Bobby weer onder die lem

Bobby van Jaarsveld (Foto: Facebook)

Die Afrikaanse sanger en The Voice-beoordelaar Bobby van Jaarsveld sterk in die hospitaal aan nadat hy Donderdag ʼn suksesvolle operasie aan sy stembande ondergaan het.

Ronel Brink, die sanger se bestuurder en ma, het dié nuus aan Maroela Media bevestig.

Volgens Brink het die operasie goed verloop en sterk die sanger tans in die hospitaal aan. Sy sê dié operasie is juis gedoen om ʼn regstelling aan sy stembande te maak en sal nie sy stem negatief beïnvloed nie.

“Daar is geen langdurige of negatiewe uitwerking op hom nie,” het sy gesê. “Hy gaan beslis oukei wees en sy stem word in geen mate deur die operasie beïnvloed nie.”

Van Jaarsveld was veronderstel om verlede week die operasie te ondergaan, maar het op sosiale media gesê dit is uitgestel “weens komplikasies”.

Hy het ook aan Martin Bester en Tumi Morake, aanbieders van JacaradaFM se ontbytprogram, gesê dié operasie gaan glo “rowwer” wees omdat die dokters sy “keel basies moet oopsny”.

Die sanger het gesê hy beplan om ná die operasie ʼn bietjie van die radar te verdwyn om te rus. “Mens moet soms maar ʼn bietjie tyd afneem om te rus, elke mens het dit nodig,” het hy vertel.

Van Jaarsveld het in Oktober en Februarie verlede jaar soortgelyke operasies aan sy stembande ondergaan. Sy jongste enkelsnit, “Net ʼn man”, en die musiekvideo van dié liedjie word binnekort vrygestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Santie ·

Rus jou stem nou goed Bobbie. ‘n Mens se stem werk oor die algemeen feitlik heel dag, maar ‘n sanger, predikant, en baie ander sprekers s’n, werk baie harder. Ek weet dit is moeilik in die begin, wat jy kan eintlik net fluister. Die kinders en honde juig, want pa mag nie raas nie! Dit het ek gesien toe my seun se stem ook “oorwerk” was.

Pieter ·

Nou wat van Afrikaans is Groot einde Nov. Het duiende spandeer vir kaartjies ? Nou gaan hy van die toneel verdwyn om te rus. Dis hoekom hulle nie solank voor die tyd kaartjie verkope toe te laat.

G ·

Pieter, jy het heelwaarskynlik nie die kaartjies gekoop om NET vir hom te gaan kyk nie. Geniet maar die res van die sangers, en gun hom sy ruskans. Hy is immers geopereer.

Leeu ·

Dit gebeur as mens so lief vir mens se eie stem is. Dié is beslis nie van vertonings nie.

Bobby-fan ·

Hoop jy word gou gesond Bobby!! ek dink vroulief en die kinders is bly pappa saline ‘hard’ kan praat OF raas nie …. (grappie). Hierdie ou tannie is mal oor jou musiek en die skoon lewe wat jy lei. God bless!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.