Boeremusiek-piekniekkonsert by die Taalmonument-tuinteater

Die Wingerdstompies

Die Wingerdstompies

‘n Video-opname van die Wingerdstompies verskyn onderaan die berig. ’n Groot boeremusiek-opskop word op Saterdag 25 Januarie as deel van die Somerpiekniekreeks by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl gehou. Dié piekniekreeks word ten bate van die Laat ons Lees!-voorleesprojek vir kinders aangebied.

Drie gewilde orkeste, die Kaapland Boere Orkes, die Namakwalanders en die Wingerdstompies, sal piekniekgangers vanaf 17:00 tot 23:00 vermaak.

Die Kaapland Boere Orkes is in 2012 begin deur Daantjie Kotze, wat voorheen vir die Sandvelders gespeel het. Die orkeslede kom van Kaapstad en die Boland en is lede van die Wes-Kaapse tak van die Tradisionele Boeremusiek Klub van Suid Afrika. Die orkes speel slegs tradisionele boeremusiek in die tradisionele styl, en slegs met akoestiese instrumente, sonder slaginstrumente soos dromme of ‘n elektroniese klawerbord.

Die orkeslede is Daantjie Kotze (leier) op 3-ry Wheatstone-konsertina, boerekonsertina, kitaar en mondfluit; Rejean Viljoen (voorheen van Oudag Boereorkes) op 3 en 3/4-ry Wheatstone-konsertina, boerekonsertina en kitaar;
Christo Wiese (voorheen van die Sandvelders) op trekklavier; Wynand Smit (voorheen van Oudag Boereorkes) op kitaar; Ernest Geel op kitaar; Rolenda Heystek op banjo en Janus Heystek op akoestiese bas.

‘n Hoogtepunt op die program is die Namakwalanders, onder leiding van Willie Nelson, wat van Springbok se wêreld kom. Hulle is ook lede van die Wes-Kaapse tak van die Tradisionele Boeremusiek-klub.

Die Wingerdstompies is lede van die Boeremusiekgilde en speel in die moderne styl. Die orkeslede kom van Bellville en is almal nog op skool of pas klaar met skool. Hulle word afgerig deur Tobias Keyser, asook deur Mariaan Wiese van die Kaapse Affodille.

Die vertoning vind plaas in die Tuinteater – ‘n kleinboetie van die bekende Paarl Amfiteater – op die grasperk reg aan die voet van die monument. Besoekers is welkom om hul eie wyn en piekniekmandjie saam te bring of een by Volksmond Koffiewinkel te bestel (tel. 021 863 2800). Koffie, ligte verversings, wyn en bier sal te koop wees.

Kaartjies is vooraf te koop teen R50 vir volwassenes en R10 vir kinders onder 18 jaar (by www.paarlpost.co.za en by die Taalmonument). ’n Beperkte aantal kaartjies is ook by die hek te koop teen R60 vir volwassenes en R20 vir kinders onder 18 jaar. Bring ’n kombers of kussing en warm klere saam. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Geen honde of vure word toegelaat nie.

WEN: Een gelukkige leser kan ‘n dubbelkaartjie na die Boeremusiek-piekniek wen! Stuur net jou besonderhede na [email protected] en vertel ons waarom jy graag dié geleentheid wil bywoon! (Die wenner is verantwoordelik vir sy eie vervoer, etes en enige ander kostes wat aangegaan word om die geleentheid by te woon.)

‘n Piekniekkonsert vind ook plaas op 8 Februarie (Elvis Blue). Vir verdere inligting, skakel 021 863 4809/0543 of besoek die Taalmonument se webwerf en Facebook-blad.

Met trots ondersteun deur KykNET en Kie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alida Müller ·

Baie baie dankie vir mynwen kaartjies!!! Is verskriklik opgewonde!!! Nou kan ons my man se 50 ste vernaardag van die 26 ste sommer met ‘n groot afskop begroet!!! Nogmaals dankie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.