Brendan Peyper deel dubbele goeie nuus

Brendan Peyper (Foto: Facebook)

Aprilmaand is die maand van goeie nuus vir die sanger Brendan Peyper: Eers het hy gehoor dat hy die hoofrol in ʼn nuwe Afrikaanse produksie losgeslaan het, en nou het Peyper se jongste album, Hy loop oop, ook pas goue status verwerf.

Lefra Produksies het vroeër bekend gemaak dat die sanger die ontslape rocker Buddy Holly in die produksie The Buddy Holly Story gaan vertolk.

Frans Swart, vervaardiger van die produksie, sê hy het reeds met die eerste ontmoeting geweet dat Peyper dié rocker se skoene sal kan vol staan. “Ek hou Brendan al vir ʼn geruime tyd dop, en dink hy is ongelooflik talentvol,” het hy vertel. “By die eerste fotosessie het ons ʼn bril met ʼn swart raam en ʼn kitaar vir hom gegee, en dit was asof ek Buddy Holly reg voor my sien staan het.”

Die sanger as Buddy Holly (Foto: Verskaf)

Die sanger vertel hy was uit die veld geslaan toe Swart vir hom die rol aangebied het. “Ek kon nie my ore glo toe Frans my gebel het en gevra het of ek die hoofrol in die produksie wil vertolk nie. Ek het nooit akteurswerk op die verhoog gedoen nie, en selfs nie eens geweet wie Buddy was nie. Toe ek eers besef het watter groot geleentheid dit is, het ek dadelik vir die geleentheid gespring. Musiek is werklik my alles – dit is my grootste hartsbegeerte om ander mense deur my musiek aan te raak.”

André Viljoen, bemarkingsbeampte vir Select Musiek, het bevestig dat daar reeds meer as 15 000 eksemplare van Hy loop oop verkoop is.

Die album bevat 17 liedjies waaronder “In silhoeëtte saam met my” – ʼn duet met Franja du Plessis. Twee bonussnitte, “Klim jou Everest” en “We Got Forever”, is ook onlangs uitgereik.

Peyper was onlangs as deelnemer in die agtste seisoen van Tropika Island of Treasure te sien. Hy was ook onder die top-12 van Cosmopolitan se sexyste mans.

The Buddy Holly Story is van 15 Mei tot 10 Junie by Emperors Palace te sien. Kaartjies is beskikbaar by Computicket. Laai Hy loop oop af op iTunes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Zettie ·

O jene hier kom nog ‘n mooi prestasie vir ‘n Bloemfontein-seun!!!! Baie geluk Brendan. Hou so aan jong.

Zettie ·

Nee Avokado, hy kom glad nie van Grey af nie. Wel vanaf ‘n baie goeie skool wat verseker met Grey kan kompeteer en nie eens so erg sportsgeoriënteerd is nie :)

Valerie ·

‘n Jong man met ‘n mooi hart (kyk wat het hy probeer doen vir sy oorlede vriend wat onlangs in die been geskiet is). Daar is maar maar bra min sulke manne in die wêreld oor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.