Blou Trane

Al’astair

“Niemand het nog ‘n song geskryf nie. Die songs is daarbuite in die wind en in die blare en word bloot deur die Universe aan ons geopenbaar.” Hierdie wyse opmerking deur sy vriend, die straatdigter Loit Sôls, het die Kaapse sanger-liedjieskrywer Al’astair laat besluit om sy Blou Trane-album op te neem. “Ek wou net die songs wat oor ‘n klompie jare uit die wind en die blare op my kom val het, gou-gou vir altyd neerlê,” vertel hierdie (volgens hom) “biekie-biekie-amper-musikant” wat al die afgelope 25 jaar – wanneer dit nodig word – op Langebaan aan die Kaapse weskus “gaan laag-lê”.

Die album is skaars op die rakke en Al’astair kan breed glimlag, want Lank, lank gelede is reeds ‘n treffer op RSG met As jy staan op die maan kort op sy hakke. Dit is dié “sestigjarige jongman” se tweede album. Hy het al twaalf gelede met die album My hond Fanie gedebuteer.

Die 14 liedjies op Blou Trane het hom egter gekies, toe hy dit tussen 1998 en 2008 geskryf het, maar is eers onlangs saam met die produksieleier Andrew Roos in Brak Musiek se ateljees in Ermelo opgeneem. Die eindproduk is ‘n verfrissende en oorspronklike album wat in akoestiese ballades, blues-rock, folk en pop gedoop is.

Al’astair is ‘n storieverteller-liedjieskrywer wat sy musiek as ‘n “soort van soul music met spatsels van die liefde en romantiek” beskryf. Die titelsnit is byvoorbeeld ‘n ware verhaal van ‘n “baie nice, genuine en gereelde messteker”. “Hy het tattoos van blou trane op sy wange en ‘n blou bicycle’tjie op sy voorkop gehad. Ek het baie van hom gehou. Dalk omdat hy my oorgeslaan het met sy messtekery.”

Dit was eers toe hy veertig was dat hy sy eerste kitaar gekoop het – om sy hande besig te hou! Maar Al’astair se liefde vir musiek het darem veel vroeër in sy kleurryke lewe posgevat. “My tsunami-ma het in die sixties ‘n musiekblyspel, Kom dans Klaradyn, geskryf. Sy en my gentleman-pa het dit dwarsdeur die land met skoolkinders opgevoer. Ek was dus al op vyf jaar herhaaldelik op stage met musiek in my ore. En later, op skool, het my musiekonderwyser dikwels hard-op en ernstig vir my tydens my klavierlesse gebid omdat ek nie geoefen het nie.”

Al het Al’astair die klavierlesse laat vaar, het die musiek en liedjies aangehou om hom mee te sleur al glo hy vas dit gebeur maar so “per ongeluk”.

Al’astair is ‘n kookwater-musikant wat sonder foefies en konvensie sy hart-klanke en sielvolle lirieke in ‘n kragtoer van ‘n album verweef het. Hy sing en deel sy fyn waarnemings en treffende wyshede met die stem én sjarme van ‘n iemand wat al vir dekades die kitaar tokkel. Blou Trane is sonder twyfel reeds een van 2011 se blinkste diamante op die CD-rak. (Vonk Musiek)

Speellys

  1. As Jy Staan Op Die Maan
  2. Droomtowenaar
  3. Siel Steel
  4. Marissa
  5. Neuk
  6. Melkweg Blues
  7. Blou Trane
  8. Babe Uit Die Karoo
  9. Strate Van Die Kaap
  10. Giant Puzzle
  11. Bakke Vol Liefde
  12. Lank Lank Gelede
  13. Japie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.