Bobby en Karlien ‘gaan hul harte deel’

bobby en karlienKarlien en Bobby van Jaarsveld is al vir meer as ʼn dekade bekende en uiters gewilde stemme in die Afrikaanse musiekbedryf en het nou, ná jare se aandrang van aanhangers, besluit om saam ʼn verhoogproduksie op die been te bring.

Karlien verduidelik die vertoning verskil van die gewilde VIA-televisieprogram, In jou skoene, in dié opsig dat hulle meer persoonlike stories van hul eie lewens in die produksie verklap. Volgens haar sal konsertgangers haar en Bobby deur die produksie beter kan leer ken.

Bobby sê die lekkerste ding om saam met sy suster te werk aan die produksie, is die feit dat hulle mekaar só goed ken en dieselfde stories en ervarings deel. “Ons het dieselfde seer, dieselfde vreugde, dieselfde pyne beleef in ons jonger dae. Dit gaan nogal oorkom in die vertoning, want ons gaan bietjie dieper dinge van onsself deel as wat mense daar buite van weet.”

Hy sê hulle gaan stories vertel waarmee hy en Karlien al baie lank loop. “Ons sing natuurlik ook ons eie musiek in die vertoning, maar ons sing ook ander liedjies wat vir ons naby aan die hart is. Daar gaan ook ʼn paar verrassings op die verhoog wees, wat mense dalk vir ʼn oomblik gaan laat stil sit en dink.”

Volgens Bobby is daar ʼn fyn lyn tussen persoonlik en té persoonlik raak. “Daar is wel goed wat ons bereid is om met mense te deel om hulle ʼn dieper idee te gee van wie ons is, soos byvoorbeeld dat ek en Karlien vir ʼn ruk in ons lewe in ʼn karavaan gebly het. Mense dink ons is met ʼn goue lepel in die mond gebore, maar ons het harde klippe gekou om te kom waar ons is.”

Karlien en Bobby is dit ook eens dat die vertoning kindervriendelik is en dat daar ʼn paar snaakse oomblikke is wat veral vir kinders gepas is. “Almal is baie welkom,” sê Bobby.

Die sangers, wat ten nouste betrokke is by Hanna Grobler se Hanna Charity-liefdadigheidsorganisasie, doen ook ʼn beroep op konsertgangers om skoene saam te bring na die vertoning, wat dan aan dié organisasie geskenk sal word.

“Ek dink nie mense het ʼn benul hoeveel behoeftige mense deur Hanna se organisasie gehelp word nie,” sê Karlien. “Ons is ook baie passievol oor liefdadigheid, daarom vra ons dat mense wat kom kyk ʼn paar of twee ou skoene saambring, sodat ons dit dan weer kan skenk.”

“Bobby en Karlien van Jaarsveld – In ons skoene”, word op 21 Maart vir die eerste keer by Emperors Palace in Johannesburg aangebied. Kaartjies kos tussen R150 en R600 en is beskikbaar by Computicket.

WEN: Vyf gelukkige lesers kan elkeen ʼn dubbelkaartjie wen vir die vertoning van “Bobby en Karlien van Jaarsveld – In ons skoene” op Woensdag 21 Maart by Emperors Palace in Johannesburg. Om in te skryf, stuur jou naam, van, kontaknommer, woonadres en antwoord na [email protected], en beantwoord die volgende vraag: Aan watter liefdadigheidsorganisasie word die skoene geskenk? Die kompetisie sluit Maandag 19 Maart. Wenners word per e-pos in kennis gestel. Die kompetisie is gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Daan ·

Spaar ons die gesanik ,pleks skep hulle n program wat mense opvoed oor die stem proses en hoe die politiek werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.