Bottomless Coffee Band op toer met jongste album

bottomless coffee bandDie Bottomless Coffee Band sorg al die afgelope paar jaar voortdurend vir opskudding in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en is terug met sy tweede vollengte-album, Anthelia.

Die album is reeds by die Oude Libertas-amfiteater in Kaapstad bekendgestel en kom eersdaags ook in Pretoria by die Atterbury-teater aan die beurt.

Die album bestaan uit 11 nuwe snitte waarvan nege in Engels en twee in Afrikaans is. “Die doel was om ʼn diverse album te maak, terwyl die essensie en integriteit van ons musiek steeds alles saambind,” sê die sangpaar Lourens en Esté Rabé.

Anthelia is ʼn kombinasie van folk-pop, rock en ook ballades met ʼn klassieke gevoel. “Hierdie album sal jou laat dans, glimlag, huil en sing, alles in die liedreis-baadjie van ons ervaring van die lewe,” sê hulle.

Die Bottomless Coffee Band het tot dusver ʼn gemiddeld van 150 vertonings per jaar uitgevoer en al in verskeie lande buite Suid-Afrika, waaronder Namibië, België, Nederland, Engeland en Skotland, opgetree. Die egpaar bespeel ook 12 instrumente tussen die twee van hulle tydens vertonings.

Esté en Lourens bespeel twaalf instrumente tussen die twee van hulle. (Foto: Verskaf)

Esté en Lourens bespeel twaalf instrumente tussen die twee van hulle. (Foto: Verskaf)

Lourens vertel dat sy instrumente vir hom absoluut noodsaaklik is vir kreatiewe uitdrukking. “Ek was agt jaar oud toe ek ʼn man trom sien speel het in ʼn fliek. Die volgende twee jaar was dit vir my ʼn obsessie om met tromritmes te eksperimenteer. Ek het my ouers mal gemaak en gedurig tromstelle gemaak uit my ma se kombuisware. Uiteindelik het my ouers ingegee en vir my ʼn tromstel vir my tiende verjaardag gekoop. Ek onthou hierdie dag steeds as my kosbaarste kindertyd-herinnering.”

Esté het ook al van ʼn baie jong ouderdom af geweet dat sy gebore is om musiek te maak. “Ek het in ʼn baie musikale huis grootgeword. My pa en susters het gereeld musiek gemaak. Ek was ʼn laatlammetjie en het my, toe ek klein was, op die klavierstoel neergeplak en self leer klavier speel, sommer so deur net te luister. Ek het kort daarna saamgespeel as my familie begin musiek maak; niks kon my meer vreugde verskaf nie. Ek het ook daarvan gehou om te sing.”

Anthelia is beskikbaar op iTunes en by uitgesoekte musiekhandelaars.

Toerdatums:

Atterbury-teater, Pretoria – Donderdag 19 April

Innie Skuur, Bloemfontein – Vrydag 20 April

Atmosvuur, Bethlehem – Saterdag 21 April

Butr Deli, Ermelo – Sondag 22 April

Toro, Potchefstroom – Woensdag 25 April

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.