Bouwer Bosch oor Loxton, Leandie en die lewe

Bouwer-Bosch

Bouwer Bosch. Foto: Facebook.

Bouwer Bosch is nou maar net een van daai mense – dit is altyd lekker om hom te sien. Hy gesels maklik en hoewel hy ʼn grapmaker van nature is, neem hy sy werk in die bedryf baie ernstig op.

Bouwer, wat aanvanklik bekendheid verwerf het as hoofsanger van die Afrikaanse Christelike rock-groep Die Straatligkinders, het sedertdien opgang gemaak in die bedryf en is nou te sien in die Deon Meyer-aksiefliek Jagveld.

“Dit is ʼn ongelooflike produksie om van deel te wees,” vertel Bouwer opgewonde. “Ek was nog nooit so lank in die Karoo nie. Ons was vir 30 dae by Deon se huis op Loxton. Dit is regtig een van die mooiste plekke in ons land. Ek weet altyd mense sê Jeffreysbaai is die mooiste of die Kaap is die mooiste, maar daar is net iets anders daaraan om deur sulke dorheid omring te word.”

Hy vertel dat nie een van die mense wat deel was van die produksie al ooit deur so ʼn lang verfilmingsproses gegaan het nie. “En die weersomstandighede was uitmergelend met die hitte en koue gekombineerd,” voeg hy by. “Dit was taai op ons as mens en as akteurs, maar dit het deurgesyfer na die karakters toe.”

Bouwer praat met groot lof en bewondering van Meyer as skrywer en rolprentregisseur. “Hy is een van die ongelooflikste mense om mee saam te werk, en hy is glad nie soos die karakters in sy boeke nie. Sy karakters is almal hierdie geharde ouens wat drink en vloek, en Deon is presies die teenoorgestelde. Hy het ook ʼn groot obsessie met tafeltennis, so ons het amper weekliks tafeltennistoernooie gehou en dit het amper die hoogtepunt van elke week geraak,” lag hy.

“Dit was baie lekker om stories te hoor soos Deon dit uit die vuis vertel. Hy het byvoorbeeld vertel hy en Theuns Eloff het vroeër jare uit Potchefstroom geglip om in die townships die kinders daar te gaan help met Engels en wiskunde. Hy het soveel goed vertel wat ʼn mens nooit sou verwag nie. Dit was inspirerend om hom as mens te leer ken,” sê Bouwer.

bouwer-jagveld

Bouwer as Jay in Jagveld. Foto: Instagram/Bouwer Bosch

Om die karakter van Jay te vertolk, was maklik en terselfdertyd moeilik, sê Bouwer. “Dié karakter is baie ernstig en donker en dit was vir my baie moeilik om nie die heeltyd te wil grappe maak en pret te hê nie. Jay is so anders as die ander karakters wat ek al vertolk het. Ek het tot dusver nog net komedie gedoen. Die feit dat die karakter min praat het baie gehelp,” lag hy. “Ek het ʼn vals haarstuk wat ek moes insit om ʼn “mullet” te maak en die grimeerkunstenaars het elke dag ʼn letsel op my wang gemaak, en hy het ʼn mes gehad. Al daai goed dra by om ʼn donker figuur te vertoon, maar hy het ook nie deur baie ontwikkeling gegaan nie.”

Bouwer en sy vrou, die aktrise en televisiepersoonlikheid Leandie du Randt Bosch, het vir die eerste keer formeel saam gewerk aan Jagveld. “Leandie se rol is baie meer intens as myne, so ek het haar baie ruimte gegee op stel om in karakter te kom en deur die emosies te gaan waardeur sy moes gaan, want haar karakter gaan deur mal goed in vergelyking met myne,” sê hy.

bouwer-en-bennie-vuil-wasgoed

Bouwer en Bennie Fourie op die stel van Vuil Wasgoed. Foto: Facebook/Vuil Wasgoed

In 2014 het Bouwer en skrywersvriend en akteur Bennie Fourie met die louere weggestap tydens die kykNET Silwerskermfees vir hul kortfliek Vuil wasgoed. “Nadat ons gewen het, het ons geld gekry om die teks te ontwikkel en Bennie het die laaste twee jaar aan die draaiboek gewerk,” vertel Bouwer. “Dis beslis die projek waarin ek al die meeste pret gehad het in my lewe. Ons het vir vyf weke daaraan geskiet, waarvan drie daarvan “night shoots” was, wat beteken jy skiet elke aand van 18:00 tot 06:00 die volgende oggend, en dit was rof! ʼn Mens sukkel om deur die dag te slaap omdat jou biologiese klok dit nie gewoond is nie, so jy raak verskriklik moeg en almal se gemoed was later gedemp, wat normaal is onder sulke omstandighede,” verduidelik hy.

