Bobby vier dekade in musiekbedryf

Bobby-van-Jaarsveld-10-jaar

Bobby van Jaarsveld se “Die eerste 10 jaar” album. Foto: Facebook.

Dit is nou al tien jaar sedert die musiekbedryf vir die eerste keer kennis geneem het van ʼn matriekleerling aan die Hoërskool Brits. Intussen het Bobby van Jaarsveld een van ons land se voorste Afrikaanse kunstenaars geword.

“Ek is tien wonderlike jare geleen”, sê Bobby van hierdie mylpaal. “ʼn Mens tel nie noodwendig elke jaar nie, en dan, op ʼn dag, besef jy dat jy al tien jaar lank doen waarvoor jy lief is.”

Ter viering  van sy dekade in die bedryf het hy pas ʼn trefferversameling, Die eerste 10 jaar, uitgereik. Hierdie versameling bevat al sy treffers asook ʼn aantal nuwe snitte.

“Middernagserenade” is die nuwe enkelsnit, en is ʼn komposisie van Johan Vorster. Hierdie snit het reeds tot ʼn paar trefferslyste toegetree.

“Ek wou nog altyd iets in Engels doen, en ek is veral opgewonde oor ‘It’s Always Been You’, wat ek saam met André Scheepers geskryf het,” vertel hy. Bobby het ook besluit om ʼn nuwe verwerking van “Boemelaar”, een van sy gunsteling-snitte, in te sluit. So het hy eweneens besluit om “Só klink ʼn hart”, wat ʼn treffer vir Eden was, vir hierdie album op te neem.

Dié gewilde sanger het in sy loopbaan al 32 toekennings verower wat gewildste manskunstenaar en album van die jaar insluit. Volgens hom bly dit ʼn voorreg om daagliks sy passie vir musiek uit te leef.  “Toe ek op 18-jarige ouderdom my eerste album uitgereik het, het mense my gewaarsku om nie ʼn mededingende bedryf op só ʼn jong ouderdom aan te pak nie, maar vandag is ek bly ek het op daardie ouderdom begin,” vertel hy.

As ʼn mens hom vra watter snitte sy gunstelinge is, lag hy net. “Dis moeilik om te kies,” sê hy. “Dit is soos om ʼn pa te vra watter van sy kinders sy gunsteling is.”

Hy erken egter dat liedjies soos “Spieëltjie”, “My lewe draai om jou” en “ʼn Vrou wil dit hoor” baie vir sy loopbaan beteken het.

Daar is ook die musiek van verskeie ander bekende kunstenaars op die album. “Eens in ʼn leeftyd” was ʼn groot treffer vir hom en Riana Nel, terwyl Eden “Butterflies” saam met hom gesing het. Daar is ook twee treffersnitte uit rolprente waarin hy as akteur te sien was. Hy het teenoor Lika Berning, Regardt van den Bergh se dogter, in Liefling gespeel, en hulle het “My lewe draai om jou” saam in dié rolprent gesing. Daarna was hy saam met Leah te sien in As jy sing. Hulle het “Ek moes jou gesoen het” saam opgeneem, en dié snit is ook by hierdie versameling ingesluit.

Bobby bedank elke liefhebber van Afrikaanse musiek vir hul ondersteuning die afgelope dekade en erken dat sy sukses nie sonder hulle moontlik sou wees nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.