ‘n uiters vrot poging om ‘n Blou Bul-ondersteunersalbum vry te stel; Ons bloed is blou het werklik  ‘n paar snitte bevat wat Afrikaanse musiek se reputasie deur die modder gesleep het. Die Blou Bul-ondersteuners wat hulle met reg vir dié album vervies het, hoef nie bekommerd te wees nie, want Blou bul-droom is sommer baie beter.  Vir die meer ernstige rugby-ondersteuners is daar ook ‘n lys van spelers wat 100 of meer Curriebeker-wedstryde gspeel het (Mof Myburgh, wat op dié lys is, is oorlede sedert die album gereed gemaak is vir vrystelling), asook die rekord van die jare wat die Blou Bulle (en Noord-Transvaal) die Curriebeker en die Super Rugby-kompetisie gewen het, met die tellings van die eindstryde daarby.  Dit alleen maak die album al die moeite werd. Baie geluk aan die Blou Bulle met hierdie mylpaal, en mag hierdie album die ondersteuners nog lank laat sing!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.