Oor die vollengte fliek wat in Desember in teaters landwyd te sien sal wees, is hy baie opgewonde. “Ek weet almal sê dit van hulle eie flieks, maar daar was regtig nog nooit so ʼn fliek soos Vuil wasgoed in Afrikaans nie. Dit is belaai met soveel humor en die vriendskap tussen die twee hoofkarakters, Wim en Kevin, is so mooi en uniek. Ons almal ken romantiese komedies of pa-en-seun-flieks, maar ons ken nie regtig flieks wat eintlik net handel oor ʼn vriendskap nie. Dit is ook aksiebelaai, met baie skiettonele en jaagtogte in karre, en ons glo dit gaan die rolprentbedryf net weer ʼn paar treë vorentoe laat neem,” sê hy.

bouwer-en-leandie-vuil-wasgoed

Leandie en Bouwer op die stel van Vuil Wasgoed. Foto: Facebook/Vuil Wasgoed

“Leandie het ook ʼn rol in Vuil wasgoed en dis weer nie so groot nie, maar dit was lekker om saam te werk omdat ons albei so besig is, so ons beskou dit as ʼn voorreg wanneer ons saam kan werk. Elke projek is uitdagend op sy eie manier en elke keer wat ons saam werk leer ons iets van mekaar.”

Nie net hou hy sy lyf musikant en akteur nie, maar hy is ook die stigter van die niewinsgewende liefdadigheidsorganisasie Liefde Wen, wat items soos klere en pette verkoop om geld in te samel om verskillende liefdadigheidsprojekte mee aan te pak. “Ons het ʼn ongelooflike span mense wat die aanlynwinkel bestuur, en ons het ook nou ʼn nuwe winkel by Duncan Yard in Pretoria oopgemaak wat elke dag oop is. Die organisasie is baie na aan my hart en ek wens ek kon dit voltyds doen.

bouwer-liefde-wen

Foto: Facebook/Liefde Wen

“Die doel van Liefde Wen is nie om net geld in te samel en dan weer weg te gee nie. Ons probeer om saam met die mense wat ons help die geld te bestee sodat ons op hoogte kan bly van waar die geld heen gaan en om sodoende betrokke te bly. Ons het byvoorbeeld ʼn projek in die Transkei wat sportontwikkeling, spesifiek vir rugby, behels. In hierdie geval word die geld onder meer bestee om onderwysers deur ʼn basiese afrigterskursus te sit sodat hulle self die kinders kan afrig. Ons probeer ook om die rugbyvelde te ontwikkel waar die kinders kan speel. Ons glo deur sportontwikkeling kan kinders lewensdissipline ook aanleer. Daarom mik ons ook om die kinders te leer dat hulle nie aan die sport kan deelneem as hulle nie ook moeite doen om akademies te presteer nie,” verduidelik hy.

“Wat ek al geleer het in my kort tyd in die bedryf is dat bitter min mense in jou drome glo. Dit is die harde werklikheid,” sê hy. Vandaar die naam van sy nuwe album, Hopelik. “Dit gaan oor hoe baie kere ons wag vir ander goed om te gebeur en nie net ons droom in ons eie hande neem en dit maak werk nie. Ons sê altyd ‘hopelik sien iemand my raak’ of ‘hopelik kry ek die oudisie’ of ‘hopelik kry ek na skool die kans om oorsee te gaan’. As jy nie self daarin gaan glo en dit self gaan laat werk nie, is dit baie moeilik om uit te kom waar jy wil wees. Vat net jou eie droom en gaan woeker daarmee. Vandag is dit soveel makliker om raakgesien te word,” gee hy raad.

bouwer-hopelik“Jy het jou foon met ʼn kamera en ʼn mikrofoon, so jy kan video’s maak en dit op YouTube laai. Refenste is ʼn baie goeie voorbeeld van iemand wat so raakgesien is. Omring jouself met mense wat beter is as jy en by wie jy kan leer.”

Die nuutste enkelsnit is getiteld “Pleidooi” en is geskryf saam met Almero Welgemoed en William Loots. “Elke liedjie pak ʼn mens anders aan. Ek kan ʼn liedjie in die kar in die verkeer skryf. Ek put inspirasie uit die lewe en mense om my se stories. Gewoonlik skryf ek eers die musiek, en dan luister ek na die liedjie om woorde te vind wat daarby inpas. Ek het van die begin af so gewerk, van my Straatligkinders-dae al, waar die musiek vir my die storie vertel en dan pas ek die lirieke aan by daardie storie.

“As ek skryf onttrek ek nie myself en word een met die natuur en so aan nie. Ek is nie ʼn groot natuuraanhanger nie; ek het baie van Loxton gehou toe ons daar gewerk het, maar ek gaan definitief nie daar bly nie,” skerts hy.

Hopelik is beskikbaar op Deezer en iTunes, asook in alle groot musiekwinkels landswyd.

Hier is die splinternuwe video vir “Pleidooi”. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Afrikaanse Knaap ·

Ou Bouwer is ‘n lekker ou. Ek het baie tyd vir hom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.