Bok vier dekade in musiekbedryf

bok van blerk1

Bok van Blerk. Foto: Facebook via Bok van Blerk

Dit is nou al tien jaar sedert die Afrikaanse musiekbedryf vir die eerste keer van Bok van Blerk kennis geneem het.

Louis Pepler (Bok se regte naam) is op 30 Maart 1978 in Pretoria gebore en het aan die Hoërskool Die Wilgers gematrikuleer. Hy het boubestuur studeer en in die konstruksiebedryf gewerk. Hy en Sean Else was saam op skool en nadat Sean Mozi Records gestig het, was hy en Bok saam op ʼn bootreis. Bok was in graad 8 toe Sean in matriek was en op dié bootreis het Bok aan Sean genoem dat hy musiek maak. Sean het Bok gevra of hy daarin sou belangstel om ʼn CD op te neem en Bok het die geleentheid met albei hande aangegryp. Bok van Blerk en die Mossies se eerste album, Jy praat nog steeds my taal, is in Maart 2006 vrygestel.

Een van die lede van dié groep was die bekende model, Tanya van Graan, wat self al ʼn CD of twee vrygestel het. Sy het egter besluit om op haar modelwerk te konsentreer en die groep verlaat. Toe besluit Bok om op sy eie aan te gaan en dié album is in Oktober daardie jaar heruitgereik onder die titel De la Rey. Die titelsnit het dadelik ʼn treffer geword en die hele volk laat saamsing. Daar was egter ook dadelik omstredenheid, omdat dit uiters gewild onder regsgesinde groepe geword het. Baie mense het die ou Suid-Afrikaanse landsvlag of selfs die Transvaalse Vierkleur rondgeswaai terwyl hulle dit gesing het, veral tydens rugbywedstryde op Loftus Versfeld. Die destydse minister van kuns en kultuur, dr. Pallo Jordan, het ook tot die debat toegetree en gesê dis jammer dat ʼn onskuldige liedjie gebruik is om verraad te pleeg. Die album het egter ook ander treffers opgelewer, onder meer “Vodka en OJ”, “Lenteblomme”, “Jy praat nog steeds my taal” en “`68 Chevy”. Dit was ook een van die topverkoper-albums van 2007.

Die volgende jaar het die Springbok-rugbyspan die Wêreldbeker vir die tweede keer gewen. Bok het met Robbie Wessels saamgespan vir die treffer “Ons vir jou Suid-Afrika”, wat dadelik ʼn groot treffer geword het en soms in Die Voortrekkers tydens seremonies gebruik word. Bok se tweede album, Afrikanerhart, is in 2009 vrygestel. Benewens die titelsnit was “Tyd om te trek” die groot treffer. Nog ʼn treffersnit vanaf dié album was “Die kaplyn”. Bok was te jonk om militêre diensplig te verrig, maar hierin sing hy tog van ʼn soldaat wat tydens die grensoorlog gesneuwel het. Nog ʼn hoogtepunt was “Pa en seun” wat hy en Steve Hofmeyr saam gesing het. Bok se aanhangers moes net omtrent ʼn jaar wag vir sy volgende album, My kreet. Die titelsnit was weereens ʼn treffer, asook “ʼn Goeie man” en die pragtige snit “Anderkant die treinspoor”, waarop Nicky van die vrouegroep NKD saam met hom gesing het. Bok se vriendin Hanna Grobler, met wie hy later getroud is, het sy aanhangers lekker laat lag met die lirieke van “Tannie Tina van Wyk”.

Intussen het Bok ook besluit om sy lyf akteur te hou; hy is een van ʼn handjievol kunstenaars wat gewys het dat hulle kan sing en toneel speel. In Platteland was hy te sien saam met onder meer Steve Hofmeyr, Ivan Zimmerman en Lianie May. Sy tweede rolprent was Vrou soek boer, teenoor Lika Berning, wat ook in Liefling te sien was. Bok het egter gladnie in hierdie rolprent gesing nie. Sy derde rolprent was die treffer As jy sing, waarin Bobby van Jaarsveld, Robbie Wessels en Katlego Maboe saam met hom te sien was. Bok het egter gewys dat hy nie net in musiekrolprente tuishoort nie. In Leading lady het hy ʼn ernstiger rol vertolk, saam met internasionale akteurs soos Gil Bellows en Katie McGrath.

Hierna het Bok teruggekeer na musiek met die vrystelling van sy album Steek die vure aan in 2013. “Land van melk en heuning” was die eerste enkelsnit op dié album en hy en Robbie Wessels het weer saamgespan op “Ek en my vlerk”. Die ander treffersnitte was “Huil soos ʼn man”, wat hy ook in As jy sing gesing het, asook “Koue voete warm liefde”. Bok se mees onlangse album tot dusver was Sing Afrikaner sing. Dit was die eerste album waarop “Soutwater”, wat hy saam met Die Heuwels Fantasties vir die rolprent Leading lady opgeneem het, verskyn het. Bok het self erken dit was vir hom ietwat ongewoon. Bok is tans besig om groot sukses te behaal met die temalied uit die pas vrygestelde rolprent, Modder en bloed.

Bok is besig om aan ʼn televisiereeks, getiteld Van De la Rey tot nou te werk, terwyl sy gelyknamige trefferversameling later vanjaar sal verskyn. Benewens sy grootste treffers sal vier nuwe snitte ook op dié album verskyn. Hy beplan ook ʼn konserttoer en volgens gerugte gaan hy terugkeer na die plek in Hoedspruit waar hy “De la Rey” die heel eerste keer tydens ʼn optrede gesing het. Dit lyk asof Bok nog jare lank deel van die Afrikaanse musiekbedryf sal wees!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

david van niekeri ·

Ek het via die media verneem dat agbare minister het nooit ‘n dokters- of doktorsgraad verwerf nie. Synbaar was daar net so aangeneem omrede hy wel Universiteitsopleiding gehad het.
Tov die agbare minister en sy kommentaar. Gegewe dat hy van die ‘n anti-Atrikaner/ Boere groep kom, is dit volgens sy steunbasis.
In die 1920’s is Afrikaans, naas Nederlands en Engels, erken. Die Afrikaners het feesgevier op Stellenbosch oor die taal. Die regering van daardie dae was pro-Engels. Die Regering het die fees probeer stop en die Engelse pers het die fees uitgemaak as rassisties. Gegewe die tydvlak van De la Rey. Wat was die soortgelyke ommstandighede in Amerika, Noord en Suid, Australië met hul “blackline” in Van Diensland/ Tasmanië, Nieuw Zeeland en hul inheemse bevolking?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.