Bobby oor AIG: ‘Dit is regtig swaar’

Bobby van Jaarsveld (Foto: Twitter)

Bobby van Jaarsveld het vroeër die maand aangekondig dat hy nie meer op die Afrikaans is Groot-verhoog te sien sal wees nie. Hy het aan Maroela Media vertel dat vir hom ʼn gewigtige en swaar besluit was.

“Ek gaan dit [Afrikaans is Groot] mis, maar volgende jaar is ek definitief weer terug op daai verhoog.  Dit is ʼn groot eer om deel te kan wees van dié produksie,” sê hy.

Van Jaarsveld sê hy het die heeltyd gehoop dat sy stem weer sou reg wees teen die tyd dat Afrikaans is Groot aanbreek, maar dit het net nie vir hom uitgewerk nie.

Die “Spieëltjie”-sanger sê hy het uiteindelik die besluit geneem om nie meer by dié konsertreeks op te tree nie, nadat sy dokters gesê het dat dit die beste vir sy gesondheid sal wees.

Van Jaarsveld het die afgelope jare verskeie operasies aan sy stembande ondergaan nadat hy in 2016 poliepe op sy stembande laat verwyder het.

Demi Lee en Bobby tydens ‘n fotosessie vir Afrikaans is Groot (Foto: Instagram)

“Ek luister maar altyd wat die spesialiste aanbeveel, en hulle het aanbeveel dat ek nog ’n paar maande op stemrus moet bly om te verseker dat alles 100% sal wees wanneer ek weer op die verhoog klim.”

Van Jaarsveld sê hy sal ongelukkig ook nie vanjaar se Afrikaans is Groot-konserte kan bywoon nie, omdat hy vir ʼn mantelvliesbreuk geopereer sal word en daarom vir ses weke buite aksie is.

Van Jaarsveld het wel reeds ʼn tyd gelede al ʼn liedjie saam met Demi Lee Moore opgeneem wat op die saamgestelde album AIG Volume 13 sal verskyn.

Van Jaarsveld sê dit was lekker om saam met Moore te werk en dat hulle baie goed oor die weg kom.

Moore sê dié liedjie wat hulle saamsing, is ʼn tipiese liefdesliedjie en dat sy bly is sy kan dit saam met Bobby sing. Sy vertel dat dit ook haar eerste langarm-liedjie sal wees wat sy uitbring.

Demi Lee Moore (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

“Ek het vir Bobby ontmoet toe ek so 16 jaar oud was, en hy was ook aan die begin van sy loopbaan, so ons stap al ʼn lang pad saam. Dit voel amper soos ʼn full circle-oomblik om saam met hom ʼn liedjie te sing,” sê Moore.

“Ongelukkig kan Bobby nie op die oomblik sing nie, so ons kan nie die liedjie met ʼn optrede sing nie, maar gelukkig is dit op die album.”

Afrikaans is Groot 2019 vind op 22 November om 19:30, 23 November om 13:00 en 19:30, 24 November om 13:00, 28 November om 19:30, 29 November om 19:30, 30 November om 13:00 en 19:30 en 1 Desember om 13:00 by die Sun Arena by Time Square in Pretoria plaas.

Enkele kaartjies vir die konsert op Donderdag 28 November is nog beskikbaar. Besoek gerus Computicket, aanlyn of Shoprite/Checkers en House & Home-winkels. Die publiek word gewaarsku om versigtig te wees vir derdepartye wat kaartjies aanbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

hercu ·

sterkte Bobby, ek ken die moeilikgeit van stembande wat oppak!! ek bid vir jou met hees stem en al! :-)

JohanR ·

Ja Demi my flankeer tyd is lankal verby, maar as ek net soe 40 jaar jonger was…..

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.