Boeremusiek se prof. Langpiet sterf

Prof. Langpiet de Villiers. (Foto: Skermgreep uit video)

Prof. Langpiet de Villiers, die bekroonde konsertinakenner en bekende in Boeremusiekkringe, is Saterdag oorlede. Hy was 86 jaar oud.

De Villiers was veral bekend as konsertinakenner en speler vir die destydse musiekgroep Die Landstem Boereorkes. Hy het in 1958 deel geword van dié orkes nadat Boeremusieklegende Freddie Rheeder hom oortuig het om by sy groep aan te sluit.

Hulle het onder meer agtergrondmusiek vir die radiodramareeks Caltex Kaskenades verskaf. Rheeder is in 2014 in die ouderdom van 78 oorlede.

Volgens Piet Makwas, radio-omroeper van Radio Overberg op Bredasdorp in die Wes-Kaap, speel hy gereeld De Villiers en Rheeder se musiek tydens sy Boeremusiekprogram.

“Prof. Langpiet en Freddie Rheeder is ongetwyfeld van ons luisteraars se gunstelingmusikante, veral van tradisionele Boeremusiek,” het Makwas aan Maroela Media gesê.

Die Landstem Boereorkes het ook verskeie 78-spoed- en langspeelplate opgeneem en oor die hele land opgetree. In 1958 het hulle vir Penny Coelen begelei tydens haar bekendstelling as die nuutgekroonde Mej. Suid-Afrika. Sy het in dieselfde jaar ook die Mej. Wêreld-titel verower.

De Villiers is op 5 April 1935 op Krantz in die Van Rhynsdorp-distrik gebore en het op Graafwater tussen Lambertsbaai en Clanwilliam skoolgegaan waar hy in 1953 matriek behaal het.

Die naam Langpiet is sy verhoognaam wat aan hom gegee is vanweë sy lengte – in die ou taal ses voet ses duim.

Sy musiekloopbaan het begin toe ʼn vriend ʼn konsertina op ʼn veiling vir £10 gekoop het. Hy het die konsertina opgetel en kon binne ʼn kort tydjie die inleiding van “Suikerbossie” speel.

In 1955 het hy die Sandveld-boereorkes gestig, waarvan al die lede jonger as 20 jaar oud was. Kort daarna het hy by Willem de la Querra se Waenhuis-orkes aangesluit, wat verskeie direkte uitsendings vanaf die SAUK se ateljee in Seepunt gedoen het.

De Villiers was ook aanbieder van die televisiereeks Langpad – Op soek na Klawa Viljee. Hy het ook die program se temalied, “Klawa se vastrap”, gekomponeer. In die program het hy talle musikante aan huis besoek en gesprekke oor style, instrumente en Boeremusiek in die algemeen gevoer.

Tussen 1965 en 1972 verwerf hy ʼn BA-, honneurs- en MA-graad aan die Universiteit van Pretoria en raak in daardie tydperk nie aan ʼn konsertina nie. In 1978 stig hy egter saam met dr. Rudolph Brits, prof. Humpfrey du Randt, Leon Kok en Stephan le Roux die musiekgroep Akademieks.

Hy toer in 2001 saam met die Afrikaanse Volksang-en-Volkspelebeweging deur Holland, België en Engeland, waar hy die volkspelegroep met die konsertina begelei.

In 2002 toer hy weer saam met dieselfde groep na die VSA waar hulle aan die jaarlikse internasionale volksdansfees deelneem. Die groep het aan die einde van die toer die nommertjie “Ver van die huis” geskryf.

In 1998 en 2001 ontvang De Villiers toekennings van onderskeidelik die Afrikaanse Kultuurraad van Port Elizabeth en die ATKV Centurion vir sy bydrae tot die bevordering van Boeremusiek. Op 16 Maart 2005 word hy deur die ATKV tot Afrikoon verklaar vir die bevordering van die konsertina.

Die gewilde Boeremusiek-blad op Facebook, Dis nou Boeremusiek, het hulde aan De Villiers gebring met ʼn video-opname waarin hy een van sy bekroonde komposisies, “Uppie-setees”, uitvoer.

Tinus Esterhuizen, musiekkenner en oudversorger van die Konsertina Klub-program op RSG, sê die musieklandskap het ʼn “legende van tradisionele Boeremusiek” verloor.

“Hy was ʼn baie goeie komponis en vertolker en hy het die pompie [konsertina] lewendig gehou. Lank leef prof. Langpiet!” het Esterhuizen gesê.

De Villiers word Woensdag 10 Februarie om 11:00 vanuit die NG kerk Somerstrand in Port Elizabeth begrawe. Die begrafnisdiens sal ook regstreeks via YouTube uitgesaai word.

Sy familie het mense uitgenooi om boodskappe van medelye op dié platform te plaas. “Dankie vir al die pragtige boodskappe wat reeds ontvang is en al die morele ondersteuning. Dit word opreg waardeer,” het die De Villiers-familie gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.