Boere-oempa- Die Teelepeltjies

Boere-oempaHoewel Boeremusiek deur die meeste mense beskou word as ‘n musiekvorm wat besig is om uit te sterf, is daar ‘n aantal jong orkeste wat probeer om dit lewendig te hou.
Een van hierdie orkeste is Die Teelepeltjies, wie se vyfde album, Boere-oempa, vroeër vanjaar vrygestel is. Die groep bestaan uit Christiaan Ras op die trekklavier, Hendrik Ras op tromme, Jason Joubert op baskitaar, Rohan Booysen op ritmekitaar en Lucky Enbgelbrecht op klawerbord. Die titelsnit is ‘n nuwe komposisie deur Christiaan, wat ook betrokke was by die tegniese aspekte van die album. Op hierdie snit klink hulle meer na die Klipwerf-Orkes as na ‘n ware Boereorkes, omdat die klawerbord die hoofinstrument daarop is. Bielie van die Bosveld is eintlik Die Bosveldbul, wat ‘n treffer vir oom Chris Blignaut was en in die nuwe FAK-sangbundel ingesluit is. Vaaljapie-vastrap is nog ‘n nuwe komposisie van Christiaan en dit sal die dansvloere gou vol kry. Groen koringlande is nie ‘n tradisionele komposisie soo wat op die album-omslag aangedui word nie; die bekende multi-instrumentalis Flippie van Vuuren het dit gekomponeer en hy verdien erkenning daarvoor. Lekker ou Jan is geskryf deur Tant Grietjie van Garies, wat verlede jaar oorlede is, en weer eens nie ‘n tradisionele komposisie nie. Die Teelepeltjies se weergawe verskil nie veel van dié van die Klipwerf-Orkes nie. Lelanie se plaaskombuis is egter ‘n oorspronklike komposisie wat bewys dat hul oorspronklike komposisies ‘n sterker indruk maak as hul opnames van bekende snitte.
Bosveld-vastrap en Parstyd in Germany (hoekom nie Duitsland nie?) is nog twee oorspronklike komposisies. Die Duitse vlag pryk aan die binnekant van die CD-omslag, maar nugter weet hoekom. Geelperskereën is gekomponeer deur Anton Goosen, wat dit ook gesing het. Hoekom kon hulle nie maar hom erkenning as komponis gegee het nie? Hou jou roksak toe is een van daardie tradisionele liedjies waarvan die oorsprong onbekend is; dit word gereeld deur die meeste Boere-orkeste gespeel. Oom Rassie se plaas is die laaste nuwe komposisie op die album, en weer eens een van die beter snitte. Die laaste snit op die album is Ma sê Pa sê, wat deur Thys die Bosveldklong gesing is, en waarvan die woorde, sover ek weet, mondelings oorgelewer is. Daarom kan dit as ‘n tradisionele liedjie beskou word.
Met Boere-Oempa het Die Teelepeltjies vorendag gekom met ‘n album wat uiteenlopende reaksie gaan uitlok. Die Boeremusiek-puriste (waarvan ek een is) sal niks hou van die feit dat daar nêrens op die album ‘n konsertina voorkom nie, en dat die klawerbord so sterk na vore kom op die meeste snitte. Vir die mense wat na lekker dansmusiek soek, sal dit egter nie saakmaak nie; hulle sal die album geniet, maak nie saak wat enigiemand dink nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Geen kommentaar

lucky ·

Hi almal by marula musiek. Ek is vreeslik jammer oor die tradisionele verwysings op die album. Ons her nagevors oor die snitte en dis die inligting wat ons gekry her. Vra weereens onverskoning ons sou nie so iets opsetlik down nie. Ons eer alle musiekante en ons speel musiek vir die genot daarvan en nie vir enige mededingende reedes nie. Die duitse , oempa is n duitse dans en baie van die snitte her n oempa ritme. Verder se ek vir jul dankie vir die resensie diit word wardeur.

Lucky
Die Teelepeltjies

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